Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Sibusiso Moyo die US se nuwe Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 21/04/2022

​Prof Sibusiso Moyo is as die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aangewys. Die US Raad het hierdie besluit op Maandag 11 April 2022 geneem nadat die Institusionele Forum en Senaat ook hul steun aan Moyo toegesê het.

Sy sal op 1 September 2022 die amp aanvaar as opvolger van prof Eugene Cloete, wie se tweede termyn op 31 Julie eindig.

Moyo, 'n ervare hoëronderwysbestuurder met 'n agtergrond in die wiskundige wetenskappe, is tans die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Skakeling by die Durbanse Universiteit vir Tegnologie (DUT).

Sy sê sy is “baie opgewonde en geëerd" om haar by die US aan te sluit: “Ek bedank die Universiteit en die Raad vir hierdie geleentheid. Ek kan nie wag om deel te word van die US-familie nie, en om 'n positiewe bydrae te lewer tot sowel ons statuur as ons diversiteit terwyl ons saam vorentoe beweeg."

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, sê hy sien daarna uit om saam met Moyo te werk. “Uitmuntende navorsing, innovasie en nagraadse studie aan die US is noodsaaklik om ons strategiese institusionele doelwitte te bereik, wat insluit om 'n florerende US te skep en navorsing vir impak te onderneem. Ek glo vas ons nuwe Viserektor sal ons help om ons visie te verwesenlik om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit met 'n wêreldwye reikwydte te word."

Akademiese agtergrond

Moyo het die graad BSc in Wiskunde (met meriete) aan die Universiteit van Zambië verwerf (1996). Haar nagraadse kwalifikasies in Wiskunde het sy alles aan die Universiteit van Natal (nou die Universiteit van KwaZulu-Natal) voltooi – die graad HonsBSc in 1997, 'n MSc in 1998, en 'n PhD in 2002. Daarbenewens het sy in 2016 'n magistergraad in Tersiêre Onderwysbestuur (met lof) aan die LH Martin-instituut van die Universiteit van Melbourne, Australië, verwerf.

Haar vorige poste by DUT sluit in direkteur van Navorsing en Nagraadse Steun en hoof van die Departement Wiskunde, Statistiek en Fisika, waar sy vroeër ook dosent en later senior dosent was.

Sy was al gasredakteur van 'n aantal vaktydskrifte oor die wiskundige wetenskappe uit die stal van Springer-Verlag, John Wiley & Sons en die Amerikaanse Instituut vir Fisika. Tans dien sy in die eindredaksie van Taylor & Francis se Journal of Higher Education Policy and Management.

Geslagsgelykheid

Dié getroude ma van twee is passievol oor die bevordering van geslagsgelykheid, veral in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Sy was een van die uitvoerende stigterslede van die Suid-Afrikaanse tak van die Organisasie vir Vroue in Wetenskap vir die Ontwikkelende Wêreld (OWSD).

Entrepreneurskap

Een van haar meer onlangse belangstellings is om as mentor vir studente-entrepreneurs op te tree sodat hulle ontwerpdenke sal toepas om geleenthede te identifiseer en na oplossings vir uitdagings in hul gemeenskappe te soek. Sy het die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se leierskapstoekenning vir entrepreneursontwikkeling in die hoër onderwys twee keer ontvang (in 2019 en 2021), en was nou betrokke by die vestiging van Innobiz, DUT se Sentrum vir Entrepreneurskap en Innovasie.

Netwerke

Afgesien van haar rol by die DUT, beklee Moyo ook ander nasionale en internasionale poste. Op nasionale vlak is sy die voorsitter van die DHOO se program vir toekomstige professore. En van 2020 tot 2021 het sy in die ministeriële taakgroep vir die hersiening van die Suid-Afrikaanse Tegnologie- en Innovasieagentskap gedien.

Sy dien in verskeie direksies, waaronder dié van die Sentrum vir die Bevordering van Wetenskap- en Wiskundeonderwys (CASME) en Innovate Durban, 'n maatskappy sonder winsoogmerk wat die eThekwini Munisipaliteit en DUT Edms Bpk opgerig het om derdestroominkomste te skep.

Buite ons landsgrense is sy eredekaan van die Skool vir Innovasie en Entrepreneurskap aan die Tianjin-beroepsinstituut in China (2021–2023), en institusionele koördineerder van die Alliansie van Guangzhou Internasionale Susterstadsuniversiteite, wat uit 13 liduniversiteite in 12 lande bestaan.

Visie en planne

Moyo sê sy sal haar daarvoor beywer om die US se bestaande multidissiplinêre navorsings- en innovasie-entiteite te versterk. Hiervoor sal sy sorg dat haar bloudruk vir die portefeulje Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie met die Universiteit se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 strook. “My rol sal wees om stelsels en prosesse te skep, sowel as gespreksplatforms vir oorlegpleging, sodat personeel, studente, alumni en ander belangrike belanghebbendes kan deelneem aan die ontwerp en implementering van oplossings."

Sy sal ook daarna streef om wedersyds voordelige navorsings- en innovasievennootskappe en -samewerking, sowel intern as ekstern, uit te brei. “Om mensgesentreerd te wees sal die deurslag gee – om te sorg dat elke personeellid hul volle potensiaal verwesenlik. Ek wil ook ons impak, navorsingsuitsette en toelaagverkryging help uitbou."

Om tot nagraadse opleiding en die transformasieagenda van die US by te dra, sê Moyo die verhoging van die getal nagraadse studente en die strewe na groter diversiteit deur die ontwikkeling van 'n nuwe geslag akademici sal hoog op haar agenda wees. “Ons moet ons nagraadse studente en navorsers aanmoedig om entrepreneurs te wees om jeugwerkloosheid in ons land, wat nou op 'n kommerwekkende 66,5% staan, te verminder."

Die erkenning en viering van uitnemendheid is vir Moyo van die allergrootste belang. “Ek beoog om strategiese leierskap te bied, en saam te ontwerp aan intervensies om te sorg dat ons heel boaan die lys van Suid-Afrikaanse universiteite staan. Terselfdertyd moet ons aandag skenk aan ons impak en die waarde wat ons vir ons gemeenskappe skep."

  • Prof Eugene Cloete, by wie Moyo die leisels sal oorneem, dien die US reeds 13 jaar lank met onderskeiding – drie as dekaan van Natuurwetenskappe, en tien as Viserektor. Hy is voornemens om terug te keer na die US Waterinstituut, waarvan hy die stigtersdirekteur was, en sal ook met ons skole vir Klimaatstudie sowel as Datawetenskap en Rekenaardenke saamwerk.
  • Foto deur Anton Jordaan