Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Dekade van uitnemende navorsing, innovasie en nagraadse studie
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 20/04/2022

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op 11 April 2022 ʼn oorsig van vordering in Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aan die instelling die afgelope dekade ontvang van prof Eugene Cloete, wie se tweede termyn as Viserektor verantwoordelik vir dié portefeulje op 31 Julie eindig.

Hy het aan die hand van vordering in die ses strategiese fokusgebiede waarmee hy in 2012 begin het tot die gevolgtrekking gekom dat die Universiteit die afgelope tien jaar in wese verdubbel is:

Nuwe multidissiplinêre navorsingsentiteite

  • Die US het nou ses sentrums van uitnemendheid, wat meer is as enige ander universiteit in die land.
  • Twee grensverskuiwende interdissiplinêre kruisfakulteitsentiteite is tot stand gebring, naamlik die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, en die Skool vir Klimaatstudie.
  • Saam met die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidnavorsing (WNNR) is die US nou gasheer van die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie – die enigste van sy soort in Suid-Afrika.

Uitbreiding van innovasie

  • 'n Innovasie-ekosisteem is op grond van uitnemende navorsing by die US tot stand gebring. ʼn Hoeksteen van dié stelsel is Innovus, die US-afdeling gemoeid met tegnologieoordrag en omvattende entrepreneursbystand en -ontwikkeling.
  • Die US het oor die tydperk 2009–2021 die meeste patentaansoeke in Suid-Afrika ingevolge die Patentsamewerkingsverdrag opgelewer – 143 altesaam – en daarmee alle ander universiteite, navorsingsrade en privaat maatskappye uitgestof.
  • Die Universiteit het tans 29 afwentelmaatskappye in sy maatskappyegroep. Dít is nie net meer as enige ander universiteit in die land nie, maar die US het dit boonop meer kostedoeltreffend as sy internasionale eweknieë vermag.

Bevordering van navorsingsuitsette

  • Die US se eersterangse Biblioteek- en Inligtingsdiens gaan van krag tot krag en bied omvattende dienste in sowel die digitale as fisiese omgewing om navorsing by die Universiteit te ondersteun en te bevorder.
  • Die US se Sentrale Analitiese Fasiliteite, wat studente in die natuurwetenskappe, geneeskunde en ingenieurswese van analitiese kundigheid voorsien, het die afgelope drie jaar van die mees gevorderde toerusting op die mark teen 'n koste van sowat R175 miljoen verkry.
  • Die nuwe Biomediese Navorsingsinstituut in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op ons Tygerbergkampus nader voltooiing. Hierdie gevorderde fasiliteit, wat meer as R1 miljard gekos het om op te rig, sal uiteindelik 'n wetenskaplike tuiste vir 1 000 navorsers wees.
  • Die US se geweegde navorsingsuitsette (publikasies sowel as magister- en doktorsgrade) het die afgelope dekade byna verdubbel – van 2 200 eenhede in 2012 tot 4 000 in 2021.

Ontwikkeling van menslike hulpbronne

  • Die getal navorsingsleerstoele en sentrums van uitnemendheid aan die US het die afgelope tien jaar byna verviervoudig – van 16 in 2012 tot 60 in 2021. Dít sluit 26 leerstoele van SARChI (die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoelinisiatief) in, wat meer is as die meeste ander universiteite in die land.
  • US-navorsers met 'n gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) het ook aansienlik toegeneem – van 309 in 2012 tot 492 in 2021.
  • Die getal nadoktorale genote het meer as verdubbel van 154 in 2012 tot 321 in 2021. Daarbenewens bestaan die Consolidoc-program nou uit meer as 100 deelnemers.
  • Die US neem aktief deel aan twee inisiatiewe van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding om die land sy eie navorsingsvermoë te help bou, naamlik die program vir die volgende geslag akademici (nGAP) en die program vir toekomstige professore (Future Professors Programme).

Nagraadse studente-opleiding

  • Toe finansiering vir nagraadse studie in 2019 onder druk begin kom het, het die Universiteit R120 miljoen in nagraadse beurse belê. Dít is die grootste bydrae van sy soort in die bestaan van die instelling.
  • Die US handhaaf 'n besonder hoë nagraadse uitset en het in die akademiese jaar 2021 'n totaal van 1 494 magister- en 311 doktorsgrade toegeken – 48% daarvan aan generies swart studente.

Finansiële volhoubaarheid

  • Die US se derde geldstroom (uit navorsingskontrakte) het die afgelope dekade byna verdubbel van R576 miljoen in 2012 tot R1,22 miljard in 2021, waarvan 75% uit internasionale bronne verkry is. Dít dra by tot die institusionele doelwit van finansiële volhoubaarheid en toon dat die Universiteit wêreldwyd erkenning geniet.

Die Raad het eenparig 'n mosie aanvaar om prof Cloete geluk te wens met, en te bedank vir, sy twee suksesvolle termyne. Die mosie lui: “Hy laat 'n gesonde portefeulje agter en het uitmuntende werk gedoen om 'n voortreflike, toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit te skep, belangrike vennootskappe te bou, en terselfdertyd nagraadse studie verder uit te brei as 'n belangrike volhoubare bousteen om dít alles te onderstut."

Prof Cloete het huidige sowel as voormalige kollegas vir hul bydraes bedank en benadruk dit was ʼn spanpoging.

Hy beoog om terug te keer na die US Waterinstituut, waarvan hy die stigtersdirekteur was, en ook om met die US se skole vir Klimaatstudie sowel as Datawetenskap en Rekenaardenke saam te werk.

BO: Foto deur David Harrison; Grafiese ontwerp deur Whitney Prins​