Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrikadag: Nuwe boek wil jong Afrika-leiers na vore laat tree wat ’n verskil kan maak
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 25/05/2022

Die heersende korrupsie belemmer Afrika se groei, ontwikkeling en welvaart en verhoed dat die vasteland sy volle potensiaal kan verwesenlik. Verantwoordbaarheid en etiese leierskap is nodig om Afrika in 'n kragtige reus te omskep.

Dít is die kernboodskap van 'n nuwe boek waarvan prof Pregala Pillay van die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Opvoeding en Navorsing teen Korrupsie en dr Chris Jones van die Eenheid vir Morele Leierskap by die US die mederedakteurs was. Die ander twee mederedakteurs is prof Purshottama Reddy en dr Sakhile Zondi van die Universiteit van KwaZulu-Natal.Leadership book.jpg

Die boek, getiteld Lessons from Political Leadership in Africa: Towards Inspirational and Transformational Leaders, bestaan uit 16 hoofstukke wat in drie afdelings verdeel is. Die eerste deel fokus op die Suid-Afrikaanse ervaring, die tweede op ander Afrikalande soos Nigerië, die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK), Tanzanië, Kenia en Uganda, terwyl die derde afdeling op die rol van universiteite fokus. Prof Penson Igboin (Nigerië), prof Michel Tshiyoyo (DRK), dr Alfred Sebahene (Tanzanië), dr Paul Kariuki (Kenia) en prof John-Mary Kauzya (Uganda) het hoofstukke oor hul onderskeie lande geskryf.

Volgens Jones en Pillay bevat die boek verskeie voorbeelde van die wisselwerking tussen korrupsie en onetiese leierskap en die gevolge daarvan.

“Dit beklemtoon dat korrupsie 'n kanker en 'n siekte is wat behandel moet word, ander versprei dit regdeur die stelsel en vreet dit aan die ware gees en beginsels van demokrasie. Korrupsie steel van die armes, vernietig openbare vertroue en vreet aan die morele innerlike krag van die samelewing."

Hulle sê die boek is baie aktueel weens die dringende behoefte daaraan om ons pogings op die vasteland van Afrika en vir sy mense te herfokus, terwyl ons terselfdertyd vorentoe beur met demokratiese, verantwoordbare, mensgesentreerde, etiese en deursigtige staatsbestuur en leierskap.

“Die misbruik van mag, posisie of amp wat deur gulsigheid, selfverryking en oneerlike dade vererger word, hou baie ernstige gevolge vir die mens in. Daarom bevorder elke hoofstuk in hierdie boek Afrika se visie om sy menslikheid en mense weg van maatskaplike euwels soos uiterste armoede, duidelike ongelykhede en grootskaalse werkloosheid te onderhou."

Jones and Pillay sê ons het 'n nuwe geslag van dapper, passievolle, selfversekerde, inspirerende leiers nodig om 'n verskil te maak en 'n onuitwisbare merk in die wêreldarena te laat.

“Dít is die grondbeginsel vir leierskap vir die Afrika waarvoor hierdie boek vra en graag wil kweek. Dit wil deur lesse wat uit politieke leierskap geleer is, inspirerende en transformerende leierskap in Afrika en wyer aanmoedig. Ons kan nie teruggaan en die verlede verander nie, maar ons kan lesse – goed én sleg – daaruit leer en die toekoms ten goede verander vir 'n groter, beter en helderder môre."

Die boek sal by 'n wye gehoor aanklank vind, insluitende landsburgers, vakkundiges en leiers vir wie die demokratiese stelsel nie onderhandelbaar is nie en wat ernstig daaroor is om die wêreld 'n beter plek te maak.

  • Lessons from Political Leadership in Africa: Towards Inspirational and Transformational Leaders is in die Verenigde Koninkryk uitgegee deur Cambridge Scholars Publishing. Dit is op Amazon and aander aanlyn boekwinkels beskikbaar.