Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USVroue: Dr Marcia Lyner-Cleophas – “Die lewe is daar om te beproef”
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 10/08/2022

Deur 'n verskeidenheid dienste aan studente met gestremdhede te lewer, skep die Eenheid vir Gestremdhede by die Universiteit Stellenbosch (US) 'n instaatstellende omgewing vir studente om hulle volle potensiaal te verwesenlik. Dr Marcia Lyner-Cleophas staan reeds die afgelope 15½ jaar aan die hoof van die Eenheid, wat oor ál die Universiteit se fakulteite en professionele administratiewe steundienste- (PASD-)omgewings heen werk.

As deel van die US se Vrouemaandvieringe, vertel Marcia ons meer van haar werk en die leierseienskappe wat dit vereis.

Vertel ons meer van jou rol by die Universiteit Stellenbosch.

Ek is die hoof van die Eenheid vir Gestremdhede. Dít beteken in wese dat ek 12 personeellede, waaronder interns en assistente, bestuur wat hoofsaaklik steun bied aan studente met gestremdhede. Saam met dié vaardige span adviseer ek ook ander omgewings op kampus oor hoe hulle beter gestremdheidsinsluiting in hulle werk-, onderrig- en leerruimtes kan skep. Dít wissel van fasiliteitsbestuur, vervoerdienste en koshuissteun, tot toelating, akademiese steun in fakulteite, bystand met Suid-Afrikaanse Gebaretaal, en die hantering van voornemende studente en ouers se navrae oor die moontlikhede wat die US bied. Boonop hanteer ek uitdagende situasies wat personeel en studente onder ons aandag bring, en ek hersien ons prosesse om te sorg dat die Eenheid vlot funksioneer. Laastens is dit van die allergrootste belang vir my rol én my waardes om toe te sien dat personeel ontwikkel en oor die algemeen gelukkig is. Dít bestuur ek op 'n daaglikse grondslag deur altyd na uitnemendheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en billikheid te streef.

Wat geniet jy die meeste van jou rol?

Dit is vir my die heel lekkerste om te sien dat studente in ons departemente en fakulteite die steun ontvang wat hulle nodig het, en hoe hulle danksy daardie steun suksesvol afstudeer. Daarbenewens is dit vir my belangrik om personeel professioneel én as mense te help groei, ongeag hulle rol – van ons skoonmakers tot die professionele, administratiewe en akademiese personeel.

Wat is volgens jou die belangrikste leierseienskappe wat jou werk vereis?

Om vertroue te hê in die vermoëns van die personeel wat jy aanstel, en om ontvanklik en aanpasbaar te wees sodat hulle binne én buite die werksomgewing verder kan groei. Ons sê graag mense kan wees wat hulle wil wees, maar wat doen ons om dit moontlik te maak? As leiers, durf ons nie daardie groei in ons spanne belemmer nie. Ons kan ons spanlede se toekoms sáám met hulle bou. Personeel behoort vir hulle bestaande rolle én vir die toekoms te ontwikkel, en ons behoort nooit 'n perk aan daardie ontwikkeling te stel nie.

Leiersrolle is veeleisend. Wat hou jou gemotiveerd?

Dit gee my energie om te sien hoe personeel as individue en as spanne groei. Dis vir my inspirerend om te sien hoe die groep waarde skep vir hulleself én vir diegene aan wie hulle 'n diens lewer. Gesamentlike probleemoplossing kweek beter leierskap, want die groep onderhou uiteindelik die groep. Hierdie tipe energie en sinergie hou my gemotiveerd en positief.

Wat is jou boodskap aan die volgende generasie aspirantvroueleiers?

Vertrou jou instink en waag 'n kans, want jy sal nooit weet of iets dalk vir jou bedoel was as jy dit nie probeer nie. Die lewe is daar om op die proef te stel. Vrese is soms redelik, maar kan ook onredelik en selfbeperkend wees. Gesels met ander leiers en ontwikkel jou eie sienings, want jy is uniek en kan jou eie weg vorentoe baan. Leemtes, uitdagings, mislukkings en tekortkominge is alles daar om ons na groei te lei, ons karakter te bou en ons menswees te laat deurstraal. Dít is hoe ons leiers word in ons persoonlike lewens en in die organisasies waar ons studeer, werk, woon en aanbid.

  • Foto deur Stefan Els.