Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘GGO’s kan prakties help om armes te bemagtig en te transformeer’ – doktorale studie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 04/04/2022
Geloofsgebaseerde organisasies (GGO's) kan help om diegene wat ekonomies agtergeblewe is, te bemagtig deur hulle met werksvaardighede toe te rus en weer vir hulle menswaardigheid te gee.

Dít is volgens dr Susan Mellows wat Maandag (4 April 2022) haar doktorsgraad in Praktiese Teologie by die April-gradeweek van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het. Mellow het 'n gevallestudie van Learn to Earn – 'n GGO met kampusse in Khayelitsha, Hermanus en Claremont – vir haar doktorale navorsing gedoen om beter te verstaan hoe die organisasie se studente, wat voorheen werkloos was, hul menswaardigheid herwin wanneer spiritualiteit 'n integrale deel van hul vaardigheidsontwikkelingopleiding uitmaak. Learn to Earn is 31 jaar gelede gestig om maatskaplike ongeregtigheid aan te spreek, maatskaplike transformasie te bevorder en om armoede te verlig. Mellows het die afgelope 15 jaar gereeld die GGO besoek, hul geldinsamelingsgeleenthede bygewoon en hulle op sosiale media gevolg.  

Volgens haar slaag Learn to Earn daarin om aan die studente se ekonomiese, emosionele en spirituele behoeftes te voldoen deur spiritualiteit deel van hul vaardigheidsontwikkelingprogram te maak, deur die boodskap van hul onmeetbare waarde oor te dra en deur hul menswaardigheid te bevestig. Dit help weer om selfstandigheid by die studente te kweek terwyl hulle losbreek uit armoede.

“Learn to Earn gebruik sy hoofvaardigheidsontwikkelingsprogram om studente op indiensneming en entrepreneurskap voor te berei deur hul vermoë om 'n inkomste te verdien, te verbeter. Learn to Earn fokus doelbewus op bemagtiging."

Volgens Mellows verskaf die organisasie opleiding aan nagenoeg 600 werklose mense wat per jaar registreer. Hulle word hoofsaaklik in die volgende vaardighede opgelei: bak vir wins, grafiese ontwerp, kantoorvaardighede, basiese rekenaargeletterdheid, basiese nutsmanswerk, houtwerk en naaldwerk.

“By Learn to Earn ontdek mense hul ware identiteit, eerder as om te glo wat ander oor hulle sê; hul eiewaarde word herstel en hul menswaardigheid bevestig. Met hierdie nuutgevonde waardigheid kan die studente weer 'n inkomste verdien en die gevoel van magteloosheid oorwin. Maatskaplike transformasie vind plaas wanneer hulle ophou glo dat hulle waardeloos is en dat niks ooit gaan verander nie.

“Aangesien die deelnemers nou in staat is om 'n toekoms vir hulself te visualiseer en hul passie vir hul nuutgevonde talente kan uitleef, begin hulle besef hulle het 'n doel of 'n roeping. Dit verbeter weer hul geestelike en emosionele welstand en help hulle om gebroke verhoudings te herstel.

“Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die deelnemers vóór hul aankoms by Learn to Earn emosioneel onder druk was weens die daaglikse genadelose stryd om oorlewing en omdat hulle nie kos en ander noodsaaklikheide kon voorsien nie, die vrugtelose gesoek na werk en die nienakoming van finansiële verpligtinge. Baie voel te magteloos om hul situasie te verander en glo hulle is waardeloos en hul menswaardigheid word afgebreek."

Mellows wys daarop dat wanneer die studente hul menswaardigheid begin waardeer, hulle hul vaardighede begin gebruik om finansieel onafhanklik te word. Dit stel hulle in staat om hul gesinsverpligtinge na te kom, om doelwitte te stel soos om 'n sakeonderneming te begin of om verder te studeer, en om hierdie doelwitte te bereik.

“Die feit dat die personeel by Learn to Earn ook hul geloof in die deelnemers se vermoë uitspreek om hul omstandighede te verander, laat hul selfvertroue en selfagting toeneem. Dit verbeter hul eiewaarde en verminder hul emosionele spanning. Gevoelens van hoop verdryf die vrees en angs oor die toekoms. Hulle ontwikkel 'n nuwe begeerte om hul gemeenskappe te dien en om tot die samelewing by te dra."

Sy sê alle GGO's, akademici en kerke sal by haar navorsing kan baat vind.

“Hierdie studie kan die kerk aanspoor om sy inisiatiewe vir maatskaplike geregtigheid uit te brei, want dit is duidelik hoe transformasie deur holistiese spiritualiteit binne 'n GGO kan en sal plaasvind. Die bevindings mag dalk ook die kerk aanmoedig om met GGO's wat by ontwikkelingswerk betrokke is, in gesprek te tree en vennootskappe te vorm, ten einde hulle in hul armoedeverligtingswerk te ondersteun." 

  • Foto: Dr Susan Mellows by die gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els