Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kampusveiligheid
Outeur: Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
Gepubliseer: 21/05/2022

Die Universiteit Stellenbosch (SU) se ingesteldheid oor rassisme op kampus is dat dit geensins geduld sal word nie. Die Universiteit het omvattende maatreëls in plek gestel om rassisme te bekamp en verbeter voortdurend daarop.

Op grond van verlede week se traumatiese gebeure, erken die Universiteit personeel en studente se reg om aan vreedsame protesoptogte deel te neem, mits die administratiewe en akademiese aktiwiteite nie ontwrig word nie; die aksies nie die veiligheid van personeel en studente of universiteitseiendom bedreig nie; en die regte van studente om te studeer en klasse by te woon, ook nie aangetas word nie.

Hoewel protesaksies en openbare diskoers oor hierdie aangeleentheid tot dusver vreedsaam was, benadruk die Universiteit en wil dit alle studente en ouers daarvan verseker dat ons koshuise en kampusse veilig is en ons Kampussekuriteitspan bly op 'n hoë gereedheidsgrondslag.

Kampussekuriteit bly in aanraking met studenteleiers. Dit is te verstane dat studente kwesbaar voel weens die afgelope week se gebeure," sê die Universiteit se Bedryfshoof, prof Stan du Plessis. “Studente en personeel se veiligheid bly 'n primêre aangeleentheid vir die Universiteit se bestuur. Daarom het die Universiteit die afgelope paar jaar aansienlik in veiligheids- en sekerheidsmaatreëls belê. Hierdie maatreëls word ook voortdurend hersien, terwyl bewusmakingsveldtogte gereeld gehou word. Kampusveiligheid – en veiligheid in die algemeen in Suid-Afrika – is almal se verantwoordelikheid. Studente, personeel en die publiek word daaraan herinner om in alle omstandighede waaksaam te wees, aangesien hulle aktiewe vennote in kampusveiligheid is."

Afgesien van die algemene veiligheidsmaatreëls op kampus, het elke koshuis ook sy eie stel veiligheidsmaatreëls. Dit sluit onder meer toegangsbeheer (kaarttoegang, deurmonitors by sommige koshuise), vroeëwaarskuwingstelsels, WhatsApp-groepe, veiligheidsoefeninge en veiligheidskomitees in.

Studente word aangemoedig om hierdie belangrike nommers op hul fone te stoor:

Stellenbosch 24-uur-noodnommer          021 808 2333 

Tolvrye nommer                                          0800 02 58 27 

WhatsApp-saamstapdiens                         082 808 2333 

Algemene navrae                                       021 808 4202 

  

Tygerberg 24-uur-nooddiens                    021 938 9507 

Tolvrye nommer                                          0800 00 67 67 

WhatsApp-saamstapdiens                         083 938 1841 

​