Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US doen stappe teen diskriminerende gedrag
Outeur: Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
Gepubliseer: 16/05/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se vernaamste prioriteit is om 'n inklusiewe omgewing aan al sy studente te bied en om 'n veilige studentegemeenskap te handhaaf waar sosiale kohesie bevorder word ten einde hoë-gehalte tersiêre onderwys aan almal te bied. Die Universiteit heg groot waarde aan respek, deernis, billikheid, verantwoordbaarheid en uitnemendheid in al sy interaksies en optrede. Die Universiteit Stellenbosch veroordeel enige vernietigende of diskriminerende gedrag wat op enige student of lid van die universiteitsgemeenskap se regte inbreuk maak. Menswaardigheid is ononderhandelbaar en moet gerespekteer, gehandhaaf en herstel word wanneer dit aangetas is.

Die Universiteit veroordeel die vernietigende, kwetsende en rassistiese voorval ten sterkste wat Sondag in die vroeë oggendure op 'n selfoon in die Huis Marais-koshuis op die Stellenbosch-kampus opgeneem is. Die vermeende dader is vanoggend onmiddellik uit die Universiteit geskors. 'n Verdere vinnige, maar gedetailleerde ondersoek sal die finale uitkomste bepaal. Afhangende van die bevindings van die ondersoek, is permanente skorsing/uitsetting en/of kriminele klagtes nie uitgesluit nie.

Hierdie tipe verwoestende gedrag is heeltemal onaanvaarbaar en ondergrawe dít waarvoor die US staan asook die talle voortgesette gefokusde pogings om inklusiewe studentegemeenskappe by die Universiteit te bou. Die Universiteit strewe daarna om 'n sterk sin van behoort onder al ons studente te verseker en die US se Afdeling vir Studentesake en ander departemente wend verskeie doelbewuste pogings aan met hierdie doel in gedagte.

“Ons is hewig ontsteld oor hierdie soort gedrag. Hierdie optrede sal nie by die Universiteit geduld word nie," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US. “Ons het vinnig en beslis opgetree ten einde ons verbintenis tot 'n kultuur van inklusiwiteit te handhaaf. Wat by Huis Marais gebeur het, is onaanvaarbaar. Geen student het die reg om 'n ander student se menswaardigheid of regte op hierdie manier aan te tas of te verkleineer nie," voeg hy by.

Die koshuisbestuur van Huis Marais is Sondag deur die loop van die dag oor die voorval ingelig, waarna hulle dit onmiddellik by die toepaslike universiteitstrukture vir dringende ondersoek aangemeld het. Die koshuisbestuur het die voorval ten sterkste veroordeel en het stappe gedoen om die gevolge in die koshuis te bestuur. Dit is belangrik om daarop te let dat die student wat na bewering die dade gepleeg het, verwyder is en nie meer in Huis Marais woon nie. Transformasie en inklusiwiteit is van van die belangrikste prioriteite vir huiskomitees in alle US-koshuise.

“Die student wat geraak is, ly​​ duidelik nog aan skok ná sy ontstellende en pynlike ondervinding. Hy probeer nog om alles wat gebeur het, te verwerk en is berading aangebied. Hy sal soos nodig ondersteun word ten einde te verseker dat sy akademiese vordering nie deur die voorval geraak word nie," voeg dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake, by. “Huis Marais se huiskomitee is verbind tot transformasie. Ons vinnige en besliste reaksie op die voorval behoort 'n aanduiding van ons verbintenis tot alle mense in hierdie land te wees. Hulle het ook 'n huisvergadering gereël om te verseker dat die hele koshuise die situasie verstaan en wat moet voortgaan om te verander om 'n herhaling van 'n soortgelyke voorval te voorkom," het Makhetha ter afsluiting gesê.