Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Besluit oor uitstel van eksamens
Outeur: Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
Gepubliseer: 21/05/2022

Eksamenuitstelbesluit het gevolg op versoek van verenigde studenteleierskapstrukture en is deur fakulteite ondersteun

Die besluit deur die Universiteit Stellenbosch (US) om eksamens met 'n week uit te stel, het gevolg op 'n ongekende, verenigde versoek van alle studenteleierskapstrukture, het professor Deresh Ramjugernath, die Viserektor: Leer en Onderrig, Saterdag gesê. Die besluit is geneem in die beste belang van studente ná oorlegpleging en deeglike beraadslaging.

Die Universiteit het ook simpatie met diegene vir wie die besluit ontwrigting veroorsaak, het hy gesê.

Die Universiteit het Vrydag aangekondig dat die eksamens uitgestel sal word vanaf die geskeduleerde aanvang op Maandag, 23 Mei en sal nou Maandag, 30 Mei begin. Assesserings wat sperdatums vir hierdie week gehad het, sal ook met een week verleng word. Die normale universiteitskedule sal na afloop van hierdie eksamens hervat word.

Die eksamenherskedulering is gedoen in die lig van die trauma en ontwrigting ná die Huis Marais-voorval en die afsonderlike verkragtingsvoorval. Die Universiteit het albei hierdie voorvalle, asook alle misdade en skendings van menseregte en waardigheid Veroordeel.

Ramjugernath het gesê alle studenteleierskapstrukture, insluitende die Studenteraad en studenteverenigings, het verlede Donderdagaand vergader. Volgens hom is dit die eerste keer ooit dat daar só 'n verenigde vergadering van al die studenteleierskapstrukture by die instelling was.

Hy het gesê die versoek vir die assessering- en eksamenherskedulering het uit hierdie vergadering voortgevloei en is Vrydagoggend aan die Universiteit voorgelê.

Die studenteleierskap het verstaan dat nie almal die afgelope week in dieselfde mate geraak is nie, maar het saamgestem dat alle studente geraak is.

“Hulle het ook verstaan dat 'n versoek van hierdie aard natuurlik ontwrigting sou veroorsaak omdat planne reeds gemaak is vir onder meer reisreëlings."

Ramjugernath het gesê die instelling het die besluit benader deur te aanvaar “dat ons verstaan daar was aansienlike trauma en ongemak en ons studente is in 'n uitdagende en  emosionele situasie wat dit vir hulle baie moeilik maak om reeds Maandag met die eksamen te begin."

Die besluit moes vinnig geneem word weens die naderende begin van die eksamen. Tog het die Rektoraat gekonsulteer oor die versoek wat by 'n nood Leer- en Onderrigwerkstroomvergadering gedien het wat die Dekane en Visedekane: Leer en Onderrig ingesluit het.

“Ons het die verskillende opsies bespreek en of ons die ondersteuning van die Fakulteitsleierskap in die Leer- en Onderrigwerkstroom vir die versoek gehad het. Daar was oorweldigende steun daarvoor van al die verteenwoordigers van die fakulteite binne die Leer- en Onderrigwerkstroom, asook van die studenteleierskape en ander studente," het hy gesê.

Die Rektoraat het Vrydagmiddag die aanbeveling goedgekeur.

Hy het gesê buiten vir “dade van God" soos Covid-19 is só 'n besluit ongekend en die Universiteit het simpatie met diegene wie se planne deur die besluit geraak is.

“Dit is natuurlik 'n uitdaging, veral as jy reeds planne gemaak het. Maar die gebeure wat op die kampus plaasgevind het en die uitdagings wat 'n beduidende deel van ons studente in die gesig gestaar het, is sodanig dat hulle almal ongelukkig daardeur geraak gaan word. Hierdie besluit is nie ligtelik geneem nie, maar in oorleg en ná deeglike beraadslaging geneem. Ons het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat dit in die beste belang van ons studente is om die eksamen in 'n kalm gemoedstoestand te benader ná die aaklige gebeure wat die normale kampuslewe ontwrig het."​