Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Cher Petersen: Uitdagings lei van BSc na media
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 05/08/2022

​Ontmoet vir Cher Petersen, een van die Universiteit Stellenbosch (US) se merkwaardige alumnae. Cher glo jy moet elke geleentheid aangryp wat jou nader bring aan wat jy uit die lewe wil hê.

Gedurende haar finale hoërskooljaar in 2012, het Cher deeltyds begin werk by MFM 92.6, die US se kampusradiostasie. Dít sou haar op die trajek in die media plaas, maar met heelparty ompaaie.

Cher het in Rustdal, 'n woonbuurt in Kuilsrivier in die Wes-Kaap, grootgeword. Sy is anders behandel deur haar tydgenote omdat sy transseksueel is. In daardie tyd, sê sy, het sy nog nie die woordeskat gehad om die gevoel wat dít ontlok het, uit te druk nie.

“Dit was vir my ongelooflik moeilik om aanklank te vind by kinders van my ouderdom, omdat ek 'n persoon met 'n trans-ervaring was, en ek was nog nie 'uit' nie."

In 2013 het Cher haar eerstejaar in die BSc Biodiversiteit en Ekologie-program in die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die US begin. Cher het steeds by MFM gewerk en het later radioprogramme aangebied. Teen hierdie tyd het sy geweet sy wou 'n beroep in die media volg.

Sy het haar BSc-graad in 2016 voltooi en het 'n pos aanvaar as 'n laboratoriumassistent aan die US, maar het steeds aangehou om by MFM te werk. Sy sou bedags in die laboratorium werk, en dan saans tussen 19:00 en 22:00 regstreeks op die radio uitsaai.

“Ek het die werk in die laboratorium ongelooflik eensaam gevind en ná 'n tragiese insident by die werk waarby 'n kollega betrokke was, het ek die tyd geneem om te besin oor wat ek werklik wou doen met my beroep. Ek het gewéét ek wou 'n beroep in die media volg."

Cher kon nie bekostig om nié te werk terwyl sy haar volgende stappe beplan het nie, want sy moes afbetaal aan 'n aansienlike bedrag in studenteskuld. Dit het haar gemotiveer om alternatiewe inkomstestrome te ondersoek. Dit was uitdagende tye, maar sy kon dit uiteindelik oorkom en sterker aan die anderkant uitkom.

Omdat sy nie mediaverwante kwalifikasies gehad het nie, was dit moeilik vir haar om werk in ander areas van die media te vind. In 2019 is Cher aanvaar vir die BA-honneurskursus in Joernalistiek aan die US, 'n program wat slegs 25 studente per jaar aanvaar. Haar studies is gedek deur 'n beurs van Anet Pienaar-Vosloo, 'n filantroop wat diep bande met die universiteit het.

Ná internskappe en posisies by verskeie publikasies en mediahuise in Kaapstad, werk Cher tans as 'n kommunikasiebeampte vir Slum Dwellers International (SDI), 'n organisasie wat 'n stem gee aan armes die wêreld oor. Cher samel tans ook geld in op die fondswerwingsplatform Backabuddy vir haar geslagsbevestigingsoperasie, wat 'n aansienlike mylpaal in haar mediese oorgang verteenwoordig.

“Ek glo ons moet elke geleentheid aangryp wat ons nader bring aan wat ons uit die lewe wil hê. Ek vind dat ons sit en dagdroom, maar ons neem nie aksie nie, en sonder die aksie sal daar niks daadwerlik in ons lewe gebeur nie."

FOTO: EDO Photography - https://edophotography.co.za/