Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Klimaatsverandering, grondgebruik lei tot meer veldbrande
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 11/08/2022

Wat het die Helderberg, Kleinmond, Tafelberg, Bettysbaai, en Knysna en George gemeen? Hull is maar net van die gebiede wat die afgelope paar jaar onder vernietigende brande deurgeloop het. En as die toename in veldbrande in bewoonde gebiede enigsins 'n aanduiding is, kan hierdie gebiede weer in die toekoms deur vlamme verswelg word.

Volgens dr Natalia Flores-Quiroz van die Brandnavorsingseenheid in die Fakulteit Ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch (US) was daar die afgelope paar jaar 'n toename in veldbrande. Sy het die kwessie in 'n onlangse lesing van die Stellenbosch Forum verken. Hierdie lesing, die vierde in vanjaar se reeks, se tema was 'Klimaatsverandering en die nodigheid om te leer om met brande saam te leef – 'n Suid-Afrikaanse gevallestudie'.

Die Stellenbosch Forum-lesingreeks verskaf reeds sedert 1990 op 'n gereelde grondslag vir personeel en studente van die US, asook vir lede van die publiek, die geleentheid om meer te wete te kom oor die navorsing van wêreldgehalte wat by die Universiteit onderneem word. Hierdie lesings, wat op 'n toeganklike en verstaanbare wyse aangebied word, bied aan beide akademici en nie-akademici 'n platform vir kritiese debat wat oor die grense van vakgebiede strek.

Volgens Flores-Quiroz is klimaatsverandering en grondgebruik twee van die hoofredes waarom ons al hoe meer veldbrande sien.  

“Aan die een kant veroorsaak klimaatsverandering hoër temperature, droogtes, lae humiditeit en sterk winde. Al hierdie faktore droog die plantegroei uit, wat veroorsaak dat dit maklik aan die brand kan slaan. Dit laat die brande vinniger versprei. Hierdie faktore veroorsaak ook dat die brandseisoen langer duur.

“Aan die ander kant is die gebruik van grond ook aan die verander. Deesdae bly al hoe meer mense in die natuur en sekere gebiede word vir plantasies gebruik, en ons het ook meer indringerspesies. Plantasies brand gewoonlik vinniger en met groter intensiteit as inheemse woude."

Sy het bygevoeg dat daar verskeie ooreenkomste tussen brande in verskillende lande is. Dit sluit in veelvoudige verliese, sterftes of mense wat beseer word, duisende mense wat ontruim moet word, groot gebiede wat geraak word en ernstige ekonomiese verliese wat met hierdie brande gepaardgaan.

Flores-Quiroz het die Knysna-brande van 2017 as 'n voorbeeld gebruik om te toon hoe ontruimings, belangrike infrastruktuur, kommunikasie en opslaanbrande van die vernaamste uitdagings in veldbrande is.

“Ontruimings vind op baie kort kennisgewing plaas met beperkte inligting. Baie gemeenskappe het nie die infrastruktuur om veilig te ontruim nie. Troeteldiere en lewende hawe moet ook ontruim word, wat die situasie nog verder bemoeilik. 

“Kritieke infrastruktuur en dienste kan vir maande of selfs jare buitewerking wees wat die gemeenskap vir 'n lang tyd beïnvloed.

“Kommunikasie is uiters belangrik gedurende veldbrande. Daar is dikwels geen kommunikasie tussen verskillende organisasies of brandweerdienste nie, of daar is nie net een brandbestuurowerheid nie, wat alles verwarring kan veroorsaak.

“Opslaanbrande, wat veroorsaak word deur gloeiende kole wat deur die wind tot in plantegroei buite die brandgebied versprei word, kan 'n reuse-impak hê op die spoed waarteen brande versprei," het sy bygevoeg.

Flores-Quiroz het ter afsluiting gesê daar is maatreëls wat ingestel kan word om die impak van veldbrande op bewoonde gebiede tot 'n minimum te beperk.