Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
CISU deel van ambassade se Chinese Nuwejaarsgeleentheid 2022
Outeur: Confucius Institute at Stellenbosch University
Gepubliseer: 16/02/2022

​Die Chinese ambassade in Suid-Afrika het op 28 Januarie 2022 'n virtuele Chinese Nuwejaarsgeleentheid aangebied om die 'Jaar van die Os' vaarwel toe te roep en die 'Jaar van die Tier' in te lui. Die Confucius Instituut by die Universiteit Stellenbosch (CISU) het op die ambassade se uitnodiging 'n video met Nuwejaarswense opgeneem (skermskoot langsaan), wat as deel van die vieringe vertoon is.​

Die Nuwejaarsgeleentheid, wat al die afgelope tien jaar aangebied word, is 'n vreugdevolle viering van die ontwikkeling van verhoudings tussen China en Suid-Afrika, en die verdieping van die vriendskap tussen die twee nasies. Vanjaar was daar ook boodskappe van voorspoed en sterkte vir die Winterspele 2022 in Beijing, wat op 4 Februarie begin het.

Ambassadeur Chen Xiaodong het in sy toespraak alle mede-Chinese, Chinese instellings, die studente en personeel van Confucius-institute sowel as vriende op alle vlakke in Suid-Afrika 'n voorspoedige nuwe jaar toegewens. President Cyril Ramaphosa het ook 'n videoboodskap opgeneem ter ere van die vriendskap tussen China en Suid-Afrika, en Nathi Mthethwa, Minister van Sport, Kuns en Kultuur, het 'n toespraak gelewer.