Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SSA-entiteite moedig Afrikasamewerking aan
Outeur: SU International
Gepubliseer: 02/05/2022

“Inspireer Afrikasamewerking". Dís waarna US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika (SSA) dié jaar sal streef. Die Sentrum het dié leuse teen die einde van Januarie by sy jaarlikse strategiese beplanning gekies. Die SSA sal sy leuse onder meer deur twee nuwe entiteite gestand doen: die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (“AUDA-NEPAD CoE-STI") en die Hub vir Volhoubare Ontwikkelingsimpak (“SDG/2063 Hub").

Eie innovasies vir eie oplossings

Die Afrika-unie se ontwikkelingsagentskap, die Suid-Afrikaanse Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) en die Universiteit Stellenbosch (US) het die AUDA-NEPAD CoE-STI gesamentlik in Junie 2021 tot stand gebring. Die doel is om die navorsings- en wetenskapvermoëns van die Afrikavasteland te benut om innovasies eie aan Afrika uit te bou en te kommersialiseer, en sodoende op ons eie ontwikkelingsprioriteite te reageer. Die sentrum wil in wese die implementering van die Afrika-unie se Agenda 2063 met wetenskaplike en bewysgegronde innovasies ondersteun.

Dr Nico Elema van die SSA dien as hoofkundige by die CoE-STI, terwyl Simohn Engelbrecht die uitbouing van geïdentifiseerde innovasies sal koördineer. Altesaam 35 Suid-Afrikaanse innovasies is tot dusver geïdentifiseer. Die innovasies spruit alles uit gevestigde US- en WNNR-programme. Omdat dit op deeglik beproefde en bewese tegnologieë en tegnieke berus, is dit gereed om oor die hele vasteland uitgebou of gekommersialiseer te word.

Aanvanklike innovasiekategorieë wat vir uitbouing geïdentifiseer is, sluit in gevorderde landbou en voedsel, gesondheid, waterverwante netwerke, biowetenskappe, e-regering, inligting- en kubersekuriteit, akwakultuur en landbouverwerking. (Wees op die uitkyk na verdere artikels en nuus oor vordering met die onderskeie innovasies.)

Kampvegter vir oorhoofse volhoubaarheid

Die SDG/2063 Hub is op sy beurt aan die einde van 2021 geskep. Die hub, met Corina du Toit as bestuurder, gebruik die US se wêreldwye netwerk vennootskappe en konsortiums om in die internasionale hoëronderwyssektor voorspraak te doen vir die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte van die Verenigde Nasies sowel as die Agenda 2063-doelwitte van die Afrika-unie. Terselfdertyd beoog die hub om die wyer US-gemeenskap bewus te maak van albei stelle volhoubaarheidsdoelwitte én van die US se rol om dit te bevorder. Hiervoor sal die SDG/2063 Hub intervensies in volhoubaarheidsgeletterdheid aanbied vir US-studente, as die denkleiers en beleidvormers van die toekoms. Nóg 'n kernaktiwiteit sal wees om volhoubaarheidsdata in te samel, impak te meet en hulpbronne te konsolideer. Een huidige inisiatief wat spesiale aandag ontvang, is die skryf van die US se impakverslag vir Times Higher Education. Die verslag, wat in Oktober ingedien moet word, bied 'n oorsig van die Universiteit se bydrae tot die oorhoofse volhoubaarheidsdoelwitte.

Om die hub se doelwitte te help bereik, neem US-studente en -mentors (akademiese personeel) tans deel aan Future17, 'n virtuele uitdaging wat op die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte konsentreer. Dit word deur die QS-universiteitsranglys, die Universiteit van Exeter, die Chinese Universiteit van Hong Kong en die Universiteit van São Paulo aangebied. Die program het in mid-Februarie begin, en duur tot die einde van Mei, en 'n tweede aflewering skop in September af. 

* Vir verdere inligting oor hierdie inisiatiewe, kontak die onderskeie programbestuurders. Vir die AUDA-NEPAD CoE-STI, e-pos dr Nico Elema (ne@sun.ac.za) of Simohn Engelbrecht (simohn@sun.ac.za). Vir die SDG/2063 Hub, e-pos Corina du Toit (corina@sun.ac.za).