Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sportwetenskap wil ʼn verskil maak aan die mensdom, sê nuwe departementshoof
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
Gepubliseer: 23/06/2022

In 1936 het die Duitse geneesheer, Ernst Jokl, by die Universiteit Stellenbosch aangesluit en die eerste departement van fisiese opvoeding in Suid-Afrika gestig. Hierdie baanbrekerswerk is vanjaar voortgesit met die aanstelling van prof Wayne Derman as die uitvoerende hoof van die Departement Sportwetenskappe.

Hierdie departement bring die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Afdeling Sportwetenskap, Afdeling Biokinetika en die Instituut vir Sport- en Oefeninggeneeskunde (ISOG) byeen, en sal moontlik hernoem word as die Departement Oefening-, Sport- en Leefstylgeneeskunde.

Derman behou steeds die posisie as ISOG-direkteur wat hy in 2015 opgeneem het, en is ingenome met die nuutste verwikkelinge in die departement. “Strategies beteken dit ons is baie meer gefokus op samewerking tussen die drie afdelings," sê hy. “Daar is reeds ʼn baie sterk samewerkende geskiedenis tussen die afdelings en die nuwe departement sal dit verder versterk."

Die Departement Sportwetenskappe het ongeveer 400 personeellede en studente, dek ʼn verskeidenheid multidissiplinêre vaardighede, en sluit sielkunde, gedragsverandering en aspekte van die sosiale wetenskappe in. “Daar is ʼn aantal gekombineerde aspekte aan ons werk," verduidelik Derman. “Een daarvan is dat ons baie fokus op menslike prestasie op ʼn kompeterende vlak."

Nieteenstaande sê hy dat die departement se werk heelwat verder strek as net kompeterende sport: “Sport en fisiese aktiwiteit is belangrike aspekte van geneeskunde, naamlik leefstylgeneeskunde. Dit is belangrik dat mense fisiese aktiwiteit beskou as ʼn manier om die risikofaktore vir chroniese leefstylsiektes te omseil."

Hy voeg by dat die departement al in die verlede baie werk gedoen het in omliggende gemeenskappe in die Tygerberg-streek in plekke soos Bishop Lavis, asook in die Stellenbosch-area in Cloetesville, Kayamandi en ander gemeenskappe: “Dit hou alles verband met fisiese aktiwiteit en ʼn gesonde leefstyl. Ons hoop om hierdie platforms verder te bevorder en nog meer impakvolle werk te doen."

Derman glo dat die navorsing wat die departement doen ʼn betekenisvolle rol moet speel om mense se lewens te verbeter: “Belyn met die Universiteit Stellenbosch se strategiese doelwit, is dit my visie om hierdie hele departement op navorsing te laat fokus. Ons wil navorsing doen wat ʼn groot verskil gaan maak aan die mensdom. Dit is hoekom leefstyl so ʼn belangrike fokusarea is vir die departement.

“Natuurlik wil ons graag die beste rugbyspan en die beste netbalspan hê met al daardie aspekte van prestasie. Maar die ware impakvolle werk wat ons gaan doen gaan oor hoe om die bevolking op ʼn veilige en gesonde manier aan die beweeg te kry."

Derman gebruik die werk van die Afdeling Biokinetika as ʼn voorbeeld: “Kinderkinetika is ʼn deel van hierdie afdeling – dit is ʼn area wat fokus op die voorsiening van beweegkunde en sport aan baie jong kinders, veral dié met verswakkings."

Die aanpassing van sport en fisiese aktiwiteite vir individue met gestremdhede is een van die Departement se voorste vaardighede. “Ons is van die wêreldleiers in die gebied van para- en aangepaste- sportgeneeskunde," sê Derman.

“Ons het nou bande met die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK) en Maties Parasport. Baie van die werk wat ons doen kyk na hoe mense met gestremdhede kan deelneem en uitblink is sport binne ʼn omgewing wat so veilig as moontlik gemaak is deur beserings en siekte te voorkom."

Derman beklemtoon dat ten minste 15 persent van die Suid-Afrikaanse bevolking die een of ander vorm van fisiese gestremdheid het, en dat soveel as 65 persent van Suid-Afrikaners chroniese leefstylsiektes ontwikkel: “Daarom is dit uiters belangrik dat ons departement ʼn rol speel daarin om alle fasette van die bevolking – veral diegene met gestremdhede – te kry om doeltreffend oefening te doen sonder besering en siekte."

Nog ʼn belangrike aspek van Derman se visie vir die departement gaan oor die Lewende Laboratorium in Stellenbosch – om die huidige fasiliteite in die gebied van sport op te dateer en om nuwe ISOG-fasiliteite by te voeg om sodoende die verskillende komponente van die Departement naby mekaar te hê.

Om hierdie doelwit in die volgende twee tot drie jaar te bereik is nog ʼn groot deel van die reistog wat Derman begin het toe hy in 1993 sy loopbaan in sportgeneeskunde afgeskop het as ʼn dosent by die Universiteit van Kaapstad se Navorsingseenheid vir Sportwetenskappe en Sportgeneeskunde. “Ek wou my liefde vir langafstandhardloop koppel aan my liefde vir my werk in sportgeneeskunde, wat op daardie stadium nog in sy kinderskoene was in Suid-Afrika," onthou hy.

“Nou is sportgeneeskunde ʼn spesialiteit in eie reg by die kollege van geneeskunde. Dit is die resultaat van die gesamentlike werk wat ons gedoen het tydens my loopbaan. Dit was iets baie positiefs, om mense gesond te hou en om seker te maak dat hulle iets kan doen wat goed is vir hulle – om aan sport deel te neem."

Derman sê: “Dit is ʼn voorreg om in die veld van sport- en oefeninggeneeskunde te werk; oefeninggeneeskunde is baie opwindend. Dit is die uiterse uitdaging in geneeskunde – jy moet baie van ortopedie weet, maar jy ook baie van interne geneeskunde. Daarom geniet ek dit om met mense met gestremdhede te werk, dan het jy ʼn ekstra laag van kompleksiteit."

Derman is al sedert 2009 die mededirekteur van die Internasionale Olimpiese Komitee se Navorsingsentrum vir die Voorkoming van Besering en Beskerming van Atlete se Gesondheid in Suid-Afrika, en direkteur van die FIFA Mediese Sentrum van Uitnemendheid by die Universiteit Stellenbosch sedert 2016.

Hy was ook die hoof mediese beampte van Span Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in Sydney in 2000 en in Atene in 2004. Hy het ook by ses Paralimpiese Spele gewerk as ʼn IPK-lid. By die onlangse Winterspele in Beijing is hy gevra om met die fakkel te hardloop. “Dit was ʼn ongelooflike eer," sê hy.

Gedurende sy loopbaan het Derman ʼn aantal toekennings en eerbetone ontvang. Hy lig die Paul Harris-genootskap van Rotariërs Internasionaal uit as een van die gedenkwaardigste. “Ek het dit ontvang ter erkenning van my werk met Paralimpiese atlete. Met dié toekenning kons ons ʼn prostetiese been skenk aan iemand in Angola."

Hy is ook baie trots op die toekenning wat hy in 2005 van die Suid-Afrikaanse Minister van Gesondheid ontvang het vir uitnemendheid in gesondheidsorg. “Ek het ʼn wonderlike loopbaan gehad," sê hy. En natuurlik is dit nog lank nie verby nie. Sy aanstelling as hoof van die Departement Sportwetenskap is beslis die begin van ʼn nuwe en opwindende fase.

“Dit is betekenisvolle werk; dit raak mense se lewens," sê Derman. “Om mense te help om aan oefening deel te neem en te voldoen aan die vereistes van ʼn gesonde leefstyl. Dit is baie kragtige geneeskunde."