Die Universiteit Stellenbosch (US) is die trotse gehalteversekeraar van die Internasionale Sekondêre Sertifikaat (ISS), 'n nuwe skoolverlaterskwalifikasie wat die internasionale afdeling van die Onafhanklike Eksamineringsraad (IEB) ontwikkel het en aanbied. Die eerste IEB-ISS-eksamen vind in November 2022 plaas, wat beteken dat die eerste kohort ISS-gekwalifiseerdes vanjaar by universiteite sal aansoek doen om in 2023 te registreer.
Die IEB-ISS is aan omvattende evaluering onderwerp. Dit is eerstens deur Universiteite Suid-Afrika (USAf) beoordeel, wat bevind het dat internasionale kandidate wat die kwalifikasie met lof of op 'n gevorderde vlak slaag, en plek by 'n Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstelling bekom, aan die minimum vereistes vir toelating tot graadprogramme sal voldoen.
UK Ecctis (voorheen UK NARIC) het ook die kwalifikasie deeglik ondersoek. Hierdie instelling, wat die Verenigde Koninkryk in alle internasionale kwalifikasiesake verteenwoordig, het die IEB-ISS met ander, soortgelyke programme vergelyk. Hulle plaas dit op dieselfde vlak as erkende internasionale kwalifikasies soos die “AS-Levels" van Engeland, Wallis en Noord-Ierland, die Senior Sekondêre Onderwyssertifikaat van Australië, en die Sertifikaat van Sekondêre Onderwys van Kenia. Boonop reken hulle die IEB-ISS op Verdere Studie-vlak is gelykstaande aan die Verenigde Koninkryk se “A-Levels".
Die US se Eenheid vir Internasionale Kwalifikasies is hard aan die werk om die nodige strukture, prosesse en beleide vir die doeltreffende gehalteversekering van die IEB-ISS gereed te kry. 'n Gehalteversekeringsbeheerkomitee is saamgestel met prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, as voorsitter. Die komitee bestaan uit nasionaal aangeskrewe onderwyskundiges en leiers in die sekondêre en hoër onderwys, sowel as voormalige beleidvormers op die gebied van kurrikulum en assessering. Hulle sal toesig hou oor die gehalteversekering van die vernaamste IEB-ISS-prosesse en die ISS-verwante werk van die Eenheid vir Internasionale Kwalifikasies.
Daarbenewens sal die beheerkomitee 'n oog hou oor twee deskundige werkskomitees, wat onderskeidelik vir kurrikulum- en assesseringsake en die standaardisering van eksamenuitslae verantwoordelik sal wees. Eersgenoemde staan onder leiding van dr Nan Yeld, bestuurder van die implementeringsvoorbereidingsplan vir die Raad op Hoër Onderwys se nuwe Gehalteversekeringsraamwerk vir Hoër Onderwys in Suid-Afrika, en laasgenoemde word gelei deur prof Sizwe Mabizela, visekanselier van Rhodes-universiteit. Albei voorsitters dien ook in die beheerkomitee.
Die US beskou die nuwe IEB-ISS as 'n bekostigbare alternatiewe Afrikagerigte internasionale skoolverlatersertifikaat. Deur as gehalteversekeraar van die kwalifikasie op te tree, beoog die Universiteit om tot wêreldwye onderwys by te dra.
Vir verdere inligting, gaan na www.sun.ac.za/SU-UIC en www.iebiq.com/pages/aboutus.