ʼn Paar jaar gelede het Suid-Afrika ʼn innoverende strategie in werking gestel om burgers se hoë soutinname te help verminder. Al is ʼn mate van sukses aanvanklik met die soutverminderingstrategie behaal, glo sleutel-rolspelers die regering het misluk om op hierdie vroeë momentum voort te bou omdat Suid-Afrikaners steeds meer sout verbruik as die daagliks aanbevole inname van 5 gram of ʼn teelepel.
Dít volgens ʼn nuwe studie met die titel “Sleutel-rolspelers se persepsie van die huidige soutwetgewing in Suid-Afrika: Geleenthede en Uitdagings". Dit is onderneem deur Marzanne van Loggerenberg en dr Nelene Koen van die Afdeling Menslike Voeding aan die Universiteit Stellenbosch, asook dr Bianca van der Westhuizen van die Departement Lewens- en Verbruikerswetenskappe aan die Universiteit van Suid-Afrika. Die studie is onlangs in die South African Journal of Clinical Nutrition gepubliseer.
Die navorsers wou die persepsies van sleutel-rolspelers in die akademie, die regering en beleidsverwante instellings, die navorsingsektor en nieregeringsorganisasies bepaal oor die uitdagings en geleenthede om die land se soutverminderingstrategie vorentoe te neem. Hulle het onderhoude gevoer met rolspelers wat by die ontwikkeling, inwerkingstelling en/of evaluasie van die strategie betrokke was.
Volgens die navorsers was Suid-Afrika een van die pionierslande wat so ʼn strategie saam met ʼn openbare bewusmakings- en opvoedingsproses in werking gestel het. Die eerste verpligte sodiumbeperkingsteikens het in Junie 2016 in werking getree en die laaste teikens in April 2019 (en sommige in April 2020).
Volgens die navorsers was die meeste deelnemers oortuig dat Suid-Afrikaners in ʼn mate daarvan bewus is dat hulle hul soutinname moet beperk, maar onbewus van die verborge soutinhoud van kos of die hoeveelheid sout wat hulle tydens of ná die kookproses by kos voeg.
“Maar daar was konsensus onder die deelnemers dat daar tans geen verbuikersbewusmakingsprogram is om dié leemte aan te pak nie. Hulle het genoem dat die skoolkurrikulum ruimte vir voedingsopvoeding maak, maar nie vir soutbewusmakingsopvoeding as sulks nie.
“Hulle het voorts gesê die regering gebruik of verken nie geleenthede op nasionale en plaaslike radiostasies en televisie vir verbruikersopvoeding en bewusmakingsprogramme en -advertensies nie.
“Al het die deelnemers gevoel enige opvoedings- en bewusmakingsveldtog moet deurlopend wees vir die bevolking om daarby baat te vind, het hulle erken dat soutinname in die lig van ander belangrike voedingsuitdagings nie hoog op die regering se agenda is nie."
Die navorsers voeg by dat deelnemers teen “een-grootte-pas-almal" bewusmakings- en opvoedingsveldtogte gemaan het, omdat verskillende inkomstegroepe verskillende prioriteite het wanneer hulle kos koop. Arm Suid-Afrikaners se keuses gaan dikwels nie oor gesondheid nie, maar oor bekostigbaarheid. Volgens die navorsers het die deelnemers ook saamgestem dat dit moeilik is om die soutinhoud van kos te monitor.
“Hulle het verskillende bydraende faktore genoem, soos te min laboratoriums vir toetse, te min gekwalifiseerde personeel om die toetse te doen, die koste van toetsing, laboratoriums wat nie gestandaardiseer word nie en geen duidelike protokol van die regering oor hoe die monitering moet plaasvind nie."
Die deelnemers het ʼn paar aanbevelings gedoen wat kan help om die soutverminderingstrategie vorentoe te neem.
“Hulle het die noodsaak vir die herinwerkingstelling van verbruikersbewusmakings- en opvoedingsprogramme benadruk, asook dat dit vir die beoogde teikengroep pasgemaak moet word.
“Soutmonitering moet ook gestandaardiseer en uitgebrei word en wegneemeetplekke, formele restaurante en ander voedseldienseenhede moet ingesluit word by die strategie om diskresionêre soutinname te teiken.
“Etikette op die voorkant van verpakkings kan gebruik word om die strategie te versterk, want sulke etikette kan in die vorm van logo's of simbole wees, en nie net woorde nie."
Die navorsers voeg by dat die deelnemers ook die belang van die opleiding en opvoeding van gesondheidsorgberoepslui beklemtoon het om die strategie te help versterk.
“Daar was ʼn sterk konsensus dat die strategie waarskynlik sal misluk sonder beter kommunikasie en samewerking tussen die regering en sleutel-rolspelers, finansiering en meer bewysgebaseerde navorsing oor Suid-Afrikaners se soutinname uit geprosesseerde kosse en diskresionêre inname."
Die navorsers sê ʼn strategie wat suksesvol in werking gestel word, sal lewens help red, die las op die gesondheidsorgstelsel help verlig en Suid-Afrika aan die voorpunt van grondverskuiwende en visioenêre soutverminderingstrategieë wêreldwyd plaas.
- Bron: Marzanne van Loggerenberg, Bianca van der Westhuizen & Nelene Koen (2022): Key role-players' perceptions of the current salt legislation in South Africa: Opportunities and Challenges. South African Journal of Clinical Nutrition, DOI: 10.1080/16070658.2022.2051381