Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-studente leer Ghana beter ken
Outeur: Mmanape Hlungwane
Gepubliseer: 04/09/2022

Die Sentrum vir Samewerking in Afrika (CCA) van Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal het drie US-studente die geleentheid gebied om op 30 Junie en 1 Julie 2022 aan die Universiteit van Ghana (UG) se somerskool getiteld Ghana to the World (GTW) deel te neem. UG is een van die US se omvattende bilaterale Afrikavennote.

Die GTW-program stel studente aan Ghana en Wes-Afrika bekend terwyl hulle aan prettige aktiwiteite op die UG-kampus deelneem. Die program vertel die verhaal van Wes-Afrika uit Ghana se oogpunt, bevorder begrip tussen kulture, en betrek studente van oor die hele wêreld by gesprekke oor Afrikagerigte kwessies.

Aktiwiteite is in drie kategorieë ingedeel: 'n keusemodule of navorsingsprojek om deelnemers aan die gesels te kry oor kwessies eie aan Afrika, vrywilligerwerk om studente aan die gemeenskapslewe in Ghana bekend te stel, en 'n kulturele ervaring met besoeke aan geskiedkundige terreine en toeriste-aantreklikhede. Vir die vrywilligerkomponent het die program vanjaar kragte saamgesnoer met ActionAid Ghana, 'n organisasie sonder winsoogmerk wat armoede wil verlig en sosiale geregtigheid en geslagsgelykheid in Ghana wil bevorder. GTW-deelnemers kon handjie bysit by 'n werksessie waar gemeenskapsleiers bygestaan is met raad oor hoe om geweld teen vroue en dogters in hulle onmiddellike omgewing stop te sit. Die studente het ook 'n spesiale Kinderparlementsitting bygewoon om die Internasionale Dag vir Kinders van Afrika te vier.

GTW-lesings het gehandel oor onderwerpe soos Afrikageskiedenis, die diaspora en Ghanese openbare gesondheidsorg, sowel as Twi-taalklasse. Vir ervaringsleer het die studente besoek afgelê by terreine van kulturele belang, waaronder die Assin Manso-slawerivier, waar hulle oor die berugte trans-Atlantiese slawehandel geleer het, en die Elmina-slawekasteel, wat een van die belangrikste punte op die slawehandelroete was.

Deelnemers het ook die bedrywige Makolamark en Kakum Nasionale Park besoek, die Ghanese hoofstad Accra verken en die plaaslike kos op die proef gestel.

“Ghana to the World was 'n prettige, verrykende en intellektueel stimulerende ervaring, en ek sal dit vir enigiemand aanbeveel," sê een van die US se deelnemers, Stefni van der Walt. “Die organiseerders het seker gemaak dat ons die Ghanese kultuur deur kos, dans en baie ander kosbare ervarings beleef, wat die besoek 'n onvergeetlike avontuur gemaak het!"

Vir verdere inligting oor ander somerprogramme waaraan die US deelneem, gaan na: http://www.sun.ac.za/english/SUInternational/current-students/attend-a-partner-summer-school.