Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika-Christene moet ligloop vir ‘kaping’
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 09/06/2022

Waarom is party Afrika-Christenleiers en hulle volgelinge lojaal teenoor oënskynlik moreel korrupte en sosiaal problematiese Amerikaanse politici en hulle politieke agendas?

Dít is die kwessie wat prof Dion Forster van die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs in die tweede Stellenbosch Forum-lesing van 2022 van nader bekyk het. Die tema van die lesing was “'n Kritiese oordenking van die verband tussen Afrika-Christenskappe en Amerikaanse evangeliese leer: 'n Waarskuwende verhaal oor teo-politieke eksepsionalisme?".

Die Stellenbosch Forum-lesingreeks is in 1990 van stapel gestuur om US-personeel en -studente sowel as lede van die publiek gereeld geleentheid te bied om meer oor die wêreldklasnavorsing van die Universiteit te wete te kom. Die lesings word in 'n toeganklike en verstaanbare manier aangebied sodat sowel akademici as nie-akademici aan kritiese gesprekke oor dissiplinêre grense heen kan deelneem.

 
  • Selfoongebruikers klik hier vir die lesing.

Volgens Forster hou sommige Afrika-Christene se blindelingse navolging van Amerikaanse politici verband met 'n vermenging van politiek, ekonomie en die verspreiding van Amerikaanse evangeliese leer na Afrika in die vorige eeu. Hy reken die koms van Amerikaanse evangeliese leer na die vasteland het saamgeval met die historiese opgang van materialisme en individualisme, wat kenmerkend is van moderniteit en diep vasgelê was in die destydse Christenskappe van Amerika.

“Die evangeliese sending het blindweg sekere kulturele, politieke, ekonomiese en morele oortuigings oorgedra wat meer Amerikaans as Christelik was," het Forster in die lesing gesê. “Hierdie waardes stel 'Amerika eerste' en laat Amerikaanse eksepsionalisme deur middel van skenkerbystand en -beskerming deur die wêreld versprei, dikwels agter die masker van teologiese taal en godsdienstige aktiwiteit."

In die lig van die subtiele maniere waarop Amerikaanse evangeliese leer versprei het, moet ons nie verbaas wees dat die invloede daarvan steeds in sommige Afrika-Christenleiers se teologieë, politieke sienings en morele sentimente te sien is nie, het Forster bygevoeg.

“Baie vooraanstaande politieke en godsdienstige leiers in Afrika maak staat op finansiering en beskerming van Amerikaanse finansieringsliggame – party met ooglopende evangeliese politieke teologiese agendas, en ander wat hulle bedoelings meer subtiel verbloem – of behoort tot Christelike kerke wat blindweg op Amerikaanse evangeliese politieke teologieë geskoei is."

“Sekere skenkers dring daarop aan dat die Afrika-ontvangers van finansiering bepaalde dogmatiese of morele ondernemings onderskryf," het Forster gesê, “terwyl ander gewoon nie enige projek of inisiatief sal finansier wat hulle kern- teologiese oortuigings of ondernemings blyk te bevraagteken nie."

Gevolglik gaan die Afrikabegunstigdes “akkoord" met Amerikaanse evangeliese teologie en politiek oor kwessies soos die miskenning van die regte van seksuele minderhede, die inkorting van vroue se reproduktiewe regte, nasionalisme, xenofobie en samesweringsteorieë.

“Eweneens het baie evangeliese leiers van Afrika wat aan Amerikaanse evangeliese teologiese instellings studeer het, moontlik die waardes van daardie instellings as hulle eie aanvaar, of minstens hulle steun daaraan toegesê, veral as die instelling vir hulle studie betaal het.

“Van die meer kommerwekkende elemente hiervan is die misvorming van Afrika- teologiese oortuigings as gevolg van ekonomiese beïnvloeding en magswanbalanse tussen Amerikaanse skenkers en toesighouers en hulle Christenbegunstigdes in Afrika," het Forster gesê.

Hoewel nie alle evangeliese Christenskappe in Afrika noodwendig ontstaan het uit, of gekoöpteer is deur, Amerikaanse evangeliese ideale nie, behoort ons steeds versigtig te wees vir Amerikaanse evangeliese politieke teologieë wat die dwaalleer van Amerikaanse eksepsionalisme verkondig, het hy gewaarsku.

Daarom behoort ons die moed te hê om belangrike, selfondersoekende vrae te vra oor die teologiese en politieke geskiedenisse en sienings wat ons evangeliese Christenskappe in Afrika gevorm het, het Forster afgesluit.

“En waar ons op nuwe, subtiele en kragtige vorme van imperialisme en kolonisasie afkom, moet ons bereid wees om dit krities te ondersoek en ontslae te raak van wat teologies onwaar en sosiaal afbrekend is. Afrika-Christene moet daarteen waak om 'gekoop' of 'gekaap' te word deur waardes, ideologieë en oortuigings wat nie ons belange op die hart dra nie."