Meestersgraadstudente in Ondernemingsbestuur, Anja Hutton en Laura Putter, het onlangs die eerste ontvangers van die prof Johan Matthee Nagraadse Studiebeurse geword.
Dié beursfonds het in 2020 tot stand gekom nadat wyle prof Johan Matthee, voormalige dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en jare lange voorsitter van die (destydse) Departement Rekeningkunde, byna R12 miljoen aan die Universiteit Stellenbosch bemaak het vir nagraadse studie in ekonomiese en bestuurswetenskappe.
Die fonds se kapitaalopbrengs sal jaarliks gebruik word om nagraadse beurse in twee kategorieë toe te ken. Die eerste is vir een of meer nagraadse beurse vir studie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, terwyl die ander kategorie vir doktorale studie aan 'n oorsese universiteit is.
Beide Hutton en Putter het beurse vir nagraadse studie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ontvang. Die beurs vir doktorale studie aan 'n oorsese universiteit is nie vanjaar toegeken nie.
Die twee is gekies volgens sekere keuringskriteria wat akademiese prestasie, karakter en leierskap insluit. 'n Paneel bestaande uit fakulteitsdekaan prof Ingrid Woolard en een van prof Matthee se seuns, mnr Werner Matthee, het die finale besluit geneem.
Volgens mnr Matthee het sy vader 'n passie vir die opvoeding, akademiese uitnemendheid en professionaliteit gehad. "Die kriteria vir die Johan Matthee-beurse is gesentreer om akademiese uitnemendheid en bewese leierseienskappe. Die doel was om uitstekende studente wat 'n bydrae tot die gemeenskap kan lewer, finansiëel te ondersteun.
"Dit is gevolglik 'n groot voorreg vir ons om twee uitmuntende kandidate, Anja Hutton en Laura Putter as eerste beurshouers van die Johan Matthee-beursfonds te kan benoem."
Hutton se meestersgraadstudie in strategie- en innovasiebestuur kyk veral na hoe maatskappye spanning kan bestuur wanneer verskeie strategieë toegepas word. Sy sê sy was ongelooflik dankbaar dat sy die beurs ontvang het en dat sy hierdie eer saam met haar goeie vriendin (Putter) kon deel.
“Ek het nie eens geweet dat Laura ook vir die beurs aansoek gedoen het nie! Ons het eers vanjaar besef dat ons albei dieselfde beurs ontvang het. Dis so cool!"
Sy sê die beurs kom baie handig te pas, aangesien haar studies nogal duur is.
“Dit help ook om lewenskoste soos kos, petrol en huur te dek – dit laat my toe om op my graad te fokus en nie te stres oor hoe ek vir my studies of basiese behoeftes gaan betaal nie."
Putter het gesê sy was verbaas dat haar aansoek suksesvol was, maar beskou dit as 'n absolute seën.
“Ek het die nalatenskap van prof Matthee aangevoel toe prof Woolard en mnr Werner Matthee 'n onderhoud met my gevoer het. Die beurs gaan oor soveel meer as finansiële hulp. Dit gaan daaroor om 'n omgewing te skep en moontlik te maak waar studente kan bydra en 'n verskil in hul onderskeie velde kan maak. Ek is so dankbaar dat ek hierdie geleentheid gegun is."
Putter se MCom-graad in Ondernemingsbestuur handel oor die impak van genderdiversiteit op kuberveiligheidsverwante onthullings in Suid-Afrika en die impak wat COVID-19 op kuberveiligheid en die openbaarmaking daarvan gehad het.
“Ek is passievol oor my navorsing. Hierdie beurs maak dit vir my moontlik om met my studies aan die US aan te gaan en my reis van akademiese ontdekking en ondersoek voort te sit," het sy gesê.
Prof Matthee het in 1965 by die Departement Rekeningkunde (nou die Skool vir Rekeningkunde) aangesluit en het aan die begin van 1972 die jongste professor aan die Universiteit Stellenbosch geword. Hy het 'n wesenlike bydrae tot die ontwikkeling van beide die Departement en die Fakulteit gelewer en het 'n deurslaggewende rol gespeel in die die formalisering van kwalifikasies vir aspirant-rekenmeesters. Hy het in 2001, ná 'n akademiese loopbaan van 36 jaar by US, afgetree. Hy is op 1 Julie 2018 oorlede.
- Foto deur Anton Jordaan: Anja Hutton (links) en Laura Putter is die eerste ontvangers van die prof Johan Matthee Nagraadse Studiebeurse.
- Foto regs: Wyle prof Johan Matthee
