Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se rassisme-ondersoek onderweg ná aanvanklike skorsing
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 19/05/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) veroordeel die voorval by Huis Marais, wat klaarblyklik deur rassistiese en vernietigende gedrag aangevuur is, ten sterkste. Die Universiteit heg groot waarde aan respek, deernis, billikheid, verantwoordbaarheid en uitnemendheid in ál sy interaksies en optrede. Daarom het die leiers van die instelling so spoedig moontlik opgetree om individuele waardigheid en die institusionele kultuur van inklusiwiteit te beskerm. Die skokkende voorval by Huis Marais wat op die selfoonvideo te sien is, is geheel en al onaanvaarbaar.

Die beweerde oortreder is Maandag by die vroegste moontlike geleentheid uit die Universiteit geskors en van Huis Marais uitgesluit, hangende die volledige dog flink ondersoek wat tans aan die gang is. Hoewel die ondersoek dringende aandag ontvang, is dit steeds noodsaaklik dat behoorlike prosedures en oorsigbestuursprosesse gevolg word. Dít sal 'n afdoende uitkoms verseker op grond waarvan die wet in sy volle omvang sowel as die Universiteit se oorsigbestuursregulasies toegepas sal kan word. Permanente skorsing en/of strafregtelike aanklagte is moontlike uitkomste na gelang van wat die ondersoek bevind.

Ondanks die Universiteit se sterk veroordeling van enige voorval wat deur rassisme aangevuur word, tesame met die erge en verstaanbare openbare verontwaardiging, moet die saak volgens regsvoorskrifte hanteer word om 'n ten volle verdedigbare uitkoms te verkry. Die finale uitkoms moet 'n presedent skep om enige toekomstige herhaling van bewese skendings van die reg op persoonlike menswaardigheid op die US-kampus te verhoed.

Die saak geniet voorrang, en 'n finale uitkoms word in die volgende paar dae verwag, waarna verdere mediaverklarings en -skakeling moontlik sal wees.

Die Universiteit Stellenbosch is daartoe verbind om die slagoffer van die voorval met toerusting en voorligting by te staan om seker te maak dat sy akademiese vordering nie deur die voorval geraak word nie.

Let asseblief daarop dat verdere kommunikasie sal volg sodra nuwe feite oor die ondersoek aan die lig kom en bekend gemaak kan word.