Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wat ons doen, maak saak
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 22/03/2022


Ons is alreeds amper drie maande in 2022 en die dae vlieg steeds verby. Ons is so dankbaar dat ons kampusse weer lekker besig is en dat ons mekaar meer gereeld van aangesig tot aangesig kan sien.

My hoop vir 2022 is dat ons die lesse sal onthou wat ons geleer het tydens die mees uitdagende tye van die pandemie. Die belangrikste les vir my is: mense maak saak en wat ons doen maak saak.

Kom ons fokus daarop om onsself te verbeter sodat ons vaardig en veerkragtig is, en gesonde oordeel het om eienaarskap van ons werk te neem. Ons welstand moet ons prioriteit wees. Soek hulp by die US se ondersteuningsdienste indien nodig en handhaaf 'n goeie balans in jou lewe.

Tydens die pandemie het Fasiliteitsbestuur gewys dat ons baie kan regkry deur saam te werk. Deur samewerking kan ons beter oplossings vind vir uitdagings soos kostebesparing, diensverbetering en omgewingsvolhoubaarheid, om maar 'n paar te noem. Wat meer is, ons werk saam as 'n multi-dissiplinêre span en los probleme regoor ons kampusse op.

Ek wil herhaal: wat ons doen maak saak. Ons het 'n direkte invloed op hoe studente en personeel ons universiteit ervaar. Dit is 'n geweldige verantwoordelikheid en gee ons soveel geleenthede om doelwitte vir onsself te stel en 'n verskil aan ons wêreld en ons universiteit te maak.


Nicolette