Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldnatuurlewedag: VN bevorder volhoubare gebruik van bedreigde spesies
Outeur: Deborah Vorhies & Francis Vorhies
Gepubliseer: 03/03/2022

Donderdag (3 Maart) word Wêreldnatuurlewedag gevier. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick, skryf Deborah Vorhies en Francis Vorhies (Afrika Wildlewe-ekonomieë Instituut) oor hoekom die Verenigde Nasies die volhoubare gebruik van bedreigde spesies bevorder.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Deborah Vorhies en Francis Vorhies*

Vanjaar se tema van Wêreldnatuurlewedag op 3 Maart is “Terugwinning van sleutelspesies vir die herstel van die ekostelsel". Ter beklemtoning van hierdie belangrike tema, verklaar die Verenigde Nasies (VN) die volgende op sy amptelike Wêreldnatuurlewedag-webblad:

Mense oraloor maak op die natuur en biodiversiteits-gebaseerde hulpbronne staat om aan al ons behoeftes, van voedsel tot brandstof, medisynes, behuising en klerasie, te voldoen. Miljoene mense maak ook op die natuur staat as hulpbron vir hul bestaan en ekonomiese geleenthede.

Op Wêreldnatuurlewedag in 2022 gaan die debat in die rigting gestuur word van die dringende behoefte om die noodlot van die mees krities bedreigde spesies om te keer, om die herstel van hul habitatte en ekostelsels te steun en om hul volhoubare gebruik deur die mens te bevorder.

Dit mag taamlik ambisieus voorkom om die populasies van bedreigde spesies te wil vergroot, om hul habitatte te herstel en terselfdertyd ook die volhoubare gebruik van hierdie spesies te bevorder. Dit laat die volgende belangrike vrae onstaan: Is dit alles moontlik? Bedreig die bevordering van die gebruik van 'n spesie nie die bewaring daarvan nie? En sal dit nie meer doeltreffend wees om die gebruik van bedreigde spesies te verban eerder as om die gebruik daarvan te bevorder met die doelwit om hierdie gebruik volhoubaar te maak nie?

Waarom bevorder die VN dan gebruik om spesies te bewaar? Die aanhaling hierbo dui duidelik op een rede – miljoene mense maak op die natuur staat. Soos genoem, voorsien die natuur, wilde diere en plante ingesluit, in ons basiese behoeftes – voedsel, klere, skuiling, brandstof en medisynes. Die werklikheid is dat ons die natuur gebruik en dit is noodsaaklik om te verseker dat hierdie gebruik volhoubaar is, m.a.w. dat die gebruik nie nadelig is vir die oorlewing van die spesies nie.

Ten slotte …

Daar moet egter nog aansienlik baie werk gedoen word om 'n inklusiewe en volhoubare natuurlewe-ekonomie nie net in Suider-Afrika nie, maar regoor die vasteland te ontwikkel. Beleide en regulerende raamwerke is nodig om grondeienaars in staat te stel om landskappe te herstel en om hulpbronne in die natuur te gebruik wat ook inklusiewe bestaansgeleenthede en die verantwoordelike bestuur van die natuur verseker.

By die Universiteit Stellenbosch se Afrika Wildlewe-ekonomieë Instituut (AWEI) is ons daartoe verbind om pogings te ondersteun om die instaatstellende omgewing vir die natuurlewe-ekonomie regoor die vasteland aan te vul. Deur dít te doen, dra ons by tot VN se verbintenis om volhoubare gebruik te bevorder soos duidelik uiteengesit word in die liggaam se Volhoubare Doelwit 15:

Beskerm, herstel en bevorder die volhoubare gebruik van terrestriële ekostelsels, bestuur woude volhoubare, werk woestynvorming teë, bring gronddegradasie tot 'n stilstand en keer dit om en verhinder die verlies aan biodiversiteit.

Vanjaar is Wêreldnatuurlewedag 'n dag om die bydrae wat die gebruik van die natuur lewer om te verseker dat ontwikkeling volhoubaar is, te vier.

  • Klik hier om die res van die geplaasde artikel te lees.

*Me Deborah Vorhies is die bedryfshoof van die Afrika Wildlewe-ekonomieë Instituut by die Universiteit Stellenbosch. Prof Francis Vorhies is die direkteur van die instituut.