Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrigting en mentorskap dra by tot entrepreneuriese selfdoeltreffendheid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 22/08/2022

Die eerste fase van 'n studie wat daarop gemik is om tot beter entrepreneurskap en entrepreneuriese ontwikkelingspraktyk en -teorie by te dra, is tydens die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se onlangse navorsingsdagsimposium bekendgestel.

Die doel van die simposium was om die Fakulteit se toenemende navorsingskultuur ten toon te stel en te vier. Akademiese personeel, nadoktorale navorsers en PhD-kandidate van die Fakulteit is genooi om abstrakte in te dien vir mondelinge of plakkaat-aanbiedings.

Die navorsing van JP Cronjé van die Stellenbosch Bestuurskool ondersoek hoe die unieke en dinamiese eienskappe van afrigting en mentorskap geïntegreer kan word om tot die ontwikkeling  van entrepreneuriese selfdoeltreffendheid (entrepreneurial self-dfficacy) van die oorlewingsgedrewe entrepreneur by te dra tydens die vroeë stadium van entrepreneurskap.

Entrepreneuriese selfdoeltreffendheid is 'n multidimensionele konsep wat gedefinieer kan word as 'n kombinasie van die entrepreneur se selfvertroue om sekere take te verrig, asook die vermoë om die vereiste sake- en gedragsvaardighede te ontwikkel om doeltreffend in die domein van entrepreneurskap te funksioneer. Dit kan ontwikkel word en daar is bevind dat beide afrigting en mentorskap dit voorafgaan. Daar bestaan egter geen teoreties-ondersteunde geïntegreerde ontwikkelingsraamwerk vir afrigters en mentors wat tot die entrepreneuriese selfdoeltreffendheidsontwikkeling van die oorlewingsgedrewe entrepreneur in die vroeë stadiums van entrepreneurskap kan bydra nie.

Volgens Cronjé dwing Suid-Afrika se haglike ekonomiese toestande, wat vererger is deur Covid-19 en 'n gebrek aan geleenthede, mense dikwels om entrepreneurskap te kies om te oorleef. “Ons vind dat hierdie mense dikwels laer vlakke van selfvertroue het as gevolg van hul gebrek aan kwalifikasies en ervaring. Hulle het ook dikwels vorige mislukkings ervaar. Selfdoeltreffendheid kan uiteraard selfvertroue ontwikkel by entrepreneurs wat veral belangrik is in die vroeë stadiums van 'n onderneming. Hul dilemma beklemtoon die behoefte aan ontwikkelingsintervensies wat hulle as entrepreneurs kan toerus.

“Dit bied die geleentheid om vas te stel hoe ons die bydrae van afrigters en mentors tot die ontwikkeling van entrepreneurs kan verbeter. Die doel van die studie is dus om die verskillende bydraes van afrigting en mentorskap te ondersoek ten einde 'n geïntegreerde afrigtings- en mentorskapbenadering tot die ontwikkeling van 'n spesifieke konsep te ontwikkel."

Die studie is gedurende Covid-19 in 2021 van stapel gestuur en het die ervarings van 12 oorlewingsgedrewe entrepreneurs en nege afrigters en mentors – wat oorlewingsgedrewe entrepreneurs gedurende die vroeë stadiums van entrepreneurskap bystaan – onder die vergrootglas geplaas.

Die bevindings het getoon dat afrigting hoofsaaklik tot 'n fasiliterende, konseptueel verkennende benadering bydra wat op sy beurt tot gedragsbevoegdheid bydra deur die aktivering van regulatoriese prosesse. Daarenteen volg mentorskap 'n benadering wat meer voorskriftelik is en op die deel van kennis berus. Dit dra hoofsaaklik by tot die ontwikkeling van bestuurs- en ander vaardighede, terwyl dit prosesse soos ondernemingsbestuur en vaardigheidsontwikkeling aktiveer.

Cronjé sê hy beoog om die unieke eienskappe van die afrigtings- en mentorskapraamwerke te integreer.

“Ek toets tans die konseptuele raamwerk en kyk hoe ek die prosesse in 'n enkele raamwerk kan integreer sodat afrigters en mentors dit kan gebruik wanneer hulle saam met entrepreneurs werk om entrepreneuriese selfdoeltreffendheid te ontwikkel."

Cronjé het bygevoeg dat die studie terselfdertyd 'n bydrae tot die kennis aangaande afrigting en mentorskap kan maak, asook die praktiese ontwikkeling van oorlewingsgedrewe entrepreneurs in Suid-Afrika en ontluikende markte in die vroeë stadiums van entrepreneurskap.

Hy is tans besig met die tweede fase van die studie.

JP Cronje pic.jpg