Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Drie FGGW-navorsers-klinici ontvang toekennings van Discovery-stigting
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 21/06/2022

Drie klinici-navorsers van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het toekennings ontvang van die Discovery-stigting vir hulle afsonderlike werk in voortplantingsgesondheid, ginekologiese onkologie en geestesgesondheid in landelike gebiede.

Dié drie genote is drs Lebogang Phahladira, Haleema Addae en Ramokone Mogotlane. Al drie het hulle dankbaarheid uitgespreek vir die geleentheid om volkome op hulle werk te kan fokus, en sodoende by te dra tot die gesondheid van gemeenskappe in hulle afsonderlike velde.

Dr Lebogang Phahladira

Phahladira, ʼn senior dosent en navorser aan die Departement Psigiatrie, het gesê dat hy baie opgewonde is oor die toekenning van hierdie “hoogskompeterende" prys wat hom die geleentheid bied om as ʼn spesialis-psigiater by die Dr Harry Surtie Hospitaal in Upington te werk. Sy gasheer is dr Bradley Wentzel van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid.

Phahladira het ʼn PhD in skisofrenie en psigose van die US, en werk tans by die Lentegeur Psigiatriese Hospitaal. Sy navorsing fokus op die behandeling van jongmense met skisofrenie in die vroeë stadiums van die siekte in omgewings met beperkte hulpbronne.

“Hierdie befondsing sal aangewend word om die kapasiteit te ontwikkel van mense wat na pasiënte omsien wat aan geestesiektes lei in Upington en ander afgeleë gebiede van die Noord-Kaap. Gemeenskapsgesondheidwerkers, geestesgesondheidverpleërs en dokters sal opleiding ontvang.

“Ons hoop om volhoubare kapasiteit te bou vir gesondheidswerkers in die Noord-Kaap om na mense met geestesiektes om te sien en hulle te behandel," het hy gesê. “Op die langtermyn hoop ons dat die ontwikkeling van kapasiteit verbeterde kliniese uitkomste sal meebring, wat beter algemene behandeling van pasiënte insluit – veral kwesbare mense met ernstige geestesiektes.

“Wat my wakker hou in die nag is hoe om die lewensgehalte van mense met geestesiekte te verbeter, hoe om hulle in die samelewing te integreer en om te verseker dat die gesondheidsorgstelsel meer aanpasbaar is by hulle behoeftes. Ons sal verseker dat opleiding plaasvind en ʼn stelsel implementeer om te verseker dat mense toegang het tot sorg in omgewings met beperkte hulpbronne soos Upington en ander afgeleë gebiede in die Noord-Kaap.

“Ek hoop dat die werk wat ons doen ʼn model van uitnemendheid in omgewings met beperkte hulpbronne sal word."

Volgens Phahladira is die situasie vir mense met geestesiekte in die Noord-Kaap tans nie baie goed nie. Mense van Upington moet vir ure lank reis tot in Kimberley vir psigiatriese sorg aangesien daar geen spesialis psigiatriese diente naby is nie. Daar is net een geestesgesondheidverpleër wat die area bedien, met geen toegewyde dokters wat mense met geestesiekte behandel nie. Die hospitaal is ook nie toegerus om pasiënte met geestesiekte te bestuur nie. Ons is werklik dankbaar dat die Discovery-stigting ons help om hierdie fondasie vir die toekoms te lê."

Phahladira het op ʼn plaas in Limpopo groot geword en het ʼn landelike skool bygewoon voordat hy medies gaan studeer het. Hy is die afgelope 10 jaar al by die US waar hy ʼn dosent is en navorsing doen oor skisofrenie en pasiëntesorg.

“Skisofrenie het my nog altyd gefassineer. My doelwit is om dinge beter te maak vir mense met geestesiektes. Ek hoop om my navorsing oor skisofrenie en psigose voort te sit en om nuwe modelle te ontwikkel vir die opleiding van mediese studente.

“Ek glo ons moet weg beweeg van die 'ivoortorings' en onderrig bied nader aan die gemeenskap. As ons onderrig desentraliseer sal ons die uitkomste vir arm en kwesbare landelike pasiënte verbeter. As ons dit kan bewerkstellig sal Suid-Afrika sal ʼn beter plek wees."

Dr Ramokone Mogotlane

Mogotlane is “in die wolke" oor die toekenning wat haar in staat stel om haar opleiding in die sub-spesialiteit voortplantingsgeneeskunde en endokrinologie na te volg. Volgens haar is daar is ʼn tekort aan spesialiste om die “baie groot probleem" van onvrugbaarheid aan te spreek.

Sy het oorspronklik die toekenning ontvang terwyl sy by die Universiteit van die Vrystaat gestudeer het, en is oorgeplaas na die US met die toekenning. Prof Thabo Matsaseng van die Departement Verloskunde en Ginekologie is haar gasheer.

Mogotlane was voorheen ʼn verloskundige en ginekoloog in privaatpraktyk in Tshwane, maar sal nou voltyds op haar studies en opleiding fokus.

“Ek is so opgewonde dat ek hierdie toekenning op meriete ontvang het," het sy gesê.

Mogotlane het grootgeword in Umlazi naby Durban, asook Soshanguve buite Pretoria, en het ʼn sterk mediese agtergrond: haar ouma was ʼn vroedvrou in Limpopo en albei haar ouers was professors van geneeskunde.

Sy het medies geswot by die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (wat vandag bekend staan as Sefako Makgatho Universiteit van Gesondheidswetenskappe), en het gespesialiseer in verloskunde en ginekologie by die Universiteit van Pretoria voordat sy ʼn genootskap opgeneem het in voortplantingsgeneeskunde by die Universiteit van die Vrystaat.

Mogotlane het gesê sy glo dat onvrugbaarheid ʼn groot probleem by mans en vrouens in Suid-Afrika is. “Daar is ʼn werklike behoefte vir bewustheid oor hoe om na jou vrugbaarheid om te sien. Daar is ook ʼn behoefte vir toegang tot sorg vir onvrugbaarheidsdienste. Dit is ʼn spesialiteitveld en dit is moeilik om toegang daartoe te kry in openbare hospitale aangesien dit befondsing vereis wat nie in die openbare sektor beskikbaar is nie."

Mogotlane het klem gelê op daarop dat mense meer bewus moet wees van die moontlike oorsake van onvrugbaarheid, en hoe om dit te oorkom. “Vrouens verloor hulle vrugbaarheid omdat hulle besig is om loopbane na te streef. Lewenstyl is ook ʼn belangrike faktor. Mense moet bewus wees daarvan dat vetsug ʼn impak het op vrugbaarheid in mans en vrouens, asook rook en die oormatige gebruik van alkohol."

Een van haar doelwitte is om bewustheid te skep oor die vermybare oorsake van onvrugbaarheid. Sy het ook ʼn passie vir onkofertiliteit (ʼn veld wat onkologie en voortplantingendokrinologie byeenbring). Sy hoop om ʼn verskil te maak in voortplantingsgeneeskunde.

Dr Haleema Addae

Addae subspesialiseer in ginekologiese onkologie by die Tygerberg-hospitaal en dr Haynes van der Merwe van die Departement Verloskunde en Ginekologie is haar gasheer. Addae het gesê sy is ingenome en opgewonde oor die toekenning.

Volgens haar sou baie mense nie kon subspesialiseer sonder hierdie soort toekennings nie.

“My pos word glad nie befonds nie, dus stel hierdie toekenning my in staat om te subspesialiseer sonder dat ek my oor geld hoef te bekommer. Ek het nie die afleiding om deeltydse werk te hoef te doen nie. Ek kan fokus op my studies en die navorsing wat daarmee gepaard gaan. Dit is werklik ʼn seëning."

Addae was in Butterworth in die Oos-Kaap gebore en het groot geword in die Oos-Kaap en Johannesburg. Sy het haar voorgraadse kwalifikasie by die Universiteit van Kaapstad (UK) voltooi en haar gemeenskapsdiens in ʼn landelike hospitaal in die Oos-Kaap gedoen. Daarna is sy terug na UK om in verloskunde en ginekologie te spesialiseer.

Voordat sy Tygerberg toe gekom het om te subspesialiseer het Addae as ʼn algemene praktisyn gewerk by die Thelle Mogoerane plaaslike hospitaal in Johannesburg, waar sy besef het dat daar ʼn groot behoefte is vir ginekologiese onkoloë in Suid-Afrika. “Baie pasiënte presenteer laat met kanker. Hulle moet geopereer word deur ʼn gekwalifiseerde ginekologiese onkoloog, maar aangesien daar ʼn tekort is, word hulle deur die verkeerde mense geopereer. Ek is bly dat ek uiteindelik daartoe sal bydra om daardie gaping te oorbrug as ʼn ginekologiese onkoloog en sal help om die siektelas van veral servikskanker in die land te verlig."

Foto-onderskrif: Drsr Haleema Addae, Lebogang Phahladira en Ramokone Mogotlane.