Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nou praat Velddrif-jeug besigheid danksy US-samewerkingsprojek
Outeur: Corporative Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 18/07/2022
'n Aantal jongmense van die Noordhoek-gemeenskap op Velddrif langs die Weskus het hulle eie ondernemings begin of bestaande ondernemings uitgebrei nadat hulle onlangs 'n entrepreneursgerigte sosiale-impakprogram van die Universiteit Stellenbosch (US), Bergrivier-munisipaliteit, die Velddrif-sakekamer en Weskuskollege voltooi het.
 

Die Velddrif-entrepreneurskapsprogram wil die “gevoel van wanhoop en nutteloosheid" teenwerk wat as gevolg van armoede ontstaan, sê dr Clive Coetzee, hoof van die program en 'n senior dosent in die US se Fakulteit Krygskunde op die Universiteit se Saldanhakampus. Deelnemers word bygestaan met die nodige entrepreneursvaardighede om hulle eie én hulle gesinne se bestaan te verbeter, maar uiteindelik ook in die gemeenskap se ekonomiese en maatskaplike behoeftes te voorsien.

Die krag van samewerking

Die projek bewys net wéér wat met doelgerigte vennootskappe vermag kan word. Die US, die plaaslike owerheid, die sakesektor en ander onderwysbelanghebbendes – almal ewe bekommerd oor die jeug in Noordhoek – het kragte saamgesnoer om die proefaflewering van die program in die vorm van 'n 12 weke lange werksessiereeks aan te bied. Alle betrokkenes het mentors beskikbaar gestel om praatjies oor verskillende sakeverwante onderwerpe aan te bied, en die munisipaliteit het boonop 'n geskikte lokaal voorsien.

Die program stop ook nie by mentorskap en advies nie. Elke deelnemer het 'n aanbod van finansiële bystand van die US se Komitee vir Sosiale-impakfinansiering ontvang om hulle ondernemings te ontwikkel en uit te bou. Kleinsakeontwikkelingsagentskap SEDA het saketoerusting ter waarde van R10 000 geskenk, en deelnemers het selfs 'n drie jaar lange beurs ontvang om, as 'n verlengstuk van die program, Ondernemingsbestuur aan Weskuskollege te studeer.

“Die jongmense in Noordhoek byt die spit af van werkloosheid, 'n tekort aan waarneembare sakegeleenthede, en die sosiale euwels wat daaruit voortspruit, soos sosiale diskriminasie en uitsluiting, alkohol- en dwelmmisbruik, misdaad en geweld," verduidelik Clive. Hierdie ongewenste omstandighede was die hoofkatalisator vir die inisiatief. “Wanneer ek deur Noordhoek gery het, kon ek die tekort aan geleenthede en die werkloosheid sien.

“Ons wil graag die gebied in 'n voorspoedige en florerende plek omskep. Die samewerking tussen almal wat by die Velddrif-entrepreneurskapsprogram betrokke is, is noodsaaklik om dié doel te bereik en dit in 'n volhoubare, gemeenskapsgedrewe projek te verander wat entrepreneurskap en werk- en welvaartskepping in Noordhoek bevorder," voeg Clive by.

Opgewonde oor die toekoms

Deelnemer Sederick Nero het vóór die inisiatief al 'n buiteontwerp- en tuinmaakonderneming gehad. “My deelname aan die program het my sakevaardighede verbeter en my in staat gestel om uit ander jong entrepreneurs se ervarings te leer," sê hy. “Nou weet ek beter hoe om met my werknemers en kliënte te werk en my finansies en bemarking te bestuur." Sederick het sedertdien sy onderneming herontwerp om ook tuislandboudienste in te sluit, wat verkope opgestoot en sy kontantvloei verbeter het.

Een deelnemer het 'n naelsalon begin, terwyl 'n ander haar haarsalon uitgebrei het deur haar tyd en kliënte meer professioneel te bestuur. 'n Jong meubelmaker het nuwe maniere bedink om sy produksiekoste te verlaag, en sy klasmaat beplan om 'n slaghuis op die been te bring.

Daarbenewens het deelnemers se houding en ingesteldheid die afgelope vier maande ten goede verander, sê Clive. “Die jeug is meer opgewonde oor die toekoms, en gretig om werkloosheid in hulle gemeenskap die stryd aan te sê. Nou praat hulle besigheid."

'n Sigbare impak

“Die deelnemers se vordering bewys dat die Velddrif-entrepreneurskapsprogram ekonomiese groei in Noordhoek 'n aansienlike hupstoot kan gee," sê Chevaan Peters, die US se bestuurder van Kennisinligtingstelsels en Bemarking in die Afdeling Sosiale Impak. “Dit is wonderlik om die impak van die program dop te hou, en te sien hoe vasberade en toegewyd die deelnemers is om sakebeginsels, -konsepte en -praktyke in gebruik te neem en toe te pas wat tot geleenthede en moontlikhede lei. Ek hoop werklik hierdie tipe inisiatiewe hou net aan uitbrei."

Danksy die sukses van die proef, is die Velddrif-program gereed om voort te gaan. Deelnemers vir die tweede aflewering in Augustus word reeds in die wyer munisipale distrik Bergrivier gewerf. Clive moedig nóg rolspelers aan om betrokke te raak en werkloosheid en maatskaplike agteruitgang langs die Weskus te help stuit. Vir verdere inligting, klik hier.

* Die mentors wat praatjies by die werksessies aangebied het, is soos volg (praatjie-onderwerpe verskyn tussen hakies):

 

  • Dr Yolandi Fontaine (Die sielkunde van 'n entrepreneur)
  • Me Sarifa Matthee en mev Brigitte Barends (Doeltreffende kommunikasie)
  • Dr Clive Coetzee (Sakeplanontwikkeling, SWOT-ontleding, Unieke bedryfspunte en mededingerontleding, Identifisering van sakegeleenthede en markondersoek, Dragons Den)
  • Mnr Dandré van der Merwe (Ondernemingstipes en -struktuur)
  • Mnr Basil Nefdt (SEDA-sakesteun)
  • Dr Bernard van Nieuwenhuyzen (Begrotings en kontantvloei)
  • Mev Otsile Morake (Basiese bedryfsrekeningkunde)
  • Me Audrey Lawrence (Verkope is koning)
  • Mnr Johnny da Silva (Sosialemediabemarking)
  • Me Sune Stassen (Sakekreatiwiteit)

 

​