Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Museum verower toekenning vir bevordering van meertaligheid
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 21/06/2022

Die Universiteit Stellenbosch Museum het pas die 2022 Nasionale PanSALB (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad) se Toekenning vir Meertaligheid ontvang vir die gebruik en bevordering van meertaligheid by 'n hoëronderwysinrigting.

Die US Museum het hierdie gesogte toekenning op 15 Junie by 'n PanSALB-seremonie in Johannesburg in ontvangs geneem. Die US is saam met twee ander universiteite, die Universiteit van Venda en Unisa, in die onderwys-kategorie vir die toekenning benoem.

Die toekenning erken onder meer die US Museum se verbintenis daartoe om sy programme so wyd as moontlik te bemark om in sy uiteenlopende gehore se behoeftes te voorsien en om die Museum inklusief te maak. Die Museum verskaf al sy bemarkingskommunikasiemateriaal in Engels, Afrikaans en isiXhosa.

Die PanSALB-toekenning sal nou saam met die Museum se ander twee toekennings van 2018 – die ministriële Kultuursaketoekenning vir “Beste Museum wat sosiale insluiting bevorder" en die Volhoubare Ontwikkelingstoekenning van die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit – pryk.

Die Direkteur van die US Museum, Bongani Mgijima, is opgewonde en verheug oor hierdie toekenning vir bevordering van meertaligheid. Volgens hom het die Museum jare gelede besluit om programme in ooreenstemming met die Universiteit se Visie 2040 aan te bied.

“Hierdie toekenning getuig van die toewyding van die museum om 'n inklusiewe universiteitsgemeenskap te bou. Al ons museumprogramme is ontwerp met hierdie doel in gedagte," het Mgijima gesê.

Met die Museum se bevordering van meertaligheid en sosiale insluiting, was die instelling 'n baie goeie kandidaat vir die PanSALB-toekenning vir individue, instellings of organisasies wat uitgeblink het in “die bevordering, beskerming en bewaring van alle amptelike tale, insluitende Khoi-, Nama- en San-tale, asook Suid-Afrikaanse Gebaretaal".

Buiten die Onderwys-kategorie, was die ander kategorieë Taal en Letterkunde, Taalaktivistoekenning, Media, Jeug, Regering of Openbare Sektor, Tegnologie en Handel, Musiek, Vertaling en Tolking en die Voorsitter se toekennings vir lewenslange prestasies.

Behalwe vir die US Museum se meertalige bemarkingsmateriaal, bied dit ook ander programme aan wat sosiale insluiting bevorder. Dit sluit die Afrika-dromslaan-Dinsdae in om toeriste en plaaslike inwoners in staat te stel om te leer hoe om die Afrika-drom te speel.

Die Museum bied ook aktiewe openbare opvoedkundige programme aan om uiteenlopende gehore te lok. Die Toegang tot Visuele Kunste-program is die Museum se toonaangewende program vir sosiale impak wat op skoolleerders gemik is. Daar word vir leerders van minderbevoorregte skole betaal om die leerders se toegang tot die Universiteitsmuseum te vergroot en om leerders aan kuns bekend te stel.

Woensdae se Kuns-wandelings (Wednesday Art Walkabout) is 'n inisiatief van die Universiteitsmuseum om mense op te voed en sy kunsversamelings met die publiek te deel, terwyl die Oop gesprekke-reeks (Just Conversations) op onder meer sleutelkwessies soos redevoerende gesprekke oor museums, erfenis en sosiale geregtigheid.

Laaste, maar nie die minste nie, fokus die Ubuntu Dialoë-projek, ʼn samewerkingsprojek tussen die US Museum en die Universiteit van Michigan Staat, op transnasionale dialoog en gesprekke tussen studente, fakulteits- en gemeenskapsvennote in Suid-Afrika en die Verenigde State.

Volgens Mgijima word al die bemarkingsmateriaal in drie van die nasionale tale versprei. “Die prestasie het nie ongesien verbygegaan nie. Die Museum se werk om veeltaligheid te bevorder, is vanuit die instelling en gemeenskap geprys."

​Vir meer inligting oor die Universiteitsmuseum se program, besoek: https://www.facebook.com/UsMuseum

 

Hooffoto: Museum personeel hou die PanSALB toekenning vas. 

Foto: Sandra Mulder