Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en edX sluit vennootskap om toegang tot hoë-gehalte aanlyn onderwys te verbreed
Outeur: Division for Learning and Teaching Enhancement / Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking
Gepubliseer: 22/06/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) kondig met trots sy vennootskap met edX, een van 2U, Inc. se voorste aanlynleerplatforms ter wêreld, aan. Net soos van die wêreld se beste akademiese instellings, NRO's en organisasies, sal die US nou as 'n edX-vennoot kursusse ten volle aanlyn kan aanbied deur middel van 'n platform wat tans met meer as 44 miljoen studente in 196 lande spog. Die Universiteits se loodskursus sal in Julie vanjaar aanlyn beskikbaar wees.

Prof Wim de Villers, Visekanselier van die US, sê hulle is trots daarop om saam met edX te kan werk. “Die US vereenselwig hom met edX se etos van mensgesentreerde onderrig deur die behoeftes binne die onderwysruimte te identifiseer en daarop te reageer. Die mense in ons onderskeie organisasies strewe daarna om 'n weg na 'n beter, betekenisvoller lewensbestaan vir lewenslange studente te bevorder."

Die 'StellenboschX'-kursusportefeulje (wat op die internasionale edX-platform gehuisves word) gaan 'n wye reeks vakgebiede insluit. Hierdie aanbiedings sal beide die US se akademiese en navorsingskundigheid ten toon stel en 'n bereidheid toon om op die immerontwikkelende behoeftes van hedendaagse, volwasse studente te reageer. Die portefeuljes sal betaalde (sertifikaatlewerende) professionele sertifikate én oop kursusse wat gratis voltooi kan word, insluit.

​​Prof Deresh Ramjugernath, die US se Viserektor: Leer en Onderrig, sê die vennootskap met edX gaan 'n verreikende impak hê.

“Dit beteken in reële terme dat studente van regoor die wêreld met hul uiteenlopende agtergronde en vakgebiede toegang tot die unieke aanbod van die Universiteit Stellenbosch kan kry en moontlik netwerke oor geografiese grense heen kan vorm. Hierdie toekomstige netwerke hou die moontlikheid in om nuwe idees, prosesse en uitsette aan die gang te sit wat die gemeenskap en samelewing kan verbeter," meen Ramjugernath.

Hibridiese leer (HL)

Die vennootskap is deel van die US se hibridiese leer-strategie, wat sedert die middel van 2020 in werking is. Hierdie strategie behels dat die US die volle potensiaal van digitaleleertegnologieë aanwend en ook die Universiteit se interne kapasiteit vir onderrigontwerp uitbrei. Die netto-gevolg het ten doel om die US se akademiese aanbod met die immerontwikkelende behoeftes van 'n breër studentemark te belyn.

Volgens dr Antoinette van der Merwe, die US se Senior Direkteur vir Leer- en Onderrigverryking, is die Universiteit daartoe verbind om verskillende leerroetes en modusse van voorsiening te ondersoek om huidige en toekomstige studente te bedien.

“Die US wil as 'n residensiële universiteit voortgaan om sy studente op kampus te bedien, maar het ook ten doel om deur sy HL-strategie te verseker dat sy kursusaanbiedings toenemend toeganklik is vir internasionale studente, werkende professionele mense, lewenslange studente en studente wie se persoonlik omstandighede hulle nie toelaat om gereeld na kampus te reis of in te woon nie," sê sy.

Die 'StellenboschX'-kursusportefeulje wat op edX gehuisves word, sal hierdie strategie ondersteun deur buigbare, algehele aanlyn kursusse in te sluit wat vryelik beskikbaar is, asook kursusse wat 'n betaalopsie behels om 'n sertifikaat ná suksesvolle voltooiing te behaal. Die heel eerste StellenboschX-aanbod, die Strategiese Menslikehulpbronnebestuur-Xreeks, is 'n voorbeeld van só 'n reeks aanlyn kursusse wat aan studente toegang bied tot vaardigheidsontwikkeling wat hoog in aanvraag is, asook die geleentheid om 'n StellenboschX-sertifikaat te verdien as bewys van hul leer.

Hierdie loodskursusreeks (wat in Julie 2022 bekendgestel word) is gegrond op een van die US se eerste amptelike hibridiese leerprogramme – die hoogs suksesvolle Nagraadse Diploma in Strategiese Menslikehulpbronnebestuur. Dit sal aan studente 'n mengsel van akademiese en praktykgerigte insigte bied terwyl hulle deur 'n hoogs deelnemende, dog buigsame leerervaring gelei word waar hulle hul eie pas kan bepaal. Die hibridieseleer-onderrigontwerpspan het kragte saamgesnoer met die Departement Bedryfsielkunde om inhoud uit die bestaande nagraadse kwalifikasie te neem en dit met materiaal en leeraktiwiteite aan te vul wat tot 'n internasionale mark van aanlyn studente sal spreek.

Die US se ontwikkelingspan word verder gelei deur edX se ondersteuningsinfrastruktuur wat toegang tot 'n rykdom van markinligting en pedagogiese insigte oor toeganklike aanlyn leerontwerp insluit. Kabelo Serutle, VP en algemene bestuurder van 2U, het die afgelope tyd nou saamgewerk met die US se span vir hibridiese leer ter voorbereiding van die bekendstelling van die eerste kursus.

“Die bekendstelling van StellenboschX is 'n bewys van die Universiteit se verbintenis tot akademiese innovasie en om sy uiteenlopende groep studente te ondersteun," sê Serutle. “Ons sien uit daarna om die Universiteit Stellenbosch in die edX-familie te verwelkom en om voort te gaan om saam te werk aan hierdie program ten einde onderrig toeganklik en bekostigbaar te maak vir studente."