Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-biblioteek se opgegradeerde infrastruktuur bevorder akademiese uitnemendheid
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiese Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 30/06/2022

Met opknappings wat strek van bykomende rekenaargebruiksareas tot die inrigting van geslagsneutrale badkamers, ondersteun die Biblioteek- en Inligtingsdiens van die Universiteit Stellenbosch (US) die Biblioteek se missie “om ruimtes en tegnologie van wêreldgehalte te bied en te onderhou wat gebruikers met diverse behoeftes in staat stel om kennis doeltreffend te ontdek en te skep".

Die opknapping van dié fasiliteit, wat gelykstaande aan wêreldklas- akademiese biblioteke is, is verlede maand voltooi.

Library.png

Hierdie opknappings maak deel uit van die Kampusvernuwingsprojek en voortgesette visuele regstelling op die US se kampusse. Die opgeknapte Biblioteek is voorts in lyn met die US se missie om innoverende navorsing, onderrig en leer van wêreldgehalte aan te bied.

Volgens Siviwe Bangani, Direkteur van Navorsingsdienste van die US-biblioteek, sal studente en ander besoekers aan die Biblioteek by die opgeknapte geriewe en die omvattende steundienste van topgehalte baat vind.

“Hierdie opknappings bied ruimtes wat integrasie en samewerking bevorder en die gaping tussen studente se ervaring in die klas en dié in die Biblioteek oorbrug. Die opknappings belyn die Biblioteek ook uiteindelik strategies met die US se Visie 2040 van ʼn florerende universiteit."

Bangani het bygevoeg dat die Biblioteek nou ʼn meer verwelkomende en gebruikersvriendelike ruimte vir studente en navorsers is. “Die opgeknapte Biblioteek is in lyn met internasionale biblioteekneigings om samewerkende studenteleer en -navorsing deur kreatiewe ern stimulerende ruimtes te bevorder."

Wat is nuut?

Die Biblioteek het oor die jare heen etlike interne opknappings ondergaan, wat gespruit het uit die voortgesette ondersoek na nuwe tegnologiese ontwikkelings om dienste aan personeellede en studente te verbeter, by veranderende behoeftes en vereistes aan te pas en akademiese uitnemendheid te help bevorder.

Die jongste opknappings aan die Biblioteek se infrastruktuur sluit in:

  • ʼn Opgegradeerde meganiese lugversorgingstelsel.

  • Nuwe draaihekingange en ʼn nuwe sekuriteitsarea.  
    2D1A8684.JPG
  •  ʼn Nuwe sirkulasie- en inligtingstoonbank met outomatiese leenfasiliteite.

  • Opgeknapte, geslagsneutrale badkamers op die boonste vlak, asook opgeknapte badkamers op die onderste vlak.

  • Nuwe vloere en bykomende rekenaarwerkstasies in die studie- en werkareas. 

  • Akoestiese panele en ʼn skuins loopvlak is geïnstalleer om geraasvlakke te verlaag.

  • Nuwe leesruimtes is naby die Biblioteek se ingang ingerig om ʼn leeskultuur te bevorder.

  • Drie nuwe lokaleareanetwerk-kamers is bygevoeg om netwerkontvangs te verbeter.

  • Die kantore van die AgriWetenskappe- en Wetenskapbibliotekarisse op die boonste vlak is opgeknap, terwyl nuwe kantore vir navorsingsteunbibliotekarisse ingerig is.  

Volgens Bangani is die Biblioteekpersoneel verheug oor die veranderings, wat die opknapping van hul werkruimtes insluit. Die studente is net so in hul noppies met die nuwe ruimtes en die gebruik daarvan is prysenswaardig. Talle kliënte het die Biblioteek al met die verbeterings gelukgewens, het hy gesê.

“Die Biblioteek het opnuut getoon dat dit ʼn gebruikersentriese entiteit is wat vir die gebruikers se behoeftes omgee. Die bal is nou in hul baan om die ruimtes te gebruik. Ons as die Biblioteek- en Inligtingsdiens wil tot verhoogde omset- en uitsetkoerse van studente bydra, hetsy deur ons ruimtes, hulpbronne of dienste," het Bangani bygevoeg. 

Klik hier vir meer inligting oor die nuwe Biblioteek. 

Library2.png