Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nooit ’n vervelige oomblik as jy mikroskope aan dokters, patoloë, geoloë, metallurge en selfs entomoloë verkoop nie
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

​“Die beste verkoopspersone is diegene wat hulle veld werklik goed ken. Mense sal jou respekteer en meer vertroue in jou hê." – Dewald Noeth, MSc [SJM[1] in Biochemie.

In 2008 het Dewald Noeth 'n BSc-graad in Menslike Lewenswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Daarna het sy HonsBSc en MSc in Biochemie (ook aan die US) gevolg. Dewald is tans tegniese verkoopsspesialis in Wirsam Scientific and Precision Equipment Pty Ltd se afdeling vir mikroskopie.
“Ek is 'n tegniese verkoopsspesialis, dus verkoop ek laboratoriumtoerusting," sê Dewald.  “Ek spesialiseer in mikroskope – van  ligmikroskope tot atoomkragmikroskope en selfs skanderingselektronmikroskope. My werk is om nuwe kliënte op te spoor en verhoudings met hulle te bou, te probeer vasstel wat hulle behoeftes is en dan toerusting  aan hulle te verkoop wat by daardie behoeftes pas. En dan moet ek hulle natuurlik daarna ook gelukkig hou."

Dewald se gunsteling deel van sy werk is die mense. Hy sê: “Ek is 'n ekstrovert dus is die lekkerste deel die kliënte mense met wie ek verhoudings moet bou. Ek hou ook van die verskeidenheid. Baie mense is van mening dat slegs dokters mikroskope gebruik, maar dit is glad nie waar nie. Ja, 'n patoloog gebruik een, maar so ook geoloë, metallurge, entomoloë, om nie eers te praat van al die navorsingsdepartemente by 'n Universiteit nie. Daar is nooit 'n vervelige oomblik nie en daar is altyd nog iets om te leer."

Dewald skryf sy loopbaansukses tot dusver toe aan die verskeidenheid vaardighede wat hy geleer het gedurende sy tyd as student aan dei US. “Ek kan in 'n ander lewenswetenskappedepartement instap en voorstelle maak oor metodes vir navorsingsdoeleindes. Ek het in die departement geleer hoe om voorleggings te doen − dit het my die selfvertroue gegee wat ek nou het om my demonstrasies en voorleggings vir my kliënte te doen. Ek was baie betrokke by studenteorganisasies en het selfs in 2011 'n US Rektorstoekenning gekry vir Uitnemende Leierskap. Daardie leierskapsvaardighede wat ek ontwikkel het word daagliks in die samewerking met my span aangewend."

Sy raad aan studente wat dit oorweeg om in tegniese verkope te gaan, is om hard te leer. “Die beste verkoopspersone is diegene wat hulle veld werklik goed ken. Mense sal jou respekteer en meer vertroue in jou hê. Verskeidenheid maak die lewe interessant. Probeer om by die mense rondom jou te leer en raak betrokke! Dit sal handig te pas kom wanneer jy verhoudings met kliënte en kollegas moet bou.“

Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.

Op die foto: Dewald Noeth. Foto verskaf