Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Rufus Gouws ontvang ‘Nobelprys’ vir lewensbydrae tot Afrikaans
Outeur: Departement Afrikaans en Nederlands
Gepubliseer: 10/05/2022

Prof Rufus Gouws is deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns as die wenner van die Jan H Maraisprys aangewys vir sy bydrae tot Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal.

In die loop van 'n lang loopbaan (wat nog nie op 'n einde is nie) het hy internasionale aansien as leksikograaf verwerf – hiervan getuig sy B2-navorsingsgradering deur die Nasionale Navorsingstigting, sy betrokkenheid by die European Maters in Lexicography (EMLex) en sy vele aanstellings as gasprofessor by instansies in die buiteland. Hy het ook 'n geweldige invloed op die akademiese ontwikkeling van studente aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US), met 36 magister- en 24 doktorale studente wat hulle navorsing onder sy leiding voltooi.

Prof Gouws se verbintenis met die Departement Afrikaans en Nederlands begin 50 jaar gelede, in 1972, as BA-student. Daardie eerste graad word vinnig deur nog drie gevolg en 'n aanstelling as dosent in 1980. In 'n akademiese loopbaan van 45 jaar is hy al vir 42 jaar werksaam aan die Departement en is hy tans een van die US se langsdienende dosente.

Dit is wonderlik dat 'n hoogsgewaardeerde kollega in die Departement se honderdste bestaansjaar op die manier deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer word.