Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nagraadse chemiestudent na Lindau vir Nobelpryswenner-vergadering
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 19/05/2022

​Alan Eaby, 'n PhD-student in chemie aan die Universiteit Stellenbosch, is een van elf jong wetenskaplikes van Suid-Afrika wat gekies is om deel te neem aan die 71ste Lindau Nobel- pryswennervergadering wat aan chemie gewy word.

Vanaf 26 Junie tot 1 Julie sal hulle aansluit by 600 hoogs gekwalifiseerde jong wetenskaplikes van meer as 100 nasionaliteite vir vanjaar se vergadering in Duitsland, met meer as 35 Nobelpryswenners wat dit sal bywoon.

Volgens 'n mediavrystelling wat deur die Academy of Science of South Africa (ASSAF)​ uitgereik is, sal die jong wetenskaplikes deelneem aan 'n ses dag lange program bestaande uit verskeie lesings en paneelbesprekings. Alvorens hul vertrek, sal die elf jong Suid-Afrikaners 'n byeenkoms bywoon met ASSAF en die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) as gasheer waar hulle sal skouers skuur met alumni wat voorheen ook hierdie vergaderings bygewoon het.

Alan, wat in Villiersdorp grootgeword het en aan die Rondebosch Hoër Seunskool gematrikuleer het, sê hy beskou dit as die geleentheid van 'n leeftyd: “By hierdie vergadering sal ek idees kan uitruil met opkomende wetenskaplikes en put uit die kennis en ervaring van gevestigde navorsers."

Alan sê die natuur het hom nog altyd gefassineer, en navorsing in chemie stel hom in staat om die fundamentele eienskappe van die natuur te verken: “Wetenskaplike navorsing is een van die coolste werke ter wêreld. Daar is baie ruimte om te verken en nuwe idees uit te toets. Ek geniet die kreatiwiteit wat saamgaan met die ontwikkeling van 'n nuwe metode of tegniek en om te sien dat dit werk," voeg hy by.

Alan werk tans aan sy PhD-proefskrif onder die studieleiding van Prof Len Barbour en Prof Catharine Esterhuysen in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap.

“Ek gebruik eksperimentele en berekeningsmetodes om poreuse kristallyne materiale se wateropname te ondersoek. Dit is belangrik om die aard en oorsprong van watersorpsie te verstaan vir die ontwikkeling van nuwe materiale vir die ekstraksie van water uit die atmosfeer en die suiwering daarvan, veral in Afrika waar drinkbare water skaars is," verduidelik hy.

In die proses het hy nuwe instrumente ontwikkel om die verskeie eienskappe van poreuse kristallyne materiale te kan ondersoek: “Ek kon struktuur-eienskap-verhoudings ondersoek op 'n wyse waaroor nog nie voorheen gerapporteer is nie. Byvoorbeeld, die bestudering van die strukturele eienskappe van water in nano ruimtes by hoë humiditeitsvlakke oor 'n wye reeks temperature, het interessante resultate opgelewer oor die fundamentele aard van die faseveranderinge van water." 

Ná voltooiing van sy PhD, hoop Alan om as nadoktorale navorser in die chemiese wetenskappe voort te werk. Hy is ook aktief betrokke in die kristallografie-gemeenskap en dien in die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Kristallografie-vereniging. 

Fotograaf: Anton Jordaan