Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top kwantum-wetenskaplike sluit hom aan by US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 31/05/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n reuse-akademiese slag geslaan met die aanstelling van die internasionaal-bekende kwantumwetenskaplike, prof Francesco Petruccione, as professor in Kwantumrekenaarwetenskap by die Universiteit se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke.

Petruccione, wie se aanstelling vanaf 1 Mei 2022 geld, sluit hom in die Skool by 'n groep navorsers van wêreldgehalte aan wat onder andere prof Tulio de Oliveira insluit. Laasgenoemde was deel van 'n span wat die volgordebepaling vir die Omikron-variant van die nuwe koronavirus gedoen het en wat al saam met Petruccione aan verskeie navorsingsprojekte gewerk het.

Die Italiaansgebore Petruccione verskuif van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) waar hy tot nou toe die amp van Pro-visekanselier: Groot data en Informatika beklee het.

Hy is aangestel as die tussentydse direkteur van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaardenke-wetenskappe (NITheCS) en dien ook asook buitengewone professor in die Departement Fisika aan die US. Hy is 'n verkose lid van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf), en ook 'n genoot van beide die Royal Society of South Africa (RSSAf) en die UKZN. Daar het reeds sowat 250 artikels van sy artikels in eweknie-beoordeelde wetenskaplike vaktydskrifte verskyn

Petruccione is ook medevoorsitter van die komitee wat die Raamwerk vir Kwantumtegnologie in SA geskryf het.

Hy het die volgende oor sy nuwe rol te sê: “Ek is baie opgewonde oor my nuwe pos as professor in kwantumrekenaarwetemskap en tussentydse direkteur van die NITheCS by die Universiteit Stellenbosch. Dit is opwindend om deel van die US-gemeenskap te wees. Ek sien baie uit daarna om saam met almal te werk ter bevordering van kwantumtegnologieë en basiese wetenskap vir volhoubare ontwikkeling."

Hy sê sy visie is om die US die hoofkwartier van kwantumtegnologie in Suid-Afrika en Afrika te maak, ondanks die feit dat die vasteland “nie die miljarde het wat China, die VSA en Europa het nie".

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, sê Petruccione se aanstelling versterk die Universiteit se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees. “Prof Petruccione se reputasie as een van Suid-Afrika se voorste wetenskaplikes, sy internasionale aansien en sy kundigheid in kwantumrekenaarwetenskap strek alles tot voordeel van die vooruitgang van ons instelling. Sy visie om kwantumtegnologieë in Suid-Afrika deur ons Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke uit te brei, stem ooreen met die Universiteit se visie en toekomsfokus, en ek is opgewonde om te sien waarheen die navorsing en innovasie gaan lei."

Francesco Petruccione is 1961 in Genova, Italië gebore en het Fisika aan die Universiteit van Freiburg in Duitsland studeer. Hier het hy in 1988 sy PhD en in 1994 sy “habilitasie"-graad (Dr rer nat habil) verwerf. Laasgenoemde word in Duitsland op 'n hoër vlak as 'n doktorsgraad beskou.

Hy is in 2004 as professor van teoretiese fisika by die UKZN in Durban aangestel. In 2005 het hy 'n Innovasiefonds-toekenning ontvang om 'n sentrum vir kwantumtegnologie op die been te bring. In 2007 is hy as bekleër van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel vir Kwantuminligtingsverwerking en Kommunikasie aangewys.

Petruccione, vir wie Afrika baie na aan die hart lê, het dikwels al gesê sy vernaamste fokus is om die gaping tussen fundamentele navorsing, innovasie en ontwikkeling te verklein en volhoubare ontwikkel te verseker.

Sedert hy in 2004 by die UKZN begin het, het hy die grootste navorsingsgroep in kwantumtegnologie in Suid-Afrika opgebou.

“Ek wil dieselfde – en selfs beter – by Stellenbosch doen. Toe ons die Groot Data- en Informatika-departement begin het, was dit baie klein. Nou is dit 'n hoofstroom-vakgebied, maar ons moet meer doen aangesien dit regtig 'n baie belangrike onderwerp is," sê Petruccione.

“Baie lande belê miljarde dollars in kwantumrekenaarwetenskap en kwantumtegnologieë, maar ons begin nou maar eers in Suid-Afrika. Die departement van Wetenskap en Innovasie het verlede jaar eers die Nasionale Raamwerk vir Kwantumtegnologie goedgekeur.

“In elke koerant praat daar iewers 'n president of minister oor die Vierde Industriële Revolusie (4IR). Ten einde die doelwitte van die 4IR te bereik, het ons die kragtigste rekenaars en die veiligste kommunikasie nodig. Mense soek na beter modelle vir weervoorspelling; hulle soek na maniere om klimaatsverandering te hanteer, om landbouproduktiwiteit te verhoog en voedselproduksie te verbeter. Kwantumtegnologie bied die mees presiese sensors om afwykings in die gravitasieveld op te spoor en kan onder meer in die mynwese gebruik word en uiters sensitiewe stelsels vir GPS-tegnologie aktiveer.

“Dit benodig alles rekenaarkrag. Daarom is daar 'n wedloop om hulle te bou."

Die Direkteur van die Skool, prof Kanshukan Rajaratnam, sê Petruccione beskik oor 'n magdom ondervinding in navorsing, onderrig en akademiese leierskap.

“Prof Petruccione is 'n hoogsaangeskrewe internasionale Nasionale Navorsingstigting-navorser wat 'n groot deel van sy akademiese lewe in Suid-Afrika deurgebring het. Hy het deur sy leierskap 'n impak op transformasie in sy studieveld gehad. Ons is opgewonde dat hy op ons besluit het en sal ons help om ons kapasiteit in kwantumrekenaarwetenskap uit te bou, asook om meer interdissiplinêre en multidissiplinêre navorsing te lewer wat 'n invloed op mense regoor die land en die vasteland sal hê.

“Prof Petruccione sal by die Skool met departement in fakulteite soos onder meer die Departement Fisika en die afdeling vir Rekenaarwetenskap werk om die kapasiteit in sy vakgebied uit te bou. Hy sal ook lesings aanbied."

Rajaratnam sê die Skool sal baie baat vind by Petruccione se uiteenlopende ondervinding. “Sy ervaring in die agt fokusgebiede van die NITheCS – astronomie en astrofisika, datawetenskap, aardstelselmodellering en klimaatsveranderingmodellering, wiskunde, kwantitatiewe biologie, kwantitatiewe finansies, statistiek en teoretiese fisika – sal bydra tot die interdissiplinêre navorsingservaring by die skool.

“Net soos die Skool daarop gemik is om skeidsmure tussen fakulteite af te breek ten einde interdissiplinêre en multidissiplinêre navorsing uit te bou, het prof Pretuccione presies dieselfde tussen universiteite gedoen."

Petruccione hou van lees, draf, bergfietsry en om Suid-Afrika se wildreservate te besoek. Sy vrou, Monique Labat, 'n konsultant met haar eie maatskappy, verhuis saam met hom na Stellenbosch.

Hy sê hy sien uit daarna om op Stellenbosch te woon waar “jy net by die deur hoef uit te stap om heuwels en berge te sien".

  • ​​Die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke is in Julie 2019 bekendgestel met die visie om 'n instelling van wêreldgehalte in datawetenskap en rekenaardenke in en vir Afrika te wees. Die Skool, wat op fakulteitsvlak werk, koördineer en bied navorsing en onderrig in interdissiplinêre datawetenskap en rekenaardenke regoor die Universiteit.