Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stimuleer samewerking op die vasteland
Outeur: Mmanape Hlungwane ​
Gepubliseer: 09/03/2022

Deur bilaterale ooreenkomste, 'n aantal navorsingsnetwerke, studente- en personeelmobiliteit sowel as programontwikkelingsteun versterk US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika (SSA) bande tussen die Universiteit Stellenbosch en sy vennootinstellings oor die hele Afrika. 

Die span by die Sentrum vir Samewerking in Afrika (SSA), wat in US Internasionaal geleë is, is daartoe verbind om impakryke samewerking tussen Afrika-universiteite te stimuleer. Onder leiding van direkteur dr Nico Elema help hulle die Universiteit Stellenbosch (US) sy verhoudings met Afrikavennote ontwikkel en versterk. Dít word bereik deur bilaterale vennootskappe, tematiese navorsingsnetwerke, studente- en personeelmobiliteit, en programontwikkelingsteun.

Die portefeulje van 33 bilaterale ooreenkomste wat die SSA bestuur, die meeste daarvan met ander Afrika-universiteite, bied personeel, studente en nadoktorale genote van die US 'n raamwerk vir ewekniesamewerking.

Deur die Afrikasamewerkingstoelaag (ACG) stel die SSA aanvangsfinansiering beskikbaar vir voltydse personeel en nadoktorale genote van die Universiteit om akademiese samewerking met een of meer vennote by instellings elders op die vasteland te skep of te versterk. Die ACG ondersteun boonop nagraadse studente om konferensies in ander Afrikalande by te woon. Die toelaagprogram prioritiseer sedert 2016 projekte met die US se bilaterale vennote in Afrika, sowel as werk binne die Alliansie van Afrikanavorsingsuniversiteite (ARUA).

In die strewe na die US se strategiese tema van doelbewuste vennootskappe en inklusiewe netwerke bestuur die SSA ook die programme van die Skema vir Intra-Afrika Akademiese Mobiliteit. Die doel is om studente en personeel groter mobiliteit tussen Afrikalande te bied sodat hulle geleentheid het om hulle vaardighede te verbeter. Die skema word deur die Europese Kommissie gefinansier en die programaanbod word in samewerking met die Vereniging van Afrika-universiteite, die Afrikanetwerk vir die Internasionalisering van die Onderwys en die Vereniging van Universiteite in die Suider-Afrikaanse Streek ontwikkel en geïmplementeer.

Periperi U (“Partners Enhancing Resilience for People Exposed to Risk") is op sy beurt 'n navorsingsalliansie van 12 Afrika-universiteite wat uit diverse denke put om ramprisikovermindering oor die hele vasteland te ondersteun. Die alliansie is in 2005 gestig met die doel om menslike vermoë te bou ten einde risikovermindering by kritiese ontwikkelingsektore en -programme te integreer. Die einddoel is om Afrikakundigheid uit te brei om die vasteland se ramprisikokwessies te hanteer en op te los. Die vennootskap volg 'n uitreikbenadering en bemagtig gemeenskappe om die bewaarders van hulle eie kennis te wees. Dit belê ook strategies in akademiese programme en kortkursusse vir beroepslui, sowel as in die ontwikkeling en verspreiding van navorsing om as grondslag vir ramprisikobesluite en -beleidvorming in Afrikalande te dien. Die SSA is die trotse gasheer van die Periperi U-sekretariaat, wat met kernrolspelers skakel – waaronder die Verenigde Nasies, die Wêreldbank en die Afrika-unie – om die alliansie se gesamentlike projekte oor risikotempering, veerkragtigheid en volhoubaarheid te koördineer.

Die SSA is ook die tuiste van die SDG/2063 Hub – 'n sentrum vir volhoubare ontwikkelingsimpak wat sowel die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte as die Afrika-unie se Agenda 2063 in die internasionale hoër onderwys bevorder. Die SDG/2063 Hub wil dít bereik deur bewusmaking, die skep van vennootskappe, en die identifisering én uitbreiding van die algemene US-gemeenskap se bydrae tot albei volhoubaarheidsagendas in Afrika sowel as die res van die wêreld.

Boonop is die SSA goed bekend met sentrums van uitnemendheid. Die sekretariaat van die AUDA-NEPAD Suider-Afrikaanse Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid (AUDA/NEPAD SANWATCE) funksioneer vanuit die SSA. Hierdie netwerk hoëronderwys- en navorsingsinstellings onderneem toonaangewende wetenskaplike navorsing en vermoëbouwerk in die water- en verbandhoudende sektore van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). SANWATCE het in 2006 sy opdrag van die Afrika-unie, die Afrikaministersraad oor Wetenskap en Tegnologie (AMCOST) en die Afrikaministersraad oor Water (AMCOW) ontvang. Daarbenewens is die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (AUDA-NEPAD CoE-STI) onlangs in vennootskap met die US en die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) op die been gebring. Dié sentrum, wat óók 'n tuiste in die SSA gevind het, sal die navorsings- en wetenskaplike vermoëns van die vasteland benut om plaaslike innovasies uit te bou en te kommersialiseer sodat Afrika op sy eie ontwikkelingsprioriteite kan reageer.

Die SSA ondersteun voorts die aktiwiteite van tematiese fakulteitsgebaseerde netwerke deur programme soos die Streeksuniversiteitsforum vir Vermoëbou in die Landbou (RUFORUM), die Vennootskap vir Afrika se Volgende Geslag Akademici (PANGeA) en die Afrikanetwerk vir Bewysgegronde Aksie oor Gestremdheid (AfriNEAD).

Die lede van die SSA-span is me Norma Derby, programbestuurder van Afrikavennootskapsontwikkeling; me Sue-Vicky Brandt, administratiewe beampte vir die ACG én finansiële administrateur van die kantoor; me Simohn Engelbrecht, projekkoördineerder van die AUDA-NEPAD CoE-STI; me Corina du Toit, programbestuurder van die SDG/2063 Hub; mnr Alberto Francioli, programbestuurder van die Periperi U-sekretariaat, en mnr Carinus de Kock, wat projekte in sowel Periperi U as AUDA-NEPAD SANWATCE bestuur. Die vaslegging van SSA-projekte op INTERINFO, 'n geïntegreerde inligtingstelsel vir internasionalisering, word ondersteun deur die SSA-projekassistent mnr Mujahid Gabier. Boonop sal interns me Mmanape Hlungwane en mnr Mhlengi Khambule, albei nagraadse US-studente, vir 2022/23 hand bysit met alle aktiwiteite.

Vir verdere inligting oor die SSA en sy werk, gaan na die US Afrika-platform.


CCA article1.jpg 

Ontwerp deur: Mmanape Hlungwane ​