Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorsers ding mee om nasionale wetenskaptoekennings
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 26/05/2022

Vyf gesiene navorsers van die Universiteit Stellenbosch sal die instelling as finaliste by die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF)/South32 se toekennings vir 2021/22 verteenwoordig. Hulle sal op Donderdag, 21 Julie om dié gesogte jaarlikse toekennings – Suid-Afrika se Oscars vir die wetenskap – meeding.

Die galageleentheid waar die toekennings oorhandig sal word, vind in hibridiese vorm plaas met uitsendings uit twee stede – Johannesburg en Kaapstad. Die gebruiklike galadinee in Johannesburg word weer aangebied, en sal aangevul word met 'n viering in Kaapstad sowel as uitsendings uit albei stede na 'n aanlyn gehoor op die NWTF se YouTube-kanaal. Dr Blade Nzimande, die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie en die beskermheer van die toekennings, is genooi om as voorsitter op te tree.

Die NWTF/South32-toekennings word as die land se gesogste eerbewyse in hulle soort beskou. Die pryse erken, vier en beloon individue, spanne en organisasies se uitmuntende bydraes tot die wetenskap, ingenieurswese en tegnologie in Suid-Afrika. Mededingers sluit ervare wetenskaplikes, ingenieurs, innoveerders, wetenskapkommunikeerders, ingenieursvermoëbouers, organisasiebestuurders en -leiers, sowel as data- en navorsingsbestuurders in.

Die US-finaliste (met hul departemente of omgewings tussen hakies) en die kategorieë waarin hulle sal meeding, is soos volg:

Toekenning vir lewenslange prestasie

  • Proff Gerhard Walzl (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, Departement Biomediese Wetenskappe) en Guy Midgley (Departement Plant- en Dierkunde/Skool vir Klimaatstudie). Midgley is ook ʼn finalis in die Groen Ekonomie-kategorie.

Toekenning vir kommunikasie

  • Prof Nox Makunga (Departement Plant- en Dierkunde)

TW Kambule-NWTF-toekenning vir ontluikende navorsers

  • Dr Wynand Goosen (Sentrum van Uitnemendheid vir Biomediese TB-navorsing, Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, Departement Biomediese Wetenskappe)

Toekennings vir Ingenieurswesenavorsingskapasiteit en Spesiale Jaarlikse Tema

  • Prof Oluwole Makinde (Departement Wiskunde, Fakulteit Krygskunde)

Foto: Proff Gerhard Walzl, Oluwole Makinde, Guy Midgley, Nox Makunga en Dr Wynand Goosen.