Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​#USVroue: Fiona van Kerwel – “Moet nooit ophou glo in die moontlikhede van die lewe nie"
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 25/08/2022

​As projekbestuurder van Woorde Open Wêrelde (WOW), 'n sosiale bemagtigingsinisiatief van die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees, lei Fiona van Kerwel ander om hulle horisonne te verbreed en hulle potensiaal te ontsluit. Om te sien watter verandering die verskillende WOW-inisiatiewe in mense se lewens teweegbring maak haar werk deur en deur die moeite werd, sê sy.

As deel van die US se Vrouemaandvieringe, vertel Fiona ons meer van haar werk en die leierseienskappe wat dit vereis.

Vertel ons meer van jou rol by die Universiteit Stellenbosch.

Ek is die projekbestuurder van WOW. Die inisiatief bevorder taalvaardighede, lees, geletterdheid en die kunste onder leerders en opvoeders in laer- en hoërskole, waaronder graad R's, met die klem op Afrikaans. Daarbenewens bevorder ons meertaligheid as deel van 'n nasionale spelfees vir leerders met Afrikaans en Xhosa as huistale en Engels as addisionele taal.

WOW is 'n uiters belangrike inisiatief en is gegrond op wetenskaplike navorsing wat bevind het dat taalvaardigheid bepalend is vir kinders se prestasie op alle ander vakgebiede, onder meer wiskunde. As projekbestuurder, moet ek sorg dat alle inisiatiewe wat ons onderneem met WOW se missie strook om horisonne te verbreed, potensiaal te ontdek en te ontwikkel, en mense te bemagtig.

Ek hou tans toesig oor 27 WOW-projekte wat ons op die vyf gebiede van leesverbetering, taalbemagtiging, studentewerwing, kultuurprojekte en professionele ontwikkeling geïmplementeer het. Die projekte word bestuur deur spankoördineerders en taakgroepe wat ook eksterne belanghebbendes soos onderwysers en sakelui insluit.

Wat geniet jy die meeste van jou rol?

WOW skep geleenthede vir alle betrokkenes om dinge te verken wat verwyderd is van hulle daaglikse ervarings, en stel mense in staat om hulle potensiaal en talente te ontdek en te ontwikkel. Dit help mense besef dat jy deur harde werk en toewyding 'n positiewe verandering in jouself én jou gemeenskap kan teweegbring. Wat my werk besonder bevredigend maak, is om te kan ervaar watter verandering WOW in mense se lewens tot gevolg het.

Ek geniet dit ook om met 'n dinamiese, entoesiastiese en energieke span saam te werk.

Wat is volgens jou die belangrikste leierseienskappe wat jou werk vereis?

Leierseienskappe soos 'n deernisvolle en toeganklike ingesteldheid, en beslis baie goeie mensevaardighede. As 'n leier, behoort jy diegene om jou te kan beïnvloed en 'n veilige ruimte te skep waar personeel en ander vrymoedig genoeg sal voel om idees en aksieplanne te bespreek, te implementeer en te ontwikkel. Jy moet 'n visionêr wees wat mense na hulle drome kan lei, en jou span behoorlik kan afrig om vaardighede en kennis raak te sien en te ontwikkel. Aanpasbaarheid by verskillende omstandighede is ook noodsaaklik wanneer jy op die gebied van sosiale impak werk. En aangesien WOW 'n taalgerigte program is, moet jy ook kreatief en opvoedkundig met woorde kan omgaan.

Leiersrolle is veeleisend. Wat hou jou gemotiveerd?

Ek put motivering uit elkeen wat persoonlik ontwikkel danksy WOW. Dit inspireer my om nooit moed te verloor nie, maar altyd geleenthede te probeer skep vir ander om hulleself te verbeter.

Wanneer ek hoor van mense met 'n behoefte waarin ons kan voorsien, motiveer dit my om so ver moontlik by te dra om 'n goeie uitkoms te verseker. Trouens, die blote moontlikheid om ander mense hulle drome te kan help verwesenlik sal my altyd motiveer om beter te doen, harder te probeer en nooit tou op te gooi nie.

Wat is jou boodskap aan die volgende generasie aspirantvroueleiers?

Kom ons wees die verandering wat ons in die wêreld wil sien. As vroue, vervul ons soveel verskillende rolle, wat ons aanpasbaar en toeganklik maak.

Ons behoort ook te onthou dat die lewe 'n leerproses is. Werk hard, wees bereid om by ander te leer, gebruik ook jóú kennis en vaardighede om ander te leer, en onthou Madiba se woorde: “Die grootste glorie in die lewe is nie om nooit te val nie, maar om elke keer weer op te staan."

Moet nooit ooit ophou glo in die moontlikhede van die lewe nie, en wees dankbaar – daar's altyd iets om na uit te sien.

Kom ons leer ander die waarde van onderwys sodat toekomstige generasies altyd sal besef hoe belangrik dit is om hulleself op te voed. En onthou die waarde van stories, lees en begrip, en dat woorde ons 'n hele nuwe wêreld kan help ontdek en verken.​