Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aktiewe terugvoer: Navorsingseminaar oor onderrig, leer en assessering
Outeur: Centre for Teaching and Learning (CTL)
Gepubliseer: 06/09/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) se onderriggenote en die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) het op 25 Augustus 2022 'n aanlyn navorsingseminaar vir die akademiese gemeenskap van die US aangebied. Die onderwerp was aktiewe terugvoer, d.w.s. waar studente hulle eie terugvoer skep.

Die aanbieders was prof David Nicol en Suzanne McCallum van die Adam Smith-bestuurskool aan die Universiteit van Glasgow. Nicol en McCallum is navorsingsmedewerkers oor die onderwerp en het hulle bevindinge al wyd gepubliseer.  

Die seminaar het gehandel oor die krag van vergelyking om studente van hulle eie, innerlike terugvoer bewus te maak en sodoende ook hulle wilsbesef (sense of agency) te ontwikkel. Wanneer studente terugvoerkommentaar van 'n dosent ontvang, word daar van hulle verwag om daardie kommentaar met hulle werk te vergelyk, en lei sodanige vergelyking (hopelik) tot nuwe begrip. Volgens hierdie benadering voorsien dosente dus kommentaar op studente se werk, en skep studente dan (innerlike) terugvoer. Maar gestel studente word gevra om hulle werk te vergelyk met ander inligting as dosente se terugvoer, soos met 'n handboek, video, diagram, vaktydskrifartikel, rubriek, of 'n kombinasie daarvan? Navorsing deur Nicol en McCallum toon dat wanneer studente doelbewus aangespoor word om dít te doen én om hulle innerlike terugvoer uitdruklik te maak (soos deur dit op skrif te stel), dit merkwaardige gevolge het. Hierdie metode verdiep en verbreed nie net studente se leer nie, maar ontwikkel veral ook hulle vermoë om hulle eie leer te reël – iets waarna die meeste hoëronderwysprogramme streef. Daarbenewens stel dit dosente in staat om terugvoer aan alle studente uit te brei sonder dat die dosent se werklas toeneem.

Nicol het seminaargangers aan die denke agter die metode bekend gestel, en McCallum het die praktiese implementering daarvan aan die hand van 'n aantal dissiplinêre voorbeelde gedemonstreer. Dit was duidelik dat wanneer studente hulle eie terugvoer skep, dit hulle in staat stel om hulle leer na nuwe kontekste oor te dra. Aktiewe terugvoer hou dus direk verband met leergerigte onderrig.

Deelnemers kon deur die hele seminaar met die aanbieders in gesprek tree en die moontlike toepassing van aktiewe terugvoer in hulle eie modules verken. Hulle is ook genooi om dié metode verder saam met Nicol en McCallum te ondersoek.

Verdere inligting oor onderskeidelik David Nicol en Suzanne McCallum is te kry by www.davidnicol.net en https://www.gla.ac.uk/schools/business/staff/suzannemccallum/.