Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
"Japan en Suid-Afrika: Die bou van ’n ware vennootskap"
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 23/08/2022

​Suid-Afrika en Japan het die potensiaal om hulle vennootskap tot 'n volgende vlak te voer, wat albei lande uiteindelik sal baat, sê Sy Eksellensie mnr Norio Maruyama, Japan se ambassadeur in Suid-Afrika.

Maruyama was 'n spreker by die onlangse bekendstelling van die Universiteit Stellenbosch–Japan-sentrum op Stellenbosch. Die doel van dié sentrum is om bande tussen Suid-Afrika en Japan te verstewig deur Japannese studie aan die US te bevorder en navorsing- en onderrigsamewerking tussen die twee lande aan te moedig deur bilaterale en multilaterale hoëronderwysnetwerke op alle vakgebiede. Boonop sal die sentrum opvoedkundige, kultuur- en sosiale geleenthede vir die algemene publiek aanbied.

 Die titel van Maruyama se aanbieding was “Japan en Suid-Afrika: Die bou van 'n ware vennootskap".

 Die diplomaat, wat Ekonomie aan die Universiteit van Tokio studeer het, het gesê daar is drie kernelemente waaraan Suid-Afrika en Japan moet aandag skenk indien hulle van gewone tot ware vennote wil vorder. Dié elemente is gemeenskaplike waardes en doelwitte, gebiede van gemeenskaplike belang, en geopolitieke faktore.

Gemeenskaplike waardes en doelwitte

Volgens Maruyama het Suid-Afrika en Japan heelwat algemene gemeenskaplike kwessies waaroor hulle as vennote in die internasionale arena moet beraadslaag, soos klimaatsverandering en wêreldbestuur. Nietemin is daar ook dringender sake wat hulle aandag verg.

“Ons moet konsentreer op kwessies soos rampverligting en die stryd teen seerowery, wat belangrik is vir ons nasies om te floreer in die oseaanekonomie. Die ontwikkeling van Afrika is óók belangrik en is iets waaraan Suid-Afrika en Japan reeds deur TICAD (die Tokio Internasionale Konferensie oor Afrika-ontwikkeling) saamwerk. Maar ons kan méér doen," het hy gesê.

 TICAD is 'n oop multilaterale konferensieraamwerk onder leiding van Japan, die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram, die Wêreldbank, en die Kommissie van die Afrika-unie. Dit skenk aandag aan noodsaaklike aspekte vir die volhoubare en omvattende ontwikkeling van Afrikalande, met die klem op Afrika-eienaarskap. Sedert die sewende TICAD-byeenkoms in 2019 is 23 000 mense opgelei in gesondheidsorg, 46 000 in die reg, polisiëring en sekuriteit, en het ses miljoen kinders onderrig van gehalte ontvang.

Gebiede van gemeenskaplike belang

As 'n verdere stap na 'n ware vennootskap tussen Suid-Afrika en Japan, moet die twee lande saamwerk op gebiede wat tot albei se voordeel kan strek, het die ambassadeur gesê.

 Wat algehele handel met Suid-Afrika betref, voer Japan heelwat van Suid-Afrika in (hoofsaaklik grondstowwe en kritieke minerale), maar is uitvoere na Suid-Afrika betreklik min (meestal motorvoertuigverwante produkte).

“Neem kritieke minerale as 'n voorbeeld," het Maruyama gesê. “Suid-Afrika is 'n toonaangewende produsent van palladium en dra 32% van wêreldwye produksie by. Palladium is 'n onmisbare kritieke mineraal: Sowat 60% van die plaaslike vraag na palladium in Japan is vir uitlaatgassuiwering. Platinumgroepe soos palladium word ook gebruik om die werkverrigting te verbeter van waterelektrolisetoerusting en waterstofbergingsmateriale, wat noodsaaklik is vir die benutting van waterstofenergie. "

 Oor infrastruktuur het Maruyama gesê Japan wil graag met Suid-Afrika saamwerk aan die konstruksie van 'n sneltrein tussen Durban en Johannesburg. Hy het die sneltreinprojek tussen Moembai en Ahmedabad in Indië as 'n voorbeeld voorgehou van 'n suksesvolle samewerking waarmee Japan in 2018 begin het. Hy het bygevoeg dat Japan ook bereid is om Suid-Afrika met die ontwikkeling van die Durbanse hawe by te staan, nes hulle die Mombasa-haweontwikkelingsprojek in Kenia ondersteun het. Die tweede fase van die Keniaanse projek het in 2015 'n aanvang geneem.

 Geopolitieke faktore

 Laastens het Maruyama gesê die twee lande moet saamwerk om regsoewereiniteit in 'n oop en vrye Indo-Pasifiese streek te bevorder en in stand te hou.

 “Die Indo-Pasifiese streek gaan gebuk onder verskeie uitdagings, waaronder seerowery, terreur, natuurrampe, en pogings om die status quo omver te werp. Japan wil graag vrede, stabiliteit en voorspoed bevorder en die ganse Indo-Pasifiese streek oop en vry maak deur reëlgebaseerde internasionale orde te handhaaf. Dít sluit in regsoewereiniteit, vrye see- en lugvaart, vreedsame geskilbeslegting en die bevordering van onbelemmerde handel. Japan sal met enige nasie saamwerk wat hierdie idee ondersteun," het hy bygevoeg.