Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die US ontvang internasionale erkenning as 'n uitstaande entrepreneuriese en betrokke Universiteit
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 14/07/2022

​Die Universiteit Stellenbosch is by die Universiteit-Nywerheidsinnovasienetwerk (UIIN) se jaarlikse konferensie in Amsterdam aangewys as naaswenner in die kategorie vir 'n uitstaande entrepreneuriese en betrokke Universiteit op grond van die werk wat Innovus, die Innovasie- en Kommersialiseringsafdeling van die Universiteit, gedoen het.

UIIN is toegewyd om die toekoms van hoëronderwysinstellings te bevorder en die globale gemeenskap van professionele universiteitsbedryf te ondersteun.

"Dit was 'n wonderlike voorreg en ongelooflike ervaring om in Junie vanjaar aan die UIIN se konferensie in Amsterdam deel te neem en die organisasie se 10de verjaardag te vier. Dit was 'n groot verrassing en bonus om die naaswenner-prys te ontvang," sê Anita Nel, Hoofdirekteur: Innovasie en Kommersialisering.

Nel het 'n toespraak gelewer by die konferensie oor ons Universiteit as 'n entrepreneuriese universiteit met die tema: "Doen dit net!". In haar praatjie het sy die entrepreneurskaplandskap wat Innovus gevestig het om entrepreneurs by die instelling te ondersteun en te ontwikkel, ten toon gestel. Sy het die vier strukture bekendgestel wat entrepreneurskap by die US ondersteun, naamlik die Innovus Tegnologie-oordragkantoor, US Enterprises (Edms.) Bpk., die volwaardige universiteitsmaatskappy wat die Instelling se aandele in sy groep van maatskappye hou, die US LaunchLab en SUNKOM, die US se afdeling wat fokus op die kommersialisering van nie-akademiese projekte. Sy het ook die verskeie inisiatiewe bespreek wat hierdie strukture aan personeel en studente bied en die talle suksesse wat die instelling deur hierdie platform behaal het, gedemonstreer.

“Hierdie erkenning wat ons ontvang het by 'n wêreldkonferensie wat toegewyd is tot en bygewoon is deur entrepreneuriese universiteite, is baie bemoedigend en inspireer ons om verder te bou op hierdie spelveranderende strategie van ons instelling," sê Nel, wat glo daarin om suksesse te vier en te kommunikeer en gevallestudies, soos die US se indrukwekkende lys van maatskappye, te gebruik om geloofwaardigheid te bou.​


Oor die UIIN

Die UIIN is toegewy aan die bevordering van die toekoms van hoëronderwysinstellings en die ondersteuning van die globale gemeenskap van kundiges in die universiteitsbedryf. Hulle doen navorsing, organiseer geleenthede en bied opleiding en konsultasiedienste aan hul gemeenskap van 80+ organisatoriese en 500+ individuele lede. Sien https://www.uiin.org/