Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
STIAS bied eerste Nobel-simposiums in Afrika aan
Outeur: Michelle Galloway​
Gepubliseer: 05/08/2022

Dit is amptelik.  

Die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) gaan die eerste agt Nobel-simposiums in Afrika aanbied.

Dit is vandeesweek by die onthulling van STIAS se handelsmerk en die aanvanklike bekendstelling van die Nobel in Afrika-simposiumreeks bekendgemaak.

Nobel in Afrika is 'n gesamentlike inisiatief van STIAS, die Nobelstigting, die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskappe, die Knut & Alice Wallenberg-stigting en die Universiteit Stellenbosch (US). Nadat dit weens die Covid-pandemie verskeie kere uitgestel moes word, word die inisiatief op Dinsdag, 25 Oktober 2022 amptelik bekendgestel.

Die eerste Nobel-simposium in Afrika sal oor Fisika handel en getiteld wees, “Voorspelbaarheid in die wetenskap in die era van KI". Dit sal van 24 tot 28 Oktober 2022 plaasvind. 

Die woordvoerder van die Nobel in Afrika-inisiatief, Noloyiso Mtembu, het in sy verwelkoming by die handelsmerk-onthulling gesê: “Ons is hier om ons bure te waarsku dat hulle binnekort die rook gaan sien trek en die aroma van sorghumbier wat gebrou word, gaan ruik. Julle sal binnekort die slae van die Afrika-tromme hoor, terwyl die vroue ululeer en die kinders hul danspassies oefen."

STIAS is die eerste instelling buite Skandinawië om 'n Nobel-simposium namens die Nobelstigting aan te bied danksy 'n skenking van die Knut en Alice Wallenburg-stigting. Die Nobel in Afrika-simposiums bied 'n unieke geleentheid om gevorderde navorsing en vakkundigheid op die vasteland te ondersteun en ten toon te stel, asook om navorsingsuitnemendheid en samewerkende vakkundigheid te bevorder. 

“Die Nobel in Afrika-inisiatief pas goed in by STIAS se visie om interdissiplinêre vakkundigheid met 'n spesiale fokus op Afrika uit te bou," sê STIAS se direkteur, Edward Kirumira. “Dit is 'n aanduiding van Afrika se plek in wêreldwye wetenskaplike gesprekke, 'n plek waar innoverende idees en denke floreer. Dit beklemtoon Afrika as 'n toekomsgerigte vasteland – 'n plek vir innovasie en wetenskap." 

“Ek is uiters trots om as 'n Suid-Afrikaner en 'n Afrikaan deel te wees van hierdie inisiatief," sê die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers. “Dit is 'n belangrike prestasie en 'n unieke mylpaal vir ons land en ons instellings. Wat veral van belang is, is die insluiting van uitreikaktiwiteite  na plaaslike navorsingsinstellings in elke simposium. Ons is trots op die vennootskap om STIAS se  leierskap van wêreldgehalte. Dit getuig ook van wat die Universiteit verteenwoordig – 'n trotse Afrika-instelling wat glo in die vasteland se potensiaal en wat ons die wêreldwye navorsingsgemeenskap bied." 

Ander beplande Nobel-simposiums sluit in:

·        Chemie – Tuberkulose en Antibiotikumweerstandigheid: Van basiese middelontdekking tot kliniek; vind in Oktober 2023 plaas.

·        Ekonomiese wetenskappe: Mikro-ontwikkelingsnavorsing die afgelope 20 jaar: Wat het ons geleer?; vind in Maart 2024 plaas.

·        Fisiologie/Geneeskunde: Vordering en uitdagings in kardiovaskulêre geneeskunde' vind in Oktober 2024 plaas.

Onderskrif: STIAS se stigtersdirekteur, Bernard Lategan, STIAS direkteur Edward K Kirumira, die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, Wim de Villiers, en die voorsitter van STIAS se raad van direkteure, Desmond Smith, saam by die Nobel in Afrika se bekendstelling vroeër vandeesweek. Foto: Ignus Dreyer