Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en die Carl en Emily Fuchs-stigting stel nuwe Kanseliersbeurs-program bekend
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 12/04/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy nuwe vlagskip-beursprogram bekend gestel wat deur die filantropiese instelling, die Carl & Emily Fuchs-stigting (CEFF) ter waarde van R9 miljoen geborg word. Die eerste kohort van 30 studente wat oor die volgende drie jaar by hierdie inisiatief sal baat vind, is ook tydens die geleentheid bekend gemaak. 

Die program, bekend as die CEFF-Kanseliersbeursprogram aan die US, is spesifiek daarop gemik om studente uit die 'verlore middelgroep' by te staan en bestaan uit twee dimensies: die skep van toegang deur middel van finansiële hulp en die fasilitering van beurshouers se akademiese sukses.

Die beurs bied bykomende befondsing aan kwalifiserende studente tot 'n maksimum van R75 000 per jaar, wat gebruik kan word om te help met die betaling van studiekoste soos onderrig, akkommodasie, etes, studiehulpmiddels of boeke. Daarbenewens het die beurs ook ten doel om die waarskynlikheid van akademiese sukses te verbeter deur omvattende ondersteuningsdienste aan te bied. Dit sluit in mentorskap, aanvullende onderrig, eweknieleer- en deelgeleenthede, psigososiale ondersteuning, studievaardighede, persoonlike en professionele ontwikkeling, aanvullende akademiese ondersteuning asook die verwysing van studente vir ondersteuning gebaseer op hul individuele behoeftes.

Die 30 studente, wat vanuit nege US-fakulteite gekies is, sal elk vir 'n tydperk van drie jaar ondersteun word, mits hulle aan die akademiese vorderingsvereistes voldoen. Die kwalifiserende studente in die huidige kohort is óf genomineer en daarna genooi om aansoek te doen óf hulle het reeds aansoek gedoen vir befondsing / finansiële hulp.

Dr Riaan Els, uitvoerende hoof van die CEFF en 'n voormalige ontvanger van dié toekenning, het die studente gelukgewens en hulle aangemoedig om terug te ploeg in die gemeenskap soos wat die Stigting belê in hul professionele ontwikkeling deur die implementering van hierdie beursprogram.

Maak ʼn verskil

Nadat 'n oorsig van die geskiedenis en toekenningstrategie van die Stigting met die gehoor gedeel is, was dit tyd om die beurshouers se toewyding aan te moedig. “Ek vra hiermee dat julle julself daartoe sal verbind om ten minste een mens te vind wat julle kan help. Wees die beste onderwyser, prokureur en dokter wat jy kan wees, maar vind ten minste een ander persoon wat jy kan help. Kan ons op julle staatmaak?"

Daarmee, in 'n roerende en bepalende oomblik, het al 30 studente opgestaan en belowe dat hulle hulself daartoe sal verbind om 'n verskil in iemand se lewe te maak.

Die US se Kanselier, oudregter Edwin Cameron, beskermheer van die program, het beklemtoon hoe trots hy is om hierdie vlagskip-beursprogram te steun en dat hy dit as 'n eer beskou om die kanseliersposisie te beklee.

“Ek put groot vreugde daaruit om te sien dat jongmense soos julle ons land lei en die toekoms skep wat my generasie, swart en wit, nie voldoende gestand gedoen het nie. Ek dink ons generasie het soveel foute gemaak, maar nou het julle die kans om 'n verskil te maak."

Hy het dr Els en die CEFF bedank dat hulle die Universiteit Stellenbosch as 'n vennoot gekies het om hierdie opwindende program 'n realiteit te maak. 

Finansiële gemoedsrus

Beursontvanger Dumisani Mugari, wat onder uitdagende omstandighede in landelike Venda grootgeword het, het vertel hoe, ondanks die feit dat hy elke oggend om 5uur moes opstaan om 60 kilometer ver te reis na 'n hoërskool met 'n uitstekende Wiskunde-program, hy gedink het sy droom om 'n mediese dokter te word was daarmee heen toe hy nie aanvanklik vir mediese studies aanvaar is nie.

Nadat hy egter 'n graad in Ingenieurswese aan VUT voltooi het, het hy weer aansoek gedoen en is toe by die US aanvaar, maar om sy studies te bekostig was 'n groot uitdaging. In die loop van verlede week het hy die ongelooflike nuus ontvang - bevestiging dat 'n Kanseliersbeurs aan hom toegeken sal word.

“Dit voel asof ek 'n tweede kans in die lewe gekry het om te doen wat ek wil doen, en dat ek uiteindelik erkenning kry vir al daardie jare van harde werk en opoffering. Aangesien hierdie beurs my bemagtig om die kringloop van armoede te ontsnap, waarin baie van my broers en susters steeds vasgevang is, verbind ek my daartoe om terug te ploeg in die gemeenskap met die vaardighede en netwerk van mense wat ek deur hierdie program sal leer en ontwikkel."

Joy Schoor, in haar tweede jaar van mediese studies, het gesê dit was 'n groot verligting toe sy die beurs aangebied is. “Dit is ook 'n groot las van my en my ouers se skouers af, want ek het 'n broer wat ook ondersteuning benodig. Dit is regtig ongelooflik."

Catlin Kedian, in haar tweede jaar Dieetkundestudies op die Tygerbergkampus , het gesê die beurs kom op die regte tyd, aangesien haar familie ernstige finansiële probleme gedurende die Covid-19-tydperk ondervind het. “Dit sal 'n groot impak maak op my lewe en sal my toelaat om te fokus op wat ek hier is om te doen en nie om oor geld te stres nie," het sy gesê. 

Foto: Die ontvangers van die Kanseliersbeurs is hier te sien saam met (voorste ry) dr Riaan Els, HUB van die Carl en Emily Fuchs-stigting, prof Stan du Plessis, bedryfshoof van die US, dr Ronel Retief, US Registrateur, en die US se Kanselier, oudregter Edwin Cameron.