Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#Vrouemaand: Dr Zethu Mkhize – 'Uitdagings verbreed my perspektief'
Outeur: Corporate Communications and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 12/08/2022

Dr Zethu Mkhize staan aan die stuur van die Transformasiekantoor. Hier lei sy mense met uiteenlopende persoonlikhede en lewenservarings om sáám die Universiteit Stellenbosch (US) se Transformasieplan te implementeer. Sy is toegewy aan haar werk en floreer op uitdagings, veral dié wat sterk leierskap verg.

As deel van die US se Vrouemaandvieringe, vertel Zethu ons meer van haar werk en die leierseienskappe wat dit vereis.

Vertel ons meer van jou rol by die Universiteit Stellenbosch.

Ek bestuur die Transformasiekantoor, 'n veelsydige dryfveer van strategieë oor institusionele kultuur by die US. Ons wil graag transformasie teweegbring in hoe die instelling kennis skep en sy studente en personeel se potensiaal ontwikkel.

Ons taak is om die implementering van die US Transformasieplan te bevorder. 'n Kerndeel van dié verantwoordelikheid is om te sorg dat belanghebbendes die plan ondersteun, en om te verseker dat die instelling die nodige vermoë het om die plan in werking te stel. Ek bestuur ook die hersiening van die Transformasieplan.

Daarbenewens bied ek strategiese rigting aan die Transformasiekantoor, wat beplanning, leierskap en koördinering behels. Die bestuur van ons kantoorhulpbronne, waaronder fisiese, finansiële en menslike hulpbronne, is nóg een van my verantwoordelikhede.

Ek skakel ook met interne belanghebbendes soos Diensbillikheid, die Eenheid vir Gelykwaardigheid en die Eenheid vir Gestremdhede, en werk saam met institusionele oorsigbestuurstrukture en studenteliggame om seker te maak dat ons almal saam verantwoordelikheid vir transformasie-uitkomste aanvaar.

Ek koördineer ook die samestelling van die jaarlikse US Transformasieverslag, wat ons by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding moet indien.

Wat geniet jy die meeste van jou rol?

Ek geniet die uitdaging van transformasiewerk. Dit verg passie en toewyding, want ek doen alles moontlik om sukses te behaal. Uitdagings verbreed my perspektief.

Wat is volgens jou die belangrikste leierseienskappe wat jou werk vereis?

  • Verhoudingsbou: Transformasie is 'n allesomvattende kwessie. Die Transformasieplan kan slegs suksesvol geïmplementeer word deur voortdurende doeltreffende skakeling met besluitnemers én diegene wat deur die besluite geraak word. Die leiers moet 'n vertrouensverhouding met elke struktuur en belangegroep bou.
  • Veerkragtigheid: Om 'n Transformasiespan te lei hou dikwels 'n hele paar uitdagings in, want personeel het komplekse verantwoordelikhede. Hulle kry gereeld te doen met aktuele kwessies in die hoër onderwys en moet terselfdertyd ander samelewingskwessies die hoof bied.

 Leiersrolle is veeleisend. Wat hou jou gemotiveerd?

Ek hou in gedagte dat 'n leiersrol nie onbepaald is nie, maar vir 'n vasgestelde tyd en doel toegeken word. My toewyding aan die doel van die rol is 'n sterk motivering om binne 'n bepaalde tydperk die beste te doen wat ek moontlik kan, en om my stempel af te druk indien dit moontlik is.

Om jou tot die bevordering van 'n transformasieplan te verbind is geen eenvoudige taak nie en vereis spanwerk. Daarom put ek ook motivering daaruit om 'n span met 'n gevoel van eensgesindheid en 'n aktiewe persoonlike verbintenis tot die transformasieprojek te lei.

Wat is jou boodskap aan die volgende generasie aspirantvroueleiers?

Leierskap is uitdagend, want jy lei mense met diverse en unieke persoonlikhede, karakters, agtergronde en lewenservarings. Die uitdaging is veral groot vir vroueleiers in 'n patriargale samelewingstelsel.

My boodskap aan aspirantvroueleiers is dat hulle selfversekerd moet wees, hulle persoonlike eienskappe tot hulle voordeel moet aanwend, en nie moet toelaat dat 'n genderminderwaardigheidskompleks daardie eienskappe uitdoof nie. Hulle moenie heeltyd ander se goedkeuring soek nie, maar moet eerder op hul verantwoordelikheid om te lei konsentreer. Hulle moet waarde heg aan hul unieke leierskapstyl, wat waarskynlik deur hul persoonlike ervarings en rolmodelle beïnvloed sal word. Dit is belangrik om 'n sterk ondersteuningsnetwerk te handhaaf wat jou emosionele en praktiese hulp kan bied wanneer jy dit nodig het.

 


 Fotograaf: Stefan Els