Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nelson Mandela-dag 2022 – “Doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy ook al is”
Outeur: Chevaan Peters
Gepubliseer: 13/07/2022

Nelson Mandela-dag 2022 – “Doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy ook al is"

Vanjaar werk die Universiteit Stellenbosch se Studenteraad saam met Matie Gemeenskapsdiens (MGD) in die Afdeling vir Sosiale Impak, die Transformasiekantoor, Menslike Hulpbronne: Welwees en die Taalsentrum om Mandeladag te herdenk.

In November 2009 verklaar die Verenigde Nasies (VN) 18 Julie amptelik tot Nelson Mandela Internasionale Dag, of 'Mandeladag', ʼn jaarlikse viering van Mandela se nalatenskap. Dit dien as ʼn wêreldwye beroep op individue om van hulle tyd aan liefdadigheid of ʼn goeie doel af te staan, om die samelewing te verbeter of ʼn betekenisvolle impak daarop te hê.

Deur vanjaar die US se Mandeladagviering binne die globale tema van "Doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy ook al is" te plaas, val die fokus op die erkenning van studente aan die Universiteit Stellenbosch. Ons wil graag erkenning verleen aan hulle belangrike rol in die uitlig van kritieke kwelpunte ten opsigte van ongelykheid, gendergebaseerde geweld, rassisme, gedekoloniseerde onderwys, finansiële uitsluiting, die #FallistMovements en ander pynlike ervarings van studente binne die hoëronderwyssektor.

Histories was studenteaktivisme tydens krisistye ʼn deurslaggewende krag vir maatskaplike verandering. Oor die afgelope dekades het studente regoor die wêreld bewegings gelei om demokrasie en menseregte te bevorder. Studente dien dikwels as nasies se gewete en bring die grondliggende ideale van hulle lande en alle mense se strewe na geregtigheid, waardigheid en gelykheid tydens onstuimige tye aan die lig.

Studente is die hart van hierdie instelling. Hulle het onvermoeid en dapper die voorhoede gevorm en voorspraak gemaak vir radikale institusionele transformasie om ʼn ruimte van behoort vir almal moontlik te maak, volgens Renee Hector-Kannemeyer, hoof van Matie Gemeenskapsdiens en Adjunk-Direkteur: Afdeling vir Sosiale Impak. Matie Gemeenskapsdiens ondersteun die oproep van die Studenteraad om studenteaktivisme binne die Universiteit Stellenbosch te herdenk as deel van ons Mandeladagvieringe vir 2022 en ons institusionele verbintenis tot ʼn transformerende studente-ervaring.

Hoewel die amptelike Mandeladag op 18 Julie plaasvind, sal die US se aktiwiteite op die Stellenbosch-kampus vanjaar reeds in die eerste week van die nuwe semester, wanneer studente weer op kampus is, afskop. Vanjaar val Nelson Mandela Internasionale Dag toevallig saam met die terugkeer 'tuis' van alle studente en personeel vir die eerste keer in byna twee en ʼn half jaar. Alhoewel hierdie oproep verder moet strek as wat vir Mandeladag beplan word, nooi ons die US-studente, -personeel en -gemeenskap uit om te besin, deel te neem en met ons saam te werk vir hierdie komende Mandelamaandvieringe.

Die Studenteraad, bygestaan deur Matie Gemeenskapsdiens (MGD), die Transformasiekantoor, Menslike Hulpbronne: Welwees en die Taalsentrum, nooi jou uit om by die beplande Mandeladaggeleenthede aan te sluit, ten volle bewus van die voortgesette uitdagings wat studente moet navigeer om hulle leerreise te kan voortsit.

Op 19 Julie by die Neelsie, Vlak 3: VV-saal:

Van 09:00 tot 16:00 bied Menslike Hulpbronne: Welwees ʼn Discovery Welweeservaring (Discovery Wellness Experience) vir personeel en studente aan. Die Discovery Welweeservaring is ʼn interaktiewe ondersoek waartydens die belangrikste liggaamsmetrieke bepaal en bloedtoetse uitgevoer word. Welweesondersoeke is belangrik, want jy identifiseer jou huidige gesondheids- en leefstylrisiko's en ontvang raad oor hoe om geïdentifiseerde risiko's te hanteer. ʼn Volledige ondersoek neem tussen 35 en 40 minute om af te handel. Jy sal ʼn omvattende verslag oor jou gesondheid en welstand ná die ondersoek ontvang.

ʼn Professionele welweesspesialis sal die volgende siftingsassesserings by die Discovery Welweeservaring uitvoer:

  • Glukose-, cholesterol- en bloeddruktoetse
  • ʼn Postuurassessering
  • ʼn Oogassessering
  • Gewig, lengte en liggaamsmassa-indeks (BMI) metings
  • ʼn MIV-toets​

As jy kies om ʼn MIV-toets te laat doen, sal die Welweesspesialis berading voor en ná afloop van die toets verskaf. Jou MIV-toetsuitslae word heeltemal vertroulik gehou.

Vitality-lede

Vitality-lede kan duisende punte ná ʼn Discovery Welweeservaring verdien, afhangende van hoeveel van jou uitslae binne gesonde grense val. Op elke statusvlak kan lede ouer as 18 ʼn verskeidenheid belonings geniet, waaronder flieks teen halfprys, besparings op vlugte, kontant terug op kruideniersware, brandstofbesparings, weeklikse belonings en meer.

Al wat jy moet weet

  • Bring jou mediesefondskaart en ID of rybewys saam
  • Trek gemaklik aan – vir sommige ondersoeke moet jy kaalvoet wees (geen sokkies of kouse nie)
  • Vul die voorafassesseringsvraelys in voor jy die Discovery Welweeservaring bywoon. Jy sal ʼn skakel na die vraelys saam met jou besprekingsbevestiging ontvang.​

Klik hier om jou plek te bespreek.

Van 12:30 tot 14:30 wil ons ʼn ervaring bied wat studentewelstand bevorder, waaronder die verspreiding van meer as 200 geriefspakkies onder terugkerende studente wat die meeste sorg nodig het, in die Mandela Booster Box Challenge. Aanvaar jy die uitdaging? Kontak Cheryl Cornelissen by cherylc@sun.ac.za en belowe jou bydrae.

Die Studenteraad op die Tygerberg-kampus sluit ook by die Mandela Booster Boxes-belofte aan en Isabella Turner kan gekontak word om betrokke te raak. Kontak Isabella by 22904131@sun.ac.za indien jy betrokke wil raak en jou bydrae wil belowe.

ʼn Inisiatief wat deur die Studenteraad van die Tygerberg-kampus aangedryf word, 'Saam KAN ons voedselonsekerheid op die Tygerberg-kampus verlig', vra vir bydraes van blikkieskos by versamelpunte in die Admin-gebou en in die TSS. Baie studente stry stilweg teen voedselonsekerheid en die doel is om studente te help met produkte wat hulle voedselsekerheid sal versterk en hulle in staat sal stel om op ander sfere van hul lewe te fokus, soos om hulle studentelewe te geniet.

In die gees van Nelson Mandela-dag sal die Tygerberg Studenteraad 67 minute lank ʼn blikkie-vir-kolwyntjie- of blikkie-vir-MyBrew-koffie-uitruil doen. ʼn Beperkte aantal kolwyntjies sal tussen 12:30 en 13:37 in die Admin-gebou beskikbaar wees en ʼn beperkte aantal koffies sal in TSS beskikbaar wees. Saam KAN ons!

Slegs op die Stellenbosch-kampus kan personeel en studente ook op ʼn grondslag van 'wie eerste kom, sal eerste maal', ʼn nek-, skouer-, kop- of voetmassering (15 min), ʼn cappuccino en ʼn kaneelpannekoek (beperkte aantal koopbewyse beskikbaar) ontvang.

“Wat in die lewe saak maak, is nie die blote feit dat ons geleef het nie. Dit is watter verskil ons aan die lewens van ander gemaak het wat die betekenis van die lewe wat ons lei, sal bepaal." - Nelson Mandela

Op 22 Julie by die Attie van Wijk-Ouditorium (Fakulteit Teologie):

Van 12:30 tot 14:30 het die Fakulteit Teologie die Attie van Wijk-ouditorium beskikbaar gestel vir die aanbieding van die Mandeladag-lesing getiteld 'Centring Agency: Womxn transcending victimhood' (Sentreringsmag: Vroue wat slagofferskap te bowe kom), deur die Transformasiekantoor, die Studenteraad, en Matie Gemeenskapsdiens (MGD) in die Afdeling vir Sosiale Impak. Die lesing sal gelewer word deur die skrywer van Becoming Him – A Trans Memoir of Triumph, Landa Mabenge. Dit is ʼn unieke verhaal van marteling en triomf wat die kulturele skaamte en mishandeling van diegene wat ʼn ander lewenspad moet loop, dapper blootlê. 

"Ons hoef nie slagoffers van ons verlede te wees nie; dat ons ons bitterheid kan laat gaan, en dat ons almal grootheid kan bereik." – Nelson Mandela

RSVP teen 19 Julie 2022 om teleurstelling te voorkom (beperkte ruimte beskikbaar): https://forms.office.com/r/4DS5EdHMQh. Navrae: Me Shanté Neff – shante@sun.ac.za

Op 26 Julie by die CoCreate Hub:

Nelson Mandela word deur die wêreld onthou vir sy lewe, sy leierskap en sy verbintenis tot menseregte en humanitêre sake. Laastens, ter herdenking van die gees van Madiba en sy visie om maatskaplike geregtigheid en vryheid vir almal te versprei, word ʼn Viering van Uitnemendheid op 26 Julie 2022 van 17:00 tot 19:00 by CoCreate Hub, Victoriastraat 7, Stellenbosch, gehou.

Die doel van hierdie geleentheid is om die uitnemendheid van plaaslike en studente-entrepreneurs en -kunstenaars in besigheid, sosiale entrepreneurskap, kuns, ontwerp, poësie, kookkuns en musiek te vier.

"Daar is geen passie daarin om klein te speel nie – om te skik vir ʼn lewe wat minder is as die een wat jy in staat is om te leef nie." – Nelson Mandela

Om by hierdie beperkte ervaring betrokke te raak, RSVP teen 22 Julie 2022: https://forms.office.com/r/3JNrnzbaSM. Navrae: Me Tamlyn February – onestop@sun.ac.za

* Personeel kan besonderhede van beplande aktiwiteite teen Vrydag 15 Julie 2022 na siadmin@sun.ac.za stuur. Die inligting sal gebruik word om ʼn lys van alle US Mandeladag-aktiwiteite vir Julie 2022 saam te stel.