Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektor lei Maties in Kaapstad-fietstoer
Outeur: Development & Alumni
Gepubliseer: 10/03/2022

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) is gereed om weer eens sy steun aan Matie-studente te wys.

Op Sondag 13 Maart 2022, lei prof De Villiers 'n span van 33 fietsryers bestaande uit alumni, personeel, studente en vriende van die Universiteit in die 109km Kaapstad-fietstoer om fondse in te samel vir #Move4Food, een van die prioriteitsinisiatiewe onder die vaandel van die Universiteit se jaarlikse fondsinsamelingsveldtog, Bridge the Gap. Hierdie Jaarfonds het ten doel om struikelblokke uit die weg te ruim op Matie-studente se pad na sukses.

#Move4Food is daarop gemik om voedselnood onder studente op US-kampusse te verlig en sodoende te verseker dat geen student op 'n leë maag hoef te studeer nie.

Prof De Villiers het die afgelope vyf jaar aan verskeie sportbyeenkomste deelgeneem om fondse in te samel vir studentebeurse en vir #Move4Food. Hy het die Kaapstad-fietstoer vyf keer voltooi, die volle 42.2 km Sanlam Kaapstad-marathon twee keer gehardloop en die 88 km Londen na Brighton-fietrit twee keer suksesvol aangepak.

Prof De Villiers sê: "“Ek voel geëerd om deel te wees van 'n span Maties wat omgee. Ons studente het talle uitdagings op ons kampusse, maar om honger te wees moenie een daarvan wees nie. Ek wil almal aanmoedig om by te dra op ons fondsinsamelingsblad."

Chris Norton, alumnus en eienaar van Casa Cerveza in Stellenbosch, sluit by die Maties-span aan saam met die Fairtree Imperial Cannondale-span, ryers wat almal van Kayamandi in Stellenbosch kom. “Hulle is baie trots om vir Maties te ry en verstaan die uitdagings wat jong Suid-Afrikaners in die gesig staar. Hulle het in hul vorige ritte vir Maties uitgeblink en beoog om 2022 die beste prestasie nog te maak!" voeg hy by.

Prof Sadulla Karjiker, alumnus en professor in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US, neem vir die tweede keer deel en sê hy is gereed om sy staal te wys vir so 'n waardige doel.

Vir Peter van de Venter sal Sondag se wedren sy eerste Kaapstad-fietstoer wees, maar hy het al voorheen die Matie-vlag laat wapper. Hierdie voormalige Eendragter en nou finansiële bestuurder, het in sy Matie-kleure aan verlede jaar se FNB Wine2Whales deelgeneem.

Abraham de Villiers sê dit is ongelooflik om as deel van 'n groep deel te neem. "Eenkeer 'n Matie, altyd 'n Matie! Om dit saam met ander oud-studente te doen, het my band met die universiteit versterk."

JP Visser sien uit na sy eerste Kaapstad-fietstoer. "Ek is opgewonde om deel te neem en my alma mater te verteenwoordig. Die Universiteit en sy studente lê my na aan die hart."

Jy word uitgenooi

Maties wat Sondag aan die Kaapstad-fietstoer deelneem asook hul ondersteuners word uitgenooi na die Universiteit se onthaalruimte by die wenstreep. Daar sal jy ligte verversings kan geniet en met mede-Maties kan kuier.

  • Om #Move4Food en die span te ondersteun, besoek asseblief https://www.givengain.com/cc/su100/. Jou ondersteuning sal die volgende generasie Maties die geleentheid bied om uit te blink sonder onnodige spanning en struikelblokke.