Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die regering moet na inwoners luister wanneer dit informele nedersettings opknap
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 28/06/2022

Suid-Afrikaners wat in informele nedersettings woon, blyk nie ʼn sê te hê in regeringsbesluite oor die soort opknappings wat hulle nodig het nie.

Só meen dr Sameera Mahomedy, ʼn na-doktorale navorsingsgenoot en dosent by die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Eiendomsreg in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het onlangs haar PhD in Publiekreg van die US ontvang oor die rol van gemeenskapsdeelname in die opknapping van informele nedersettings.

“Wanneer dit by die opknapping van informele nedersettings kom, is die Suid-Afrikaanse regering skynbaar onwillig om behoorlike deelnameprosesse te fasiliteer en die belange van inwoners in ag te neem. Pleks daarvan, beskou die regering deelname as seremonieel en gebruik dit swakker, hiërargiese vorme van deelname, soos om inwoners in te lig oor besluite wat reeds geneem is," sê Mahomedy.

As deel van haar studie het Mahomedy die rol van beplanningsreg in die skepping van informele nedersettings gedurende kolonialisme en apartheid ondersoek, omdat etlike regsinstrumente gedurende hierdie tydperke gebruik is om talle Suid-Afrikaners van geleenthede te ontneem om deel te neem aan besluite wat hulle regstreeks geraak het. Sy het etlike beleide en programme, wetgewing en regsbeslissings sedert 1994 bestudeer om die omvang te bepaal waartoe hulle deelname moontlik gemaak het.

Mahomedy het voorts die Suid-Afrikaanse en Brasiliaanse benaderings tot gemeenskapsdeelname in die konteks van die opknapping van informele nedersettings vergelyk. Dié twee lande het ʼn soortgelyke sosio-ekonomiese klimaat en politieke geskiedenis, asook ooreenkomste wat betref die patrone van informele nedersettinggroei en die gebruik van deelname om dit aan te pak.

Volgens Mahomedy ignoreer Suid-Afrikaanse regeringsamptenare gemeenskapsdeelname wanneer hulle beleide en programme met betrekking tot informele nedersettings implementeer wat ná 1994 ontwikkel is. Dit gebeur selfs al is deelname in hierdie beleide en programme vervat.

“Dit is derhalwe nie verrassend dat swak lewensomstandighede en misdaad in talle informele nedersettings voortduur nie en dat inwoners nie toegang tot werk, sosiale geriewe en basiese dienste het nie."

Mahomedy sê inwoners se deelname en interaksie is gewoonlik veel groter as hul sienings van meet af by ʼn projek ingesluit word – en op ʼn egte manier wat ʼn verskil maak.

“Dit laat hulle soos medeskrywers van die projek voel en stel hulle in staat om eienaarskap van die projek te neem en met die instandhouding van die opknappings te help.

“Dis belangrik om daarop te wys dat inwoners van informele nedersettings nie as blote ontvangers of begunstigdes van opknappings gesien moet word nie; hulle het bepaalde vermoëns en vaardighede wat in die beplanningsproses in ag geneem moet word."

Mahomedy stel voor dat grondwetlike waardes soos menslike waardigheid en gelykheid, asook die insluiting van inwoners se insette, die grondslag vir deelnameprosesse moet vorm.

“Deelnameprosesse moet voorts plaasvind in ʼn taal wat inwoners verstaan, omdat Engels dikwels nie hul huistaal is nie. Dit moet duidelik gemaak word in die regsdokumente wat aan die opknappings uitvoering gee, asook in die praktyk."

Mahomedy voeg by dat staatsamptenare opleiding moet ontvang om seker te maak hulle is in staat om betekenisvolle deelnameprosesse te fasiliteer. Voorts moet gemeenskappe oor hul regte ingelig word, asook oor wat hulle van deelnameprosesse moet verwag.

“Strenger strafmaatreëls moet teen die regering toegepas word, met inbegrip van finansiële boetes, as betekenisvolle deelnameprosesse nie behoorlik gefasiliteer word nie," sê sy.

Lesse uit Brasilië

Omdat gemeenskapsdeelname aan opknappingsprojekte in informele nedersettings ʼn uitdaging bly, sê Mahomedy die Suid-Afrikaanse regering kan ʼn ding of twee by sy Brasiliaanse eweknie leer oor hoe om inwoners by deelnameprosesse in te sluit.   

Volgens haar gebruik Brasilië ʼn holistiese en geïntegreerde benadering tot deelname. Dit sluit ʼn maatskaplike tegniese werkkomponent (MTW) in, wat uit drie pilare bestaan: mobilisasie (deelname), inkomstegenerering, en higiëne- en omgewingsopvoeding. ʼn Onafhanklike moniteringsliggaam hou toesig oor die MTW-komponent, terwyl ʼn permanente verteenwoordiger by die opknappingsterrein voortgesette oop gesprekke voer met die gesinne wat geraak word.

“'n Soortgelyke benadering in Suid-Afrika kan ʼn meer geïntegreerde reaksie op opknappingsprojekte aanmoedig en die volhoubaarheid daarvan bevorder. Dit kan help om inwoners se bekommernis te besweer oor die gebrek aan deursigtigheid en toegang tot inligting, asook verwarring verhoed wat daaruit spruit dat te veel belangegroepe met die inwoners kommunikeer."

Mahomedy voeg by dat die Brasilaanse regering vir monitering en evaluasie dwarsdeur projekte voorsiening maak, asook in die fase ná okkupasie.

“Ofskoon Suid-Afrika voorsiening vir monitoring en evaluasie maak en seker maak opknappings word agterna in stand gehou, gaan Brasilië ʼn stap verder met ʼn gedetailleerde evaluasie van die deelnameprosesse wat plaasgevind het.

“Suid-Afrika maak tans nie vir evaluasie van die deelnameprosesse voorsiening nie en fokus slegs op die fisieke verbeteringe wat aangebring is."

Mahomedy sê inwoners in Brasilië neem aan werksessies oor voorheen suksesvolle opknappingsprojekte deel en gaan op studietoere van hierdie areas, veral waar ooreenkomste tussen projekte voorkom.

“Omdat sulke werksessies vertroue kan help bou, kan dit ook in Suid-Afrika nuttig wees en help in gevalle waar inwoners weens vorige slegte ervarings met deelnameprosesse soms onwillig kan wees om deel te neem.  

“Hierdie werksessies moet die betrokkenheid van verskillende belangegroepe aanmoedig, soos gemeenskapslede, gemeenskapsgebaseerde organisasies, plaaslike raadslede en ander regeringsamptenare."

Al kan Suid-Afrika van Brasilië leer, maan Mahomedy teen ʼn “een-grootte-pas-almal"-benadering tot deelname wanneer informele nedersettings opgeknap word, omdat selfs die Brasiliane probleme tydens deelnameprosesse ervaar het.   

“Dis belangrik om opknappingsprojekte te ontwerp om die plaaslike konteks te pas en dít is waar gemeenskapsdeelname ʼn deurslaggewende rol speel.

“Ons het deelnemende beplanning nodig sodat ons blywende oplossings vir maatskaplike uitsluiting kan vind, inwoners van informele nedersettings kan bemagtig, en ruimtelike geregtigheid kan bewerkstellig," sê Mahomedy.