Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MA-gegradueerde dra die fakkel vir Dowe gemeenskap en SAGT
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Naude van der Merwe
Gepubliseer: 08/04/2022

Met rolprente soos 2020 se The Sound of Metal en CODA, wat vanjaar die Oscar as beste rolprent ingepalm het, het stories oor die Dowe gemeenskap die afgelope tyd al hoe meer in die populêre kultuur en media begin uitstaan. 

Dit is 'n baie goeie ding, sê Modiegi (Susan) Njeyiyana, 'n Dowe dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat pas haar meestersgraad in Taalwetenskap tydens die US se April-gradeplegtighede ontvang het.
ARTS_3.jpg

 “Ons het nog baie meer daarvan nodig," sê sy. “Ons wil hê Dowe mense moet aan die horende samelewing deelneem, maar ons wil ook hê mense wat kan hoor, moet meer leer oor wie ons as 'n gemeenskap is. Ons moet 'n brug bou en toelaat dat die twee strome inmekaar vloei."
 
Njeyiyana, wat in 1993 aan die St Vincent-skool vir Dowes in Johannesburg gematrikuleer het en in 2017 'n honneursgraad Taalwetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf het, is sedert 2018 'n dosent by die Universiteit. Ná skool het sy 'n vinnige draai in die skoonheidsbedryf gemaak, maar gou besef dis nie vir haar nie. Die onderwys, en spesifiek in die Dowe gemeenskap, was waar haar ware roeping gelê het. Sy het vir 16 jaar as aanbieder, fasiliteerder, storieverteller en digter vir die organisasie, Sign Language Education and Development (SLED) gewerk.
 
Toe die geleentheid by die US hom voordoen, het sy dit met albei hande aangegryp. Sy het vir haar meestersgraad, getiteld “Lexical variation and change in SASL: a case study of a Western Cape school-lect", navorsing gedoen oor die variasies en taalverandering in Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) binne een spesifieke skool in die Wes-Kaap, die Dominikaanse Skool vir Dowes in Wynberg.
 
Die verskille in dialekte binne SAGT het haar nog altyd geïnteresseer. Volgens Njeyiyana, het SAGT in silo's ontwikkel gedurende die apartheidsjare, aangesien kulture nie toegelaat is om te meng nie. Daarom was Dowe Zoeloe-kinders se gebaretaal op hul kultuur gegrond en het dit ander gebare vir dieselfde woord gehad as byvoorbeeld Tswana-kinders. Ná 1994 is almal toegelaat om te meng en dit het 'n aansienlike invloed op SAGT gehad. 

Dit is een van die redes waar SAGT soveel van byvoorbeeld Britse Gebaretaal verskil. Al die verskillende Suid-Afrikaanse kulture en tale het SAGT beïnvloed om 'n waarlik unieke taal te skep.
 
Sy het in haar Meestersdissertasie gekyk na veranderinge in gebaretaal wat oor geslagte en variasies wat deur die jare plaasgevind het. Sy wil graag hierdie belangstelling verder verken.
 
“SAGT word steeds onderdruk. Daar heers 'n swak ingesteldheid jeens die taal en ek glo deur navorsing en bewyse kan ons daardie ingesteldheid jeens die taal verander, asook ons kultuur en kan ons dit as net so belangrik as enige ander kultuur sien."
 
Navorsing oor veral SAGT-literatuur is ook iets wat Njeyiyana verder wil verken. Sy beklemtoon dat SAGT 'n taal in eie reg met 'n ryke geskiedenis is.
 
“Ek is 'n SAGT-digter in murg en been en ek wil meer navorsing oor SAGT-literatuur doen, want Dowe kinders moet toegang tot gedigte en prosa in hul eie taal hê. Onderwys vir Dowes het baie meer ondersteuning nodig as wat tans beskikbaar is."
 
Onderwyser in murg en been

 Njeyiyana gee vir die eerstejaars in die US se Departement Algemene Wetenskap klas oor SAGT-verwering. Volgens haar het die belangstelling in die kursus baie toegeneem sedert sy in 2018 daar begin het, met meer as 'n honderd studente wat vanjaar vir die module ingeskryf het.
  
Njeyiyana hoop die belangstelling in SAGT sal voortduur. “Dit is my wens dat daar 'n volwaardige akademiese departement vir SAGT in die toekoms sal wees. Dit sal ware transformasie wees en baie meer bewustheid skep."
 
Prof Kate Huddleston, voorsitter van die departement, sê Njeyiyana het sedert haar aankoms by die US 'n waardevolle bydrae tot die departement gelewer. “Sy het dit moontlik gemaak dat ons SAGT-verwerwing op eerstejaarsvlak kan aanbied en het bewustheid onder die studente en personeel geskep oor kwessies wat met Doofheid en die gebruik van SAGT verband hou. Sy het as MA-student tot die diversiteit van ons nagraadse kohort en ons navorsing oor SAGT bygedra. Sy het ook 'n groot bydrae gelewer tot die huidige Leer en Onderrig-ondersteuningsmateriaal-projek wat in die departement gesetel is en wat deur die Handlab leer- en onderrig-ondersteuningsmateriaal vir Wes-Kaapse skole vir Dowes lewer."
 
Njeyiyana het Ilze Aäron, die US se eerste student om te gradueer deur SAGT as instruksietaal te gebruik, bygestaan. Sy sê die Fakulteit Opvoedkunde, waar Aäron in 2021 haar graad ontvang het, is die plek waar SAGT werklik 'n groot verskil kan maak. “Nog voordat studente afstudeer, sal hulle weet hoe om Dowe kinders te benader wanneer hulle hul eerste werk te gemoed gaan."
 
Volgens haar het baie Dowe kinders nie toegang tot gebaretaal in skole nie aangesien die meeste onderwysers nie weet hoe om dit te gebruik nie, maar daar van hulle verwag word om gebaretaal vir Dowe kinders aan te leer. Dit is iets wat sy graag sal wil sien verander, veral aangesien SAGT nou ook as vak aangebied word in skole vir Dowes.
 
Hoewel Njeyiyana getroud is, woon haar man, wat gehoorgestremd is, in Johannesburg. Só ook haar twee kinders wat kan hoor. Hulle woon by hulle pa, maar sy sal graag die Wes-Kaap haar tuiste wil maak.
 
“Ek droom daarvan om 'n ware tuiste te hê en dat die gesin bymekaar sal wees. Ek droom ook van akademiese erkenning en om tot die bemagtiging van Dowe mense by te dra."

Fotograaf: Stefan Els