Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US handhaaf prestasie op internasionale ranglyste
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 23/06/2022

Die Universiteit Stellenbosch handhaaf steeds sy bestendige prestasie in ʼn kompeterende globale hoëronderwyslandskap. Die Universiteit het sy posisie in die jongste  QS (Quacquarelli Symonds) World University Rankings verbeter en word steeds as een van die top-500 tersiêre instellings ter wêreld bestempel.

Die US beklee die 454ste plek op die 2023-ranglys wat onlangs bekend gestel is, vergeleke met verlede jaar se 482ste plek. Volgens dié ranglys beklee die US die vierde plek in Suid-Afrika (en in Afrika).  

Die QS World University Rankings word as een van die top-drie internasionale universiteitsranglyste beskou en die 2023-weergawe evalueer meer as 1 400 universiteite – die grootste QS-universiteitsranglys tot nog toe.

Hierdie instellings is aan die hand van die volgende ses kategorieë (of aanwysers) geassesseer om universiteitsprestasie doeltreffend te meet: akademiese reputasie (onderrig- en navorsingsgehalte); werkgewer se aansien (om studente vir suksesvolle loopbane voor te berei/om die mees bekwame, innoverende en doeltreffende graduandi te lewer); fakulteit-tot-student-ratio (om studente betekenisvolle toegang tot lektore en studieleiers te bied); aanhalings per fakulteit (getal akademiese aanhalings in referate wat oor ʼn tydperk van vyf jaar deur ʼn universiteit geproduseer word); asook internasionale student-ratio & internasionale fakulteit-ratio (die vermoë om studente en personeel van gehalte van oor die wêreld heen te lok).

In haar kommentaar oor die US se jongste prestasie, het prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, gesê ofskoon die Universiteit nie amptelik aan die QS Rankings deelneem nie, is dit goed om te hoor dat die US sy posisie verbeter het.

“Ons konsekwente prestasie op verskeie internasionale ranglyste getuig van die instelling se visie om 'Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees, wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend gereken word en waar ons kennis in diens van die gemeenskap bevorder.' Inaggenome dat die maatskaplike, ekonomiese en politieke konteks van universiteite op die kontinent van Afrika aansienlik van dié van universiteite in hoë-inkomstelande verskil, is die US se voortgesette teenwoordigheid op gevestigde ranglyste ʼn noemenswaardige prestasie," het sy gesê.

Die US het in April 2022 ook die Center for World University Rankings se ranglys van die beste 2 000 hoëronderwysinstellings ter wêreld gehaal.

Die US het oor die afgelope klompie jare konsekwent verskillende globale universiteitsranglyste van die beste tersiêre instellings ter wêreld gehaal, insluitend die QS World University Rankings, die Times Higher Education World University Rankings en die Times Higher Education Emerging Economies University Rankings.