Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USVroue: Samantha Walbrugh-Parsadh – “Skep geleenthede waar ander struikelblokke sien”
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 12/08/2022

Deesdae kan geen land óf instelling meer in afsondering funksioneer nie. Daarom prioritiseer tersiêre instellings internasionalisering om hulle profiel en reputasie te bou, en die Universiteit Stellenbosch (US) is geen uitsondering nie. As hoof van Internasionale Sake by die Stellenbosch Bestuurskool, gebruik Samantha Walbrugh-Parsadh haar uitgebreide vaardighede om die Bestuurskool se internasionale studentegemeenskap én strategiese internasionale vennootskappe uit te bou. 

As deel van die US se Vrouemaandvieringe, vertel Samantha ons meer van haar werk en die leierseienskappe wat dit vereis.

Vertel ons meer van jou rol by die Universiteit Stellenbosch.

Die hoofdoel van my pos is om die strategiese rigting aan te dui vir internasionaliseringsinisiatiewe by die Stellenbosch Bestuurskool. Ek hou byvoorbeeld toesig oor strategieë vir die instandhouding en uitbreiding van ons internasionale studentegemeenskap en internasionale vennootskappe wat met ons akademiese projek strook, help internasionalisering by ons akademiese, administratiewe en steunwerksaamhede integreer, verseker belyning met die Bestuurskool se strategiese doelwitte, en bevorder 'n begrip van internasionalisering op alle vlakke van die Skool.

Wat geniet jy die meeste van jou rol?

Ek werk graag saam met my ongelooflike span om ons mandaat uit te voer, en ek geniet ook die ondersteuning en entoesiasme vir internasionalisering in die Stellenbosch Bestuurskool-gemeenskap, in ons fakulteit én op institusionele vlak. Boonop is ek dankbaar om mense van oor die hele wêreld te kan ontmoet, en ek waardeer die vriendskappe wat ek oor die jare kon opbou, die nuwe kulture wat ek al kon ervaar en die nuwe plekke wat ek kon sien. Daarbenewens is ek bevoorreg om internasionale geleenthede vir ons studente, akademici en professionele steunpersoneel en hulle eweknieë by ander bestuurskole te help skep en sodoende groei en ontwikkeling in die internasionale hoëronderwyssektor in die hand te werk.   

Wat is volgens jou die belangrikste leierseienskappe wat jou werk vereis?

Vir my is die belangrikste leierseienskappe empatie, nederigheid, passie, 'n selfbewussyn, eerlikheid, respek, kreatiwiteit, veerkragtigheid, kommunikasie, verantwoordbaarheid, integriteit, vertroue en visie.

Leiersrolle is veeleisend. Wat hou jou gemotiveerd?

Ek is passievol oor internasionale hoër onderwys, want dit het my eie lewe verander, so ek wil graag soortgelyke geleenthede vir ander skep. Ek het op hoërskool die geleentheid gehad om 'n derde taal aan te leer, en het toe ná matriek 'n jaar as uitruilstudent in Duitsland deurgebring. Die Duitse Akademiese Uitruildiens (DAAD) het my nagraadse studie gefinansier. Ek het ook die US as 'n Abe Bailey-genoot in Brittanje verteenwoordig en 'n jaar van my magisterstudie by die Universiteit van Salzburg in Oostenryk deurgebring as ontvanger van 'n Rotariër-ambassadeursbeurs.   

Wat my die meeste motiveer, is om te hoor hoe plaaslike en internasionale studente, akademici en professionele steunpersoneel vertel van wat hulle alles gedurende hulle internasionale besoeke, konferensies en ander skakelgeleenthede geleer het. Nóg 'n motivering is om te sien hoe dit tot hulle deurdring dat die Stellenbosch Bestuurskool en die groter Universiteit waarlik wêreldklasonderwys sowel as relevante en impakryke navorsing voorsien. Dan verstaan hulle werklik die belang van internasionalisering.  

Wat is jou boodskap aan die volgende generasie aspirantvroueleiers?

Ken jou waarde, vertrou jou hart en bly getrou aan jouself. Moenie bang wees om foute te maak nie – leer daaruit en beweeg aan. Kry vroeg in jou loopbaan reeds 'n mentor. Gryp die geleenthede op jou pad met oorgawe aan, selfs al was dit dalk nie deel van die aanvanklike plan nie. Vra hulp – dit is nié 'n teken van swakheid nie, maar van krag. Moedig ander aan en vier hulle oorwinnings saam met hulle. Wees erkentlik teenoor jou span en ander saam met wie jy werk. Skep geleenthede waar ander struikelblokke sien. Wees gaaf met jouself en neem 'n blaaskans wanneer jy dit nodig het. Leierskap is 'n reis; dis nie altyd maklik nie, maar dit is die moeite werd. Byt vas.​