Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe navorsingsentrum gaan op demokrasie fokus
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 24/03/2022

In die lig van die toenemende uitdagings vir demokrasie in verskeie wêrelddele die afgelope paar jaar, het die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs die Sentrum vir Navorsing oor Demokrasie (CREDO) tot stand gebring. Dit is in die Departement Politieke Wetenskap gesetel. 

CREDO het ontstaan uit die werk van die Departement se voormalige Transformasienavorsingseenheid (TRU). “Ons het tóé reeds byna uitsluitlik op demokrasienavorsing gekonsentreer, en gevolglik het ons 'n internasionaal erkende rekord van vergelykende navorsing oor demokrasie in alle kulturele streke opgebou," verduidelik prof Ursula van Beek, die voormalige TRU-direkteur wat nou aan die stuur van CREDO staan. “Ons hoop om hierop voort te bou, steeds navorsing van gehalte te onderneem, en terselfdertyd 'n nasionale sentrum te skep vir die studie van die enorme uitdagings vir demokrasie in Suid-Afrika, die streek en die res van die wêreld." 

Dadelik hard aan die werk 

CREDO is maar sedert Desember 2021 in bedryf, en skep tans nog sy strukture. Nietemin het die nuwe sentrum sterk begin, en het hy reeds 'n eerste internasionale samewerkingsprojek agter die rug. CREDO was ook vroeër vanjaar mede-aanbieder van 'n aanlyn gesprek om die Wêrelddag vir Sosiale Geregtigheid te gedenk. Die ander aanbieders was die Verenigde Nasies se Instituut vir Opleiding en Navorsing (UNITAR) en die Istanboelse Sentrum vir Plaaslike Owerhede en Plaaslike Rolspelers (CIFAL). “Die doel was om uitdagings vir sosiale geregtigheid in 'n post-pandemiewêreld te bespreek, sowel as moontlike strategieë wat ons daardie uitdagings kan help oorkom," sê Van Beek. “Ons het veral gesels oor hoe sosiale instellings bemagtig kan word om tot persoonlike en sosiale ontwikkeling by te dra, en hoe om deelname vir 'almal' aan te moedig sodat mense hulle stem op regeringsvlak kan laat hoor." 

Ander CREDO-webinare sal meer spesifiek op demokrasie konsentreer, en veral op die uitdagings waarvoor dit in verskillende lande te staan kom. Kwessies wat ondersoek sal word, sluit in politieke en sosiale polarisasie, ongelykheid, korrupsie en klimaatsverandering. “Ons wil graag die oorsaak van hierdie faktore verken, sowel as die uitwerking wat dit op burgers se politieke kultuur en gedrag het, wat op sy beurt die stabiliteit of onstabiliteit van demokrasie en sy instellings bepaal," sê Van Beek. 

CREDO se eerste navorsingsprojek – oor toenemende samelewings- en politieke polarisasie in 'n aantal lande én in die groter internasionale domein – is reeds aan die gang. Die projek sal uitloop op 'n aantal artikels wat in Julie in 'n spesiale uitgawe van die Taiwan Journal of Democracy sal verskyn. 

Hegte span 

'n Groot voordeel is dat spanlede wat voorheen by TRU betrokke was steeds 'n rol in CREDO sal vervul. “Die meeste van ons spanlede is al langer as 20 jaar saam," sê Van Beek. “Ons het begin as 'n informele groep navorsers wat demokrasie wêreldwyd wou bestudeer." Spanlede sluit navorsers van 'n aantal prestigeryke instellings in, waaronder die Universiteit van Oxford, die Sentrum vir Sosiale Wetenskappe in Berlyn, Bahçeşehir-universiteit in Turkye, en Sam Houston-staatsuniversiteit in die Verenigde State. “Ons span is kruisdissiplinêr, so hoewel die meeste lede politieke wetenskaplikes is, het ons ook historici, ekonome en sosioloë," sê sy. 

Volgens Van Beek streef CREDO daarna om 'n agendabepaler te word deur uitdagings vir demokrasie te ondersoek wanneer dit ontstaan, en sodoende tot bestaande teoretiese kennis by te dra. Vir dié doel maak hulle van sowel kwalitatiewe as kwantitatiewe navorsingsmetodes gebruik. “Die kwalitatiewe benadering help ons die geskiedenis en kultuur van 'n bepaalde samelewing verstaan, op grond waarvan ons die samelewing se institusionele organisasie én die waardes en motiverings van sy mense kan verklaar. Daarteenoor ondersoek die kwantitatiewe metode politieke en sosiale verskynsels deur nuwe data in te samel of bestaande data te gebruik, en dit dan aan statistiese en rekenaarontledings te onderwerp om patrone te probeer identifiseer."

 Die Sentrum hoop om hom mettertyd te vestig as 'n denkleier in die globale suide wat as 'n bron van ongeëwenaarde kundigheid oor demokrasie vir die akademiese gemeenskap sowel as die algemene publiek kan dien.

 

Fote: Kyle Glenn - Unsplash