Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skuilings help mishandelde vroue om nuut te begin
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/08/2022

Mens hoor feitlik elke dag nóg ʼn aaklige storie oor vroue wat iewers in Suid-Afrika aangerand, verkrag of vermoor is. Selfs gedurende Vrouemaand duur geslagsgebaseerde geweld (GGG) onverpoos voort.

Vir diegene wat GGG en veral geweld deur ʼn intieme maat (IMG) oorleef, bied skuilings vir mishandelde vroue ʼn veilige ruimte met hulpbronne en dienste wat hulle sal bemagtig om sulke verhoudings te beëindig en hul lewe te herbou.

Die gehalte en omvang van die hulpbronne en dienste wat vir hulle beskikbaar is, hang egter grootliks daarvan af of hierdie skuilings voldoende befondsing ontvang.

Só meen Leandri Minnie van Kaapstad wat onlangs haar meestersgraad in Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal het. Minnie het as deel van haar studie die voorsiening van hulpbronne en dienste by ʼn staatsgefinansierde skuiling met dié by ʼn privaat gefinansierde skuiling in Kaapstad vergelyk om die tasbare verskil tussen hulle rakende die bemagtiging van GGG- en IMG-slagoffers te verstaan. Sy het onderhoude met bestuurders en maatskaplike werkers by die twee skuilings gevoer en vroue wat daar bly, gevra om ʼn vraelys te voltooi oor hul persepsie van die dienste wat aan hulle gebied word.

Minnie sê die bestuurder en maatskaplike werker by die staatsgefinansierde skuiling het altwee gesê hulle moet aan vaste riglyne voldoen oor die lengte van verblyf van mishandelde vroue en hoeveel van hulle die skuiling jaarliks verlaat om in aanmerking vir staatsfinansiering te bly.

“Vroue word gewoonlik toegelaat om vir drie of vier maande te bly, tensy die maatskaplike werker redes vir ʼn uitsondering van hierdie reël kan aanvoer. Omdat hulle nie lank bly nie, verlaat talle vroue die skuiling sonder ʼn lewenstrategie wat hulle potensieel sou kon help om hul lewe te verbeter en verhinder dat hulle weer slagoffers word.

“Die bestuurder het genoem dat die meeste vroue in plakkershutte in iemand se agterplaas opeindig, omdat daar nie ʼn staatsgefinansierde program is wat hulle kan help om geskikte huisvesting of werk te kry nie.

“Weens onvoldoende finansiering en beperkings op die tydsduur van hul verblyf, sukkel hierdie skuilings om vroue sielkundig en finansieel te bemagtig."

Sy wys daarop dat die direksie van die privaat gefinansierde skuiling buigsame riglyne ingestel het wat vroue in staat stel om langer te bly.  

“Vroue bly gewoonlik by dié skuiling totdat hulle geskikte huisvesting en standvastige werk vind. Dit kan van drie tot ses maande wees, maar gedurende die piek van die Covid-19-pandemie en die gevolglike onvoorspelbaarheid van die arbeidsmark is hulle toegelaat om tussen agt maande en ʼn jaar lank te bly.  

“Vroue by die skuiling word ook finansieel ondersteun om ʼn deposito op ʼn woonstel of huis te betaal wat hulle wil huur."

Minnie voeg by dat die skuilings albei huisvesting, kos, toiletbenodigdhede en higiëneprodukte verskaf het, asook berading, ouerskapopleiding, vaardigheidsontwikkeling, indiensneming en regs- en mediese dienste.

“Die staatsgefinansierde skuiling verwys vroue gewoonlik na openbare hospitale, dwelmberadingsentrums en regshulpklinieke, terwyl die privaat gefinansierde skuiling private dokters, sielkundiges, psigiaters en regslui gebruik wat hul dienste oorwegend gratis aanbied.

“Terwyl eersgenoemde vroue toegang tot rekenaars bied om na werksgeleenthede te soek, hulle te help om ʼn curriculum vitae te skep of by te werk en hulle vir werksonderhoude voor te berei, gebruik laasgenoemde ʼn werwingsagentskap om vroue te help om werk te kry.

“Hierdie skuilings help vroue om hul selfwaarde en onafhanklikheid te herwin deur hulle die geleentheid te gee om te kies om nie terug te keer na die maat wat hulle mishandel het nie. Hulle help vroue deur berading om weer kontak met hul vriende en familie te maak, wat aan hulle ʼn ondersteuningstelsel bied om die oorgang na hul nuwe lewe te vergemaklik."

Minnie sê personeel by albei die skuilings het vertel hoe hulle voortdurend die vroue se saak namens hulle moet bepleit en met verpersoonlikte ingrypingstrategieë vorendag moet kom wat aan die behoeftes van elke oorlewende voldoen.

“Hulle probeer al die vroue na die beste van hul vermoë help, synde dit deur hulle na die polisiestasie te vergesel om ʼn beskermingsbevel te bekom of deur hulle te help om hul kinders se skoolgeld weens die verandering in hul omstandighede opgehef te kry."

Sy voeg by dat vroue by albei die skuilings die hulpbronne en dienste nuttig gevind het.  

Minnie doen ʼn beroep op die regering om die beperking op die tydsduur van verblyf van mishandelde vroue by die skuilings op te hef. “Die regering moet ook ʼn meer diverse Slagofferbemagtigingsprogram in werking stel wat hierdie vroue kan help om finansieel onafhanklik te raak en geskikte huisvesting te bekom om heeltemal te kan wegbreek van verhoudings waarin hulle mishandel word."