Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leksikograaf ontvang belangrike toekenning vir navorsing
Outeur: Departement Afrikaans en Nederlands
Gepubliseer: 12/08/2022

In 2021 het dr Lorna Hiles Morris haar PhD (Leksikografie) in die Departement voltooi, asook ʼn termyn as Consolidoc-genoot. Onlangs het sy die gesogte internasionale A.S. Hornby Woordeboektoekenning ontvang – ʼn bedrag van £15 000 vir ʼn tweejaarnavorsingsprojek oor elektroniese woordeboeke vir Suid-Afrikaanse skoolleerders.

Die doel van die A.S. Hornby Woordeboektoekenning is om oorspronklike navorsing te ondersteun wat gerig is op praktiese voordele vir leerders van Engels. Die beoordelaars van hierdie toekenning oorweeg jaarliks interessante en vernuwende voorstelle wat leksikografiese navorsing koppel aan die behoeftes van taalleerders. Dr Morris se navorsing volg uit haar PhD, waar sy artikels ontwerp het vir elektroniese skoolwoordeboeke wat spesifiek leerders ondersteun wat nie in hulle moedertaal studeer nie. Haar nuwe navorsing sal haar vorige ontwerp in skole en op elektroniese woordeboeke toepas. Positiewe uitkomste van hierdie navorsing kan ʼn wesenlik bydrae maak tot die ontwikkeling van ʼn draagbare apparaat vir Suid-Afrikaanse skole ter ondersteuning van geletterdheid in laerskole.

Die Departement is trots op dr Morris se prestasies en wens haar sukses toe in haar voortgesette navorsing.