Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USVroue: Dr Nyambura Mwagiru – “Beweeg stap vir stap nader aan jou drome"
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 31/08/2022

Dr Nyambura Mwagiru is die hoof van Tygerberg Internasionaal in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Om die Universiteit Stellenbosch (US) se internasionaliseringsmandaat te bevorder is 'n uitdagende, ingewikkelde en immer veranderende taak – een wat sy met vreugde aanpak.

As deel van die US se Vrouemaandvieringe, vertel Nyambura ons meer van haar werk en die leierseienskappe wat dit vereis.

Vertel ons meer van jou rol by die Universiteit Stellenbosch.

Ek is die hoof van Tygerberg Internasionaal, wat FGGW se departemente, afdelings en navorsingsentrums van internasionaliseringsteun en -skakeling voorsien. Ons fasiliteer ook internasionale mobiliteit en uitruilgeleenthede deur wêreldwyd met moontlike internasionale aansoekers en strategiese vennote te skakel. Ek werk sy aan sy met 'n ongelooflike span om die internasionaliseringsmandaat van die FGGW in opdrag van ons visedekaan van Navorsing en Internasionalisering en in samehang met US Internasionaal te bevorder.  

Die rol sluit in om FGGW se institusionele vennootskappe met buitelandse universiteite en organisasies te versterk, en om die suksesvolle toelating van internasionale kandidate te ondersteun sodat hulle aan ons innoverende kliniese én niekliniese navorsing- en opleidingsaktiwiteite op voor- en nagraadse vlak kan deelneem. 

Wat geniet jy die meeste van jou rol?

Wat ek die meeste geniet, is die geleentheid om FGGW se internasionaliseringstrategie met dié van die groter instelling te belyn. As 'n oorsigbestuurspraktisyn, geniet ek dit ook om met die FGGW Internasionaliseringskomitee te werk, wat as 'n waardevolle forum dien vir komiteelede om hulle internasionaliseringswerk in FGGW se departemente, afdelings en navorsingsentrums te bespreek.

Die rol behels 'n sterk klem op regulering en voldoening, so ek geniet dit om voortdurend te leer uit beleidsverwante interaksies met eksterne liggame soos die Suid-Afrikaanse Gesondheidsberoepsraad. Daarbenewens vind ek baat by voortdurende oorlegpleging met huidige en potensiële vennote wêreldwyd wat daarin belang stel om met die FGGW saam te werk. Dit is 'n tydsame proses, so dit is uiters bevredigend om te sien hoe hierdie werk uiteindelik tot nuwe in- en uitwaartse mobiliteitsgeleenthede vir studente en personeel lei.

Ek waardeer die interaksie met FGGW se onderrig-, professionele steun- en navorsingspersoneel, sowel as met ons internasionale studente. Laastens geniet ek dit ook om met my internasionaliseringskollegas saam te werk om ons interne prosesse te verbeter en die doeltreffendheid van ons dienste en belanghebbendeskakeling te verhoog.

Wat is volgens jou die belangrikste leierseienskappe wat jou werk vereis?

  • Om aanpasbaar en responsief te wees, want die eise van die rol verander voortdurend namate nuwe kwessies die toereikendheid van ons institusionele meganismes toets.
  • Geduld, en aandag aan besonderhede, veral om die beleide, prosesse en prosedures in die Tygerberg Internasionaal-, FGGW- en US-omgewing te verstaan.
  • Begrip vir verskillende sienings om veelvuldige belanghebbendes se belange in ag te neem en met optimale oplossings vorendag te kom wat vir alle betrokkenes werk én volhoubaar is.
  • Kreatiwiteit, ontvanklikheid vir nuwe idees, en 'n bereidheid om saam te werk. Dít sluit in die vermoë om te onderhandel en om gepaste forums te skep waar sienings, menings en insigte uitgeruil kan word.
  • ​En laastens ook 'n bewustheid van die internasionale klimaat en verantwoordelike en transformerende leierskap om 'n positiewe impak op internasionalisering by die US en FGGW te hê.

Leiersrolle is veeleisend. Wat hou jou gemotiveerd
?

Ek was nog altyd geseënd om oneindige ondersteuning van my familie te kon ontvang. My ouers het my geleer dat jy enigiets kan bereik waarop jy jou toelê. My motivering kom uit die wete dat daar geen perke is aan die verbeelding nie, en dat sukses in die lewe beslis haalbaar is as jy kennis intelligent toepas, met jou opvoeding as grondslag.

Institusionele ontwikkeling en verandering is dikwels tydsame prosesse, so ek het geleer om klein veranderinge te vier. Ek word ook pal gemotiveer deur die ongelooflike werkstempo en vordering van die Tygerberg Internasionaal-span, ondanks die veeleisende reguleringsomgewing waarin ons funksioneer. Dit is 'n voorreg om te sien hoe personeel opreg daarna streef om voortdurend in ons studente en personeel se behoeftes te voorsien.

FGGW ontvang die hele jaar deur internasionale besoekers. As ek hierdie hoë vlak van belangstelling in die US en FGGW sien, motiveer dit my om na nóg beter en doeltreffender maniere te soek om ons internasionaliseringswerk te ondersteun en uit te brei.

Ek word ook aangespoor deur die volgehoue bydraes van FGGW se personeel en studente wat daartoe verbind is om die Fakulteit se internasionaliseringswerk te bevorder.

Wat is jou boodskap aan die volgende generasie aspirantvroueleiers?

'n Reis van 'n duisend myl begin met 'n enkele tree. Beweeg stap vir stap nader aan jou drome, en die horisonne van toekomstige geleenthede sal altyd binne jou bereik wees.

Byt vas en moet nooit moed verloor nie, selfs al moet jy afwyk van die planne wat jy so sorgvuldig uitgewerk het. Die lewe hou aan ontvou, en daar is 'n klomp verskillende roetes om uiteindelik jou gekose en voorgenome bestemming te bereik.

Wees gemaklik met aanhoudende verandering. Die lewe bied verskeie waardevolle leergeleenthede as jy bereid is om uitdagings die hoof te bied. Moeilike tye lei sonder uitsondering tot groei, ontwikkeling en nuwe en beter vaardighede, en dit is hierdie vuurproewe wat ons leierskap vorm. ​​​

Fotograaf: Wilma Stassen